
AGTIENDE ABSA KKNK PROGRAM BEKEND
Die Absa KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) het vandag (18 Januarie 2012) die program vir vanjaar se fees in Kaapstad bekendgestel. Dit sal vanjaar die agtiende keer wees wat die fees op Oudtshoorn, in die Klein Karoo, aangebied word.
Uitvoerende hoof van die Absa KKNK, Brett Pyper, sê vanjaar se fees beloof om voort te bou op die suksesse van die vorige byna twee dekades. “Die kunstefees op Oudtshoorn bied, soos altyd, kuns, vermaak en feestelike geselligheid in oorvloed. En in ’n jaar waarin daar meer as genoeg drama op die wêreld se ekonomiese verhoog ervaar is, het die Feesbestuur en verskeie vennote saamgespan om die fees bekostigbaar te hou. Die kaartjiepryse van die Rivierbuurt bly byvoorbeeld vanjaar presies dieselfde as verlede jaar, met die ouderdom vir gratis toegang wat verhoog word van 12 tot 15 jaar oud. Van die gratis aanbod by die fees sal die baie gewilde en kleurvolle Klein Karoo Feesparade, saam met verskeie ander projekte as deel van die Fees van geleenthede, feesgangers vermaak,” sê Pyper.
Lees Meer …
Groot toneel hoogtepunte by die Absa KKNK 2012 te wagte
Die agtiende Absa KKNK vier weer die verskeidenheid van die kunste in die week van 31 Maart tot 7 April 2012, met groot toneel hoogtepunte wat die verbeelding sal aangryp.
Toneelliefhebbers kan uitsien na Nicola Hanekom se derde buitelugproduksie, Babbel, wat handel oor die nadraai van ’n revolusie waar taal verval en chaos tot gevolg het. Hanekom se bekroonde span, onder wie Tinarie van Wyk Loots, Brendon Daniels, Stian Bam, Bronwyn van Graan, Jacques Theron, Neels van Jaarsveld, Charisma Baday en Lerato Motshwarakgole is in hierdie sterk visuele teaterstuk, wat hierdie keer op ’n bult in Oudtshoorn afspeel, te sien. Hanekom se vorige toneelproduksies, Betésda in 2010 en Lot in 2011, is gesamentlik met ses Kanna- en twee Fiësta-toekennings bekroon.
Lees Meer …
Op Toer bereik vanjaar plaaswerkers en matrieks
Absa KKNK Op Toer, een van die Absa KKNK se jaarlikse uitreikprogramme, is op 10 November 2011 by die Schoemanshoek NG Kerk bekend gestel. Vanjaar se Absa KKNK Op Toer fokus op die gevare van drankmisbruik in veral arm, landelike gemeenskappe.
Om dié boodskap tuis te bring gaan die Kambro Diggers-toneelgeselskap vir die volgende drie maande die toneelstuk, Klaas se Plaas, op plase in die Klein Karoo opvoer. Projekleier van die Kambro Diggers, William Phillipus, sê hulle beoog met Klaas se plaas om gehore te skok. “Ons moet dit by mense tuisbring dat drankmisbruik gevare en gevolge inhou,” sê Phillipus. Hy sê verder is dit ook een van hul doelwitte om mense in landelike gebiede te laat glo hulle is belangrik in die groter Suid-Afrikaanse samelewing.
Lees Meer …
NUWE BEMARKING- EN KOMMUNIKASIEBESTUURDER SLUIT BY ABSA KKNK AAN
Brenden Ruiter, ’n boorling van Namakwaland, het hom op 1 November 2011 as Bemarking- en Kommunikasiebestuurder by die Bestuurspan van die Absa KKNK aangesluit. Ruiter het sy joernalistieke loopbaan as studentjoernalis by Die Burger in Kaapstad begin, waarna hy wye draaie in die joernalistiek gemaak het. Hy het ondermeer by die Media24-publikasies die TygerBurger, Die Burger Oos-Kaap, Sondag en die tydskrif Kuier gewerk. Voordat hy die pos in Oudtshoorn aanvaar het, was hy ’n sportverslaggewer en sportnuusleser vir OFM in Bloemfontein.
Lees Meer …
Absa KKNK kry nuwe kurator van Visuele Kuns
Sandra Hanekom, visuele kunstenaar van Piketberg, is aangestel as die nuwe Kurator van Visuele Kuns by die Absa KKNK.
“Ek voel baie gevlei en opgewonde oor die moontlikhede wat die Absa KKNK aan my as kurator bied. 'n Feeskurator is ’n kurator vir beide die publiek en kunstenaars, wat dit ’n baie uitdagende posisie maak”, vertel Hanekom. Sy beskou kuns as haar besigheid en erns. “Hierdie is nie net nog ’n projek van my nie, hierdie is dié projek waar ek my reputasie moet behou en ook daaraan moet bou. Kunstefeeste is uiters belangrik vir gevestigde kunstenaars en vir jong, opkomende kunstenaars bied feeste die geleentheid om op ’n nasionale platform uit te stal.”
Lees Meer …
Absa KKNK 2012 Program: Oproep om voorstelle
Produksiehuise, kunstenaars en ander kunste-praktisyns kan nóú voorstelle indien vir optredes by die 18de Absa KKNK, wat van 31 Maart tot 7 April 2012 op Oudtshoorn aangebied word.
“Die Absa KKNK verwelkom voorstelle in 'n verskeidenheid van genres, waaronder drama, dans, musiekteater, musiek en visuele kuns, maar is veral ook geïnteresseerd in voorstelle wat by ons program van plek-spesifieke teater, Oudtshoorn Oraloor, ingesluit kan word; wat die sigbaarheid van ons kunsteprogram op straat verhoog en wat werk met temas wat die diversiteit in Afrikaans uitbeeld,” sê Brett Pyper, Uitvoerende Hoof van die fees.
Lees Meer …
Laetitia van Dyk nuwe Voorsitter van Absa KKNK
Prof. Laetitia van Dyk is op 12 Mei 2011 eenparig tot voorsitter van die Absa KKNK se raad van direkteure verkies. Sy is tans hoof van die Sentrum vir Leierskapstudies by die Bestuurskool van die Universiteit Stellenbosch (US) en sal vanaf 1 Junie 2011 die voorsitter van die Departement van Ondernemingsbestuur aan dieselfde universiteit wees.
Prof. van Dyk, wat sedert 24 November 2006 op die direksie van die Absa KKNK dien, sê sy sien baie uit na haar nuwe rol by die fees. “Die Absa KKNK lê my na aan die hart en dit is vir my 'n voorreg om die leidende rol wat dié kunstefees oor die afgelope 17 jaar speel, verder uit te bou. Die kunste kom bymekaar by die Absa KKNK en oor die volgende jaar sal dit my fokus wees om met al ons verskillende rolspelers te besin oor die bevordering van die kunste.”
Lees Meer …
Absa KKNK 2011: hanekom en span maak wéér skoonskip
Nicola Hanekom en haar buitelugproduksie, Lot, is - soos verlede jaar die geval was met Betésda - met drie gesogte Absa KKNK Kanna Toekennings bekroon. Die drie pryse vir Lot sluit in die Kanna vir die beste aanbieding, 'n bekroning vir Hanekom se regie van Lot én een as beste vroulike kunstenaar. Laasgenoemde Kanna sluit ook haar spel in Hennie van Greunen se toneelproduksie, WEES, in.
Lees Meer …
ABSA KKNK en Remgro bewaarheid drome in die Eden distrik
Twee belowende jong kunstenaars vanuit die Eden Distriksmunisipaliteit se drome is bewaarheid, nadat hulle aangewys is as die ontvangers van die Absa KKNK se Remgro-beurs ter waarde van R50 000 elk, ter bevordering van hul loopbane in die kunste.
“Dié beurs gee my 'n kans om 'n tree nader aan my droom te gee”, vertel Sulayman Human, 'n pianis van Oudtshoorn, wat volgende jaar aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Bradley Zeelie, 'n danser van George wat volgende jaar aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer, beskryf die beurs as sy deurbraak in die lewe. “Ek kry die geleentheid om my droom uit te leef en 'n sukses van my lewe te maak.”
Lees Meer …