KOMPETISIE VIR DIE ONTWERP VAN NUWE KANNA-BEELDJIES
Uitnemende werk is sedert die Absa KKNK se ontstaan 19 jaar gelede op verskillende platforms by die fees beloon, totdat die Kanna-toekennings in 2001 geskep is as dié platform vir die erkenning en verering van topgehalte werk in verskillende genres by die fees. Die Absa KKNK is met hierdie ontwerpkompetisie op soek na ’n kunstenaar wat die beeldjies vir die volgende drie jaar kan ontwerp en vervaardig vir hierdie gesogte toekenningsgeleentheid.
Riglyne
- Alle visuele kunstenaars (beide opkomend en gevestig) word uitgenooi om deel te neem aan die kompetisie.
- Visuele voorstelle en konsepontwerpe moet elektronies teen 3 September 2012 aan die Absa KKNK se programbestuurder, Theo Kemp, gestuur word na tkemp@kknk.co.za Voorstelle kan ook per pos gestuur word na Absa KKNK, 3de vloer, Seppie Greeff-gebou, Voortrekkerweg, Oudtshoorn.
- Daar is geen inskrywingsgelde of beperking op die aantal inskrywings per kunstenaar nie.
- Die kunstenaar moet die voorstel-ontwerpe vir die Kanna-beeldjies van die volgende drie jaar se Kanna-toekennings in die aansoek insluit.
- Die aansoek moet verder vergesel word van ’n begroting vir die vervaardiging van die Kanna-beeldjies.
- Die kunstenaar ontvang R10,000 vir die wen-ontwerp en ’n kontrak om die Kanna-beeldjies vir Absa KKNK 2013 tot 2015 te vervaardig.
-
Die kriteria vir die suksesvolle Kanna-ontwerp behels die volgende: -
- Die beeldjie moet die doelstellings van die Kanna-toekennings vergestalt, naamlik om uitnemendheid in die kunste en al haar vorme te vier. Sien asseblief meer inligting oor die doelstellings en agtergrond van die Kanna-toekennings in die onderstaande paragrawe.
- Die beeldjie moet tussen 30 en 50 cm hoog wees en maklik hanteerbaar wees
- Die beeldjie moet gemaak word uit natuurlike materiale en moet maklik en bekostigbaar vervaardigbaar wees.
- Die kunstenaar moet sowel die ontwerp as die vervaardiging van die beeldjies hanteer
-
Daar sal van die kunstenaar verwag word om tussen 14 en 20 Kanna-beeldjies per jaar te vervaardig. Hierdie beeldjies word toegeken as i) Kanna-toekennings aan die beste kunste-prestasies by die Absa KKNK; ii) Afrikaans Onbeperk-toekennings aan Afrikaanse skrywers vir onderskeidelik lewensbydrae tot die letterkunde, vernuwende denke en aan belowende nuwe stemme; en iii) Kuns Onbeperk-toekennings aan individue wat besonderse dienste aan die kunste gelewer het; asook aan individue wat nie net in die Suid-Afrikaanse kunste uitstaan nie, maar op ’n internasionale vlak hul merk gemaak het. Alhoewel die ontwerp vir hierdie beeldjies in die verskeie kategorieë verskillend kan wees, moet die werke as eenheid herken kan word.
Agtergrond oor die huidige Kanna-toekennings
Die Kanna-toekennings speel 'n groot rol in produksiehuise se verdere bemarking van die bekroonde produksies en in ander feeste se belangstelling in dié werke. Die Kanna-toekennings word jaarliks bepaal deur ’n paneel kundiges wat op nasionale vlak betrokke is by die verskeie kunsgenres. Hierdie paneel woon die fees by om alle debuutproduksies te beoordeel, te bespreek en uiteindelik op ’n deursigtige wyse te bepunt. Volgens hierdie puntestelsel word daar in elke Kanna-kategorie drie nominasies aangewys. Die wenner word met punte bepaal.
Die kategorieë van Kanna-toekennings is as volg
- Kanna vir Beste Teater-aanbieding (sluit ook dansteater in)
- Kanna vir Beste Akteur
- Kanna vir Beste Aktrise
- Kanna vir Beste Musiekproduksie (Kontemporêre Musiek en Musiekteater)
- Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering
- Kanna vir die Beste Regie (oor alle genres)
- Kanna vir Beste Visuele Kuns-aanbieding
- Kanna vir die Beste Debuutwerk (oor alle genres)
- Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar (oor alle genres)
- Herrie Kanna vir kopsverskuiwende werk (oor alle genres)
Tydens die Kanna-toekennings word nie net pryse toegeken aan presteerders op die fees nie, maar vier die Absa KKNK jaarliks ook die skeppendheid van Afrikaans in al haar vorme, die vreeslose verkenning van onontgonne onderwerpe en temas, en werk wat ’n tuiste in eie taal skep vir almal wat in Afrikaans droom en doen. Om hierdie rede ken die fees sedert sy ontstaan in 1995 die Afrikaans Onbeperk-toekennings toe aan persone wat die leefwêreld van Afrikaans verruim en verryk. Sedert 2000 word dit in twee kategorieë gedoen: Lewensbydrae en Vernuwende Denke. Die Direksie van die Absa KKNK het die kategorie vir Vernuwende Denke in 2011 gewysig tot 'n Nuwe Stem, om die besonderse prestasies van opkomende Afrikaanse skrywers te vier. Bykomend tot die Afrikaans Onbeperk het 'n behoefte ontstaan aan die verering van kunstenaars wat vertolkend eerder as skeppend optree. Van 2005 tot 2009 is die Spesiale Kanna vir 'n Lewensbydrae in Klassieke Musiek toegeken en in 2010 word die toekenning verbreed tot vertolking in enige genre.
Die Afrikaans Onbeperk-toekennings lyk as volg: -
| Jaar |
Lewensbydrae |
Vernuwende denke |
Jong Stem |
| 1995 |
Adam Small en Jan Rabie |
- |
|
| 1996 |
Elsa Joubert en Andre P Brink |
- |
|
| 1997 |
Daantjie Saayman en David Kramer |
- |
|
| 1998 |
Jeanne Goosen |
- |
|
| 1999 |
Katinka Heyns |
- |
|
| 2000 |
Nico Carstens |
Etienne van Heerden |
|
| 2001 |
Eghardt van der Hoven |
Deon Opperman |
|
| 2002 |
PG du Plessis |
Hein Willemse |
|
| 2003 |
Jans Rautenbach |
Marthinus Basson |
|
| 2004 |
Hennie Aucamp |
Antjie Krog |
|
| 2005 |
Audrey Blignault |
Anthony Wilson |
|
| 2006 |
Nerina Ferreira |
Diana Ferrus |
|
| 2007 |
Wilma Stockenstrom |
Marlene van Niekerk |
|
| 2008 |
Pieter de Villiers en Patrick Petersen |
Hendrik Hofmeyr |
|
| 2009 |
Johan Degenaar |
Reza de Wet |
|
| 2010 |
Pieter Fourie |
- |
|
| 2011 |
Karel Schoeman |
Ingrid Winterbach |
|
| 2012 |
Abraham H de Vries |
- |
Ronelda S Kamfer |
Spesiale Kanna vir Vertolking is as volg toegeken: -
| 2005: |
Marietha Napier (dit was hierdie gevierde internasionale sopraan se eerste toekenning op eie bodem) |
| 2006: |
Emma Renzi (sopraan) |
| 2007: |
May Abrahamse (sopraan) |
| 2008: |
Nellie du Toit (sopraan) |
| 2009: |
Mimi Coertse (sopraan) |
| 2010: |
Cobus Rossouw (akteur) |
| 2011: |
Wilna Snyman |
| 2012: |
Louis van Niekerk |