BORGE BOODSKAPPE
NAAMBORG: ABSA
Die Absa KKNK is sekerlik een van dié hoogtepunte op vanjaar se feeskalender en ons hoop die fees is vir alle betrokkenes ’n onvergeetlike ervaring. Absa is al nege jaar die hoofborg van die Absa KKNK en ons is trots op ons jarelange verbintenis. Dit bied ons nie net geleenthede om interaksie te hê met ons kliënte en ander rolspelers nie, maar bied ons ook ’n platform om ’n leidende rol in die ontwikkeling van die kunste in Suid-Afrika te speel.
Die Absa KKNK het ’n sigbaar positiewe impak op Oudtshoorn en omliggende gebiede. Absa is trots daarop om betrokke te wees by die positiewe veranderings in die Suid-Kaap. Ons verbintenis tot die ontwikkeling van die streek en sy mense is bewys van Absa se rol as verantwoordelike korporatiewe burger wat vooruitgang en werkskepping voorop stel. Absa glo daarin om vennootskappe te smee, want samewerking is een van die hoekstene van ons sukses.
Suid-Afrika is ’n diverse gemeenskap en Absa verstaan die diversiteit van sy gemeenskappe en hul behoeftes. Dus glo ons vanjaar se fees behoort in almal se smaak te val. Die Absa L’Atelier-kunskompetisie is nou reeds in sy 28ste bestaansjaar en behoort ’n trekpleister vir alle kunsliefhebbers te wees. Die Absa Wynsaal met sy verskeidenheid wyne van die streek se beste wynplase sal beslis feesgangers lok, en die KooWee Kinderhoekie, in samewerking met kykNET, sal vir ouers ’n veilige plek bied waar hulle hul kinders onder toesig van opgeleide personeel kan laat. Die Absa KKNK gaan jaarliks van krag tot krag met ’n al groter wordende verskeidenheid produksies en kunstenaars en Absa is trots om geassosieer te word met ’n fees wat aanhou poog om die diversiteit van Suid-Afrika te weerspieël.
Die Absa KKNK se slagspreuk is “Die kunste kom bymekaar”, maar vir Absa gaan dit om meer as net hierdie slagspreuk. Ons skep geleenthede vir Suid-Afrikaners en hul onderskeie gemeenskappe om bymekaar te kom en om vennootskappe te skep wat die hele land kan bevoordeel.
Soos wat mens uit die program kan aflei, beloof Absa KKNK 2013 ’n week propvol van die land se beste kunste en vermaak en ons spreek ons waardering uit aan elke kunstenaar, musikant, akteur en feesganger wat deel uitmaak van hierdie wonderlike fees!
Willie Lategan
Uitvoerende Hoof:
Absa Finansiële Dienste
STIGTERBORG MEDIA24
Dis Media24 se 19de jaar as stigterborg van die Absa KKNK — en hoe heerlik om vanjaar weer deel van die fees te wees. Baie geluk aan die organiseerders, kunstenaars, mede-borge en die plaaslike gemeenskap wat die Absa KKNK oor die jare so ’n hoogtepunt op die Afrikaanse kuns- en vermaakkalender gemaak het. En sterkte vir vanjaar!
Vir almal wat in Oudtshoorn saamtrek is dit ’n kans vir nuwe ervaringe, ontspan, kuier, saampraat, dink – in Afrikaans. Die kunste, in al sy vorme, vermaak nie net nie maar dien ook as ’n belangrike spieëlbeeld en rigtingwyser van ons samelewing. Dis hoekom ’n mens die Klein-Karoo na elke jaar se fees met ’n moeë maar tevrede sug groet, tot die volgende jaar. Want dis padkos vir die siel.
Media24 se publikasies is vanjaar weer met hart en siel deel van die fees. Kom groet en gesels, en geniet alles - van Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks tot Huisgenoot se drie aandkonserte by die Huisgenoot-Musiekplaas. En maak beslis ’n draai by die Media24-hoek langs die C.P. Nel-museum. Dis weer ’n saamkomplek vir lesers waar jy jou gunsteling-tydskrifte kan koop, kan ontspan met ’n glas wyn in die hand, en saam met die mense van onder meer Weg, Huisgenoot en Die Burger kan kuier. En die feeskoerant Krit, wat onder die vaandel van Die Burger uitgegee word, sal jou soos altyd op hoogte hou van al die feesnuus.
Namens Media24, hartlik welkom by Absa KKNK 2013. Mag dit ’n verrykende ervaring wees.
Esmaré Weideman
Uitvoerende Hoof
Media24
PREMIERBORG BRANDHOUSE (WINDHOEK LAGER)
Die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees is sekerlik een van die hoogtepunte van die Suid-Afrikaanse kunstekalender en is ’n viering van ons land se mees inspirerende en talentvolle kunstenaars en vermaaklikheidsterre.
Dit is dus gepas vir Brandhouse om ’n trotse borg van die geleentheid te wees, en veral vir een van ons voorste handelsmerke, Windhoek Lager, om dit te ondersteun.
Om getrou te bly aan die beginsels van die handelsnaam se stigters, wil Windhoek individue van dieselfde kaliber – dié met ruggraat en waagmoed wat daarin glo om getrou te bly aan hulself - erkenning gee.
Dit is met hierdie vooruitsig dat ons uitsien na hierdie jaar se Absa KKNK – ’n fees van mense wat van die regte stoffasie gemaak is, ondersteun deur ’n bier wat van die regte bestanddele gemaak is.
Dit is die vierde jaar dat ons die trotse borge van die Absa KKNK is, en ons sien daarna uit om in die jare vorentoe steeds in vennootskap met hierdie fees te wees.
As een van die voorste drankmaatskappye in Suid-Afrika, is Brandhouse bewus van die somtyds negatiewe rol wat alkoholmisbruik ter viering in die lewe van verbruikers kan speel. Ons wil dus feesgangers ’n fantastiese fees toewens, maar vra dat hulle hul alkohol op ’n verantwoordelike wyse moet geniet.
Dankie vir almal wat by hierdie jaar se Absa KKNK- beplanning betrokke was – ek wens jullle alles van die beste vir ’n uiters suksesvolle fees toe.
Gavin Krenski
Bemarkingsdirekteur
Brandhouse Beverages (Pty) Ltd.
PREMIERBORG HUISGENOOT
Dis nou al ’n week dat ek besig is om my besprekings vir die Absa KKNK op ’n Excel-dokument rond te skuif. Net wanneer ek tevrede is ek kry genoeg gesien en ek sal die volgende saal kan haal sonder om ’n been te breek of ’n spoedgrens te oortree, pieng my vriende se lysies van moetsien-stukke in my inbus. En dan begin ek maar weer van voor af. Die dilemma van ’n feesverslaafde!
Wat ’n vreugde is dit nie vir Huisgenoot om terug in die Karoo te wees nie. Vanjaar het ons besluit om dinge ’n bietjie anders te doen: met kwaliteit eerder as kwantiteit. Op die eerste drie aande van die fees behoort elke aanhanger van Afrikaanse musiek dus nêrens anders te wees as by die Huisgenoot-Musiekplaas op die Oudtshoorn-sportterrein in Voortrekkerweg nie. Ál die groot name is daar.
Boonop het ons eksklusief vir feesgangers ’n baie spesiale aanbod: Kom koop jou Huisgenoot-Skouspelkaartjies teen 10 persent afslag by ons Huisgenoot-tent op die Media24-terrein op die hoek van Baron van Reede en Voortrekkerstr. Vanjaar het ons weer twee Skouspelle: by Sun City in die eerste twee naweke van Oktober, en in Kaapstad by die GrandWest Casino op 13 Julie.
Geniet jou fees. Ek hoop jou hart en jou kop is met jou terugkeer huis toe propvol Afrikaans, inspirasie en lekkerte – nes my Excel-dokument.
Geniet die fees! Ons sien uit daarna om saam met julle te kuier.
Izelle Venter
Hoofredakteur
Huisgenoot
PREMIERBORG kykNET
Die Afrikaanse kunstebedryf is grootliks gesetel in die netwerk van Kunstefeeste. Die Kunstefeeste het nou groter bestaansuitdagings as ooit van tevore en die lojaliteit van feesgangers, kunstenaars, borge en die gemeenskappe waarin dit aangebied word, is van kardinale belang. Feeste sal hulle moet wend tot groter sinergie en samewerking met mekaar, gedeelde belange wat infrastruktuur en logistieke bronne insluit om koste-effektiwiteit en volhoubaarheid te verseker. Vernuwing en groei kan net gebeur as dit met agneming van die gehore plaasvind. Ons moet ons gehore en kykers innoverend bly verras. Die ondersteuning van ’n kaartjiekopende publiek maak nuwe hoogtepunte en mylpale moontlik.
kykNET is nou ’n familie van Afrikaanse kanale – kykNET, kykNET&kie, kykNETmusiek en MK. Ons is baie bevoorreg om ’n skeppende en kreatiewe bydrae te kan lewer in die Afrikaanse landskap – wat televisie, film, teater- en die musiekbedryf betref. Die vier kanale maak Afrikaanse televisie-inhoud vir meer kykers toeganklik. Ons belê in die uitbouing van Afrikaans deur projekte soos die Silwerskermfilmfees waarin die filmbedryf byeen gebring word om samewerking te bevorder en geleenthede te skep. By die jaarlikse Fiestas vereer ons uitmuntende werk wat op feesverhoë plaasvind en huldig diegene wat uitsonderlike bydraes gemaak het. Ons stig die Ghoemas Afrikaanse Musiektoekennings as ’n onafhanklike musiektrust waarmee ons die Afrikaanse musiekbedryf wil bly stimuleer en inspireer en met die MK Awards gee ons ’n platform vir nuwe bands, alternatiewe en rockmusiek kunstenaars. Die impak van die feeste op ons kunste, kultuur en musiek bly verstommend en daarom pak ons vanjaar, soos in die verlede, die Absa KKNK met groot ywer en lojaliteit aan.
Die Absa KKNK bly vir kykNET ’n belangrike samekoms van Afrikaanse gesinne en kykNET kykers. Kom kuier saam by die kykNET Hoërskoolsaal en op die feesterrein. Dis heerlik om te deel in die wonder en groei van Afrikaans.
Karen Meiring
Hoof van Afrikaanse Kanale
M-Net
SENIORBORG DIE BURGER
Glo dit as jy wil, die Absa KKNK word aanstaande jaar twintig. Twee dinge staan uit wanneer ’n mens terugkyk oor dié twee dekades: Hoe die Absa KKNK gehelp het om die kunste in Suid-Afrika uit te bou, asook die wyse waarop dié fees help om Afrikaans as inklusiewe taal te vestig.
Kyk maar net na vanjaar se feesprogram. Op die verhoog is Afrikaans die draer van enigiets van ’n drama oor die Afrikaner-kommunis Bram Fischer tot ’n komedie oor die Afrikaanse strokieskarakters Ben, Babsie en Familie. Jy kan gaan luister na enigiets van Afrikaanse hip-hop tot Chris Chameleon (saam met die Suid-Afrikanse kinderkoor) en die legendariese Amerikaanse groep The Drifters. Daar is “tradisionele” stukke soos die Van Aardes van Grootoor. Kaktus op die Vlaktes maak ’n welkome terugkeer… iets vir almal.
Die Absa KKNK gooi elke jaar sy deure wyer oop, maar sonder om hierdie “moederfees” se unieke karakter af te water. Die fees word tegelykertyd al hoe meer gemeenskapsgerig én wêreldgerig. Die Absa KKNK is waar jy na Suid-Afrika se voorste kunstenaars kan kom kyk en luister, maar waar jy ook ’n nuwe talent gaan teëkom en debuutwerke kan ervaar.
Die Burger is trots op sy verbintenis – letterlik van dag een af – met die fees. Dit is heerlik om elke jaar sak en pak Oudtshoorn toe te kom en in die hart van ons verspreidingsgebied met ons lesers te gesels.
Geniet die fees saam met Die Burger!
Bun Booyens
Redakteur
Die Burger
SENIORBORG RSG
RSG se deelname aan die jaarlikse Absa KKNK op Oudtshoorn is een van ons hoogtepunte op ons kalender. Vanjaar is ons weer hier. In geel getooi voor die C.P. Nel-museum. Kom kuier by ons en geniet al die sangers en gesels van die RSG-verhoog af. En as jy nou nie eintlik lus is vir die singery nie, kom besoek in elk geval ons nuwe RSG-karavaan……hoog tyd na 18 jaar se feesvieringe en getroue diens, sou ek dink. RSG-omroepers gaan daar wees, ons gaan van ons programme regstreeks uitsaai en daar gaan musiekkonserte wees wat ook regstreeks uitgesaai word.
In die Beiteltjie, in die museum, het ons soos altyd interessante en aangename luisterstof uit RSG se argief die afgelope paar jaar. Daar’s drama’s, dokumentêre programme en ander kunsaanbiedinge.
Maar die lekkerste en belangrikste is dat ons weer met luisteraars kan kontak hê en gesels. So, ons wag vir julle. Kom ontspan onder die geel sambrele voor die RSG-verhoog.
Ons gelukwense ook aan die Absa KKNK wat na soveel jaar steeds sterk staan in die feeste-wêreld en steeds daarin slaag om vernuwende produksies en werk te genereer. En as ’n bonus, ’n lekker kuier-atmosfeer.
Geniet die fees en moenie nalaat om by RSG te kom kuier nie.
Magdaleen Krüger
Stasiebestuurder
RSG
SENIORBORG ATKV
Die 2011-sensus toon aan dat Suid-Afrikaners wat Afrikaans as huistaal gebruik, sedert die vorige sensus toegeneem het. Verder dat mense wat Afrikaans verstaan en praat, ’n beduidende deel van die totale Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak. Dit maak dat Afrikaans sterk staan as medium om te kommunikeer, te vermaak en te versoen.
Kunstefeeste in Suid-Afrika het ’n instelling geword. Afrikaanse kunstefeeste verskaf daardie welkome bron van nuutgeskepte werk en belewing wat voorheen hoofsaaklik deur streeksrade en nasionale instellings gedoen is.
Die Absa KKNK is die moeder van Afrikaanse kunstefeeste en stel weer eens nie teleur nie. Die program en voorsmake van wat daar gaan gebeur is deksels opwindend!
Die ATKV ondersteun die kunste as een van sy hoofkultuurfokusse. Daarom is dit vir ons belangrik om met die Absa KKNK geassosieer te word. Ons is trots op die ATKV se betrokkenheid by die 2013-fees en veral op ons teenwoordigheid by die ATKV-Neelsie Teater by Arbeidsgenot. Kyk gerus uit na die uitmuntende produksies wat daar aangebied word.
Ons ontmoet mekaar daar in die Karoo! Voorspoed vir ’n heerlike fees!
Japie Gouws
Besturende Direkteur
ATKV-groep
SENIORBORG SON
SON en Son op Sondag is sinoniem met die kunste en veral musiek. Sedert ons ontstaan het Son bekendheid verwerf vir die manier waarop hy plaaslike kunstenaars ondersteun en selfs help om bekendheid te verwerf.
Daarom is Son trots daarop om vanjaar weer ’n borg van die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees te wees – spesifiek die Son Bash Top 40-verhoog. Son is die land se topverkoper- Afrikaanse dagblad en dit is vir ons ’n voorreg om ons verjaarsdagvieringe by die Absa KKNK, wat hom oor die jare gevestig het as een van die grootste kunstefeeste in die land, af te skop.
Omdat Son ’n koerant vir die mense is, is dit vir ons belangrik om te help om die Absa KKNK uit te bou tot ’n ware fees vir alle mense – ’n fees waar Suid-Afrikaners lekker kan meng en in mekaar se kulture kan deel. Die Son Bash Top 40-verhoog spog met van die land se beste kunstenaars en hopelik sal hul optrede by die fees hul gewildheid laat toeneem in markte wat voorheen nie so ontvanklik was vir hul musiek nie. Son het oor die jare besonderse bande opgebou met verskeie van die kunstenaars soos Claire Phillips, Koekie, The Rockets, Karin Kortjé, Zayne Adam en Die Bakgat Boys. Voeg daarby name soos Dr. Victor and the Rasta Rebels en Emo Adams en ’n mens kan sommer sien waarom die Son Bash Top 40-verhoog dié plek is om te wees gedurende Absa KKNK 2013!
Die Son Big Bash op Vrydag 5 April beloof om ’n absolute hoogtepunt van die fees te wees vir musiekliefhebbers en sal ’n gepaste afsluiting tot ’n week van musikale genot wees.
Geniet dit!
Andrew Koopman
Hoofredakteur
Son en Son op Sondag
REGERINGSVENNOOT: WES-KAAPSE REGERING
Die Klein Karoo is ’n pragtige, bekoorlike deel van die Wes-Kaap en die tuiste van ’n wye reeks kulture, elk met ’n ryk geskiedenis. Die omgewing is een van verstommende kontraste, een wat ’n natuurlike verskeidenheid lewer. Dis daarom die ideale bymekaarkomplek vir die kunste. Vanjaar, vir die neëntiende keer, bied die Absa KKNK ’n verhoog aan sangers, akteurs, musikante, dansers en ander kunstenaars.
Die Wes-Kaapse Regering is ’n trotse borg van die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Ons glo dat kuns en kultuur onlosmaaklik deel van elke samelewing is. Dis deel van die erfenis wat ons aan ons nageslag nalaat. Divers, dog saamsnoerend. ’n Skildery, toneelstuk, lied of gedig kan vir vele geslagte relevant wees, vir dekades ’n storie oor die aard van ’n samelewing vertel. ‘Omgee’ is een van die waardes wat die Wes-Kaapse Regering voorhou. Die kunste en verskeie kulture in ons provinsie, en in Suid-Afrika, maak deel uit van die dinge waaroor ons omgee. Die Wes-Kaapse Regering steun sodoende graag die Absa KKNK, ’n platform waar mense die rykdom en verskeidenheid van hul erfenis kan vier.
Te oordeel aan die program, is die volgende paar dae met ’n heerlike verskeidenheid vertonings en vele ander kunsverwante interessanthede gevul. Dit beloof om ’n fees van formaat te wees. Baie geluk aan die organiseerders van die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees en hartlik welkom aan almal wat dit bywoon. Geniet die fees!
Helen Zille
Premier
Wes-Kaap
REGERINGSVENNOOT OUDTSHOORN MUNISIPALITEIT
Hiermee verwelkom ek u in ons pragtige dorp as ons besoekers by die 19de Absa KKNK. Oudtshoorn bly Suid-Afrika se leidende kunste- en vermaaklikheidsbestemming wat deur die aanbieding van ’n verskeidenheid produksies die diversiteit van ons land weerspieël.
Die fees het oor die jare gegroei tot ’n wêreldbekende gebeurtenis en is een van ons dorp se grootste ekonomiese katalisators. Met die groeiende fokus in Suid-Afrika op werkloosheid en ekonomiese ontwikkeling, het ons Raad in vennootskap met die Besigheidskamer, die gemeenskap, sowel as die Absa KKNK, ’n plan saamgestel wat die dorp ekonomies sal bevorder. Hierdie langtermynvisie (Vision 2030) voorsien ons van ’n gedeelde fokus om volhoubare werksgeleenthede in Oudtshoorn te bevorder. Die strategie identifiseer ook verskeie investerings met moontlikhede vir beleggers. Ek wil u graag uitnooi om hierdie moontlikhede te ondersoek.
Die ontwikkeling van die dorp as kunste-spil bring verskeie moontlikhede mee. Gevolglik is die groei van die Absa KKNK, asook die ontwikkeling van ander feeste en gebeurtenisse, belangrik vir die ontwikkeling van die sektor op volhoubare wyse. Die oplossing tot werkloosheid is die ontwikkeling van entrepreneurskap waarvan hierdie strategie verskeie moontlikhede identifiseer. Oudtshoorn sal die groeipunt word van toerisme, kuns, landbou, industriële ontwikkeling en opleiding.
Ek wil graag die bestuur en personeel van die Absa KKNK bedank vir hul harde werk, asook die borge wat verseker dat die fees jaarliks plaasvind, die Munisipale Raad vir die finansiële ondersteuning, asook ons amptenare wat hard werk om die fees effektief te laat funksioneer. Die munisipaliteit as vennoot van die fees wil u weereens verwelkom en hoop u geniet die gasvryheid van ons dorp.
Raadsheer Gordon April
Uitvoerende Burgemeester
Groter Oudtshoorn