Absa KKNK
Nuus

Brümmer wen Absa KKNK en dagbreek trust tekskompetisie

23 Augustus 2012

Willemien Brümmer, bekroonde joernalis, skrywer van die kortverhaalbundel Die dag toe ek my hare losgemaak het en agterkleindogter van CJ Langenhoven is as die eerste wenner van die Absa KKNK en die Dagbreek Trust se tekskompetisie aangewys. Brümmer het gewen met haar voorstel Aandlied.

Dié kompetisie is oopgestel aan alle skrywers – gevestig en opkomend - met die doel om nuwe Afrikaanse dramaturgstemme te ontgin. Brümmer is joernalis by Die Burger, Beeld en Volksblad se bylaag By en is vanjaar die Rykie van Reenen-genoot aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy in die joernalistiek klasgee. Sy is al verskeie kere vir haar werk as joernalis bekroon, maar dit is die eerste keer dat sy haar hand aan ’n verhoogteks waag.

Brümmer se voorstel is uit oor die 50 aansoeke gekies deur ’n paneel wat bestaan het uit die Programbestuurder van die Absa KKNK, Theo Kemp, bekende regisseur Alwyn Swart en die bekroonde dramaturg Saartjie Botha. Swart het in sy terugvoer oor Brümmer se voorstel gesê sy plaas jou sommer dadelik midde-in ’n drama. “Haar taalgebruik is ryk en evokatief. Die karakters word verbeeldingryk geskep en dien hulle doel om haar komplekse tema deur handeling en opwindende beelde uit te beeld – nie net met dialoog nie. Daar is ook alreeds 'n gevoel van dramatiese ontwikkeling en struktuur,” sê Swart.

Ingevolge die reëls van die kompetisie ontvang Brümmer R50 000 in kontant en gaan sy haar voorstel saam met die gesoute dramaturg Schalk Schoombie tot 'n volwaardige teks ontwikkel, wat in die toekoms by die Absa KKNK opgevoer gaan word. Aandlied handel oor ’n moord op ’n plaas waar die Afrikaanse gesinstruktuur blootgelê word. Brümmer sê die verhaal, losweg gebaseer op onlangse nuusgebeure, het onmiddellik haar verbeelding aangegryp. “Wat my boei aan die onderwerp, is die grysgebied waar persoonlike politiek (noem dit hartspolitiek), familiepolitiek en landspolitiek bymekaarkom in ’n land soos Suid-Afrika waar ons almal bloots gery word deur geweld. Watter rol speel die geskiedenis – nie net in plaasmoorde nie, maar ook in gesinsmoorde? En wat is die verskil tussen die anatomie van ’n plaasmoord en dié van ’n gesinstreurspel?” vra Brümmer.

Sy het gesê sy is oorstelp van vreugde, aangesien sy nog altyd haar hand wou waag aan 'n dramateks, maar nog nooit die moed gehad het om so iets te skryf nie. “Dis vir my ’n reuse-uitdaging om 'n toneelstuk te skryf, maar juis daarom is ek so dankbaar vir die steun van die Absa KKNK, die Dagbreek Trust en van Schalk Schoombie, want dit wys daar is wel in Afrikaans 'n vangnet en 'n aansporing vir groentjie-dramaturge soos ek. Ek hoop ek sal kan laat reg geskied aan die prys.”

Die Absa KKNK vind tussen 29 Maart en 6 April 2013 vir die 19de keer in Oudtshoorn plaas. Verblyfbesprekings open 22 Oktober 2012.


Feesborge
Teken In vir ons Nuusbrief
Absa KKNK on Facebook  Twitter
Copyright © 2013  ::  ABSA KKNK  •  Site by:  WebWorX in Oudtshoorn