NUWE GELEENTHEDE VIR VENNOOTSKAPPE IN EN MET OUDTSHOORN

OORSIG VAN 2010 SE ABSA KKNK

GELEENTHEDE VIR UITGEBREIDE PLAASLIKE BETROKKENHEID BY 2011 SE FEES

FEESPROGRAM

EKONOMIESE GELEENTHEDE

KUNSTE-ONTWIKKELING

PLAASLIKE SKAKELING

AFSLUITING

OORSIG VAN 2010 SE ABSA KKNK

Die suksesvolle aanbieding van die sestiende kunstefees op Oudtshoorn gedurende April 2010 het verskeie langer- termynuitdagings aangespreek en nuwe moontlikhede ontsluit wat ondanks enkele voorvalle en besorgdhede wat uitgespreek is deur die Direksie van die Absa KKNK, in 'n baie positiewe lig beskou kan word. In my hoedanigheid as voorsitter verskaf ek graag namens die Direksie die volgende terugvoer aan die breë Oudtshoorn-gemeenskap en ander belangstellendes ter bevordering van verdere konsultasie en beplanning vir toekomstige feeste.

Die Direksie van die Absa KKNK bepaal die sukses van elke jaar se kunstefees vanuit verskeie oogpunte. Gegewe sy mandaat om die kunste op 'n nasionale en selfs internasionale vlak te bevorder, is die gehalte en omvang van die feesprogram van produksies en uitstallings, en die ontvangs daarvan onder gehore, kritici en ander rolspelers van heinde en verre van kernbelang. As 'n organisasie sonder winsbejag wat volgens goeie besigheidsbeginsels bestuur moet word, kyk ons ook natuurlik na die finansiële prestasie van die fees en die volhoubaarheid daarvan. Daarbenewens speel die Absa KKNK se verskillende vennote op plaaslike, streeks- en nasionale vlak elk 'n belangrike rol om die fees te laat slaag. Die uitbou van gesonde verhoudings onder 'n uiteenlopende groep belanghebbendes en die belyning daarvan met die fees se langtermyndoelwitte is dus prioriteite.

Die Direksie is in sy geheel uiters tevrede met die aanbieding van 2010 se kunstefees. In sy kernbesigheid – die kunste in die kunstefees – het vanjaar se program konsekwent uitnemendheid bereik wat die Absa KKNK se volgehoue status as beduidende nasionale platform vir die kunste bevestig het. Beskou vanuit die sale, galerye en – toenemend – die buitelugvenues waar ons Oudtshoorn Oraloor-aanbiedinge ervaar is, was dit 'n fees wat gehalte en verskeidenheid in elke genre opgelewer het. Die goeie bywoningsyfers by produksies asook die verkope van die fees se nuwe geïntegreerde dagkaartjie na die musiekverhoë getuig ondanks die gevolge van die ekonomiese resessie van die gehalte van die fees se kunsteaanbod en die gepaardgaande lojale ondersteuning van gehore van regoor ons land. Die Direksie is tevrede dat die doelwit bereik is om 'n toonaangewende Suid-Afrikaanse kunstefees te bly.

Oudtshoorn Oraloor - Betésda

Kap Án

Journey to Kannaland

Velskoen Journeys

Afri-Frans

KaapRapport Klein Karoo Klanke

Oudtshoorn Oraloor - Feesparade

Oudtshoorn Oraloor - Grond

Dit is ook bemoedigend om te kan uitwys dat kunstenaars van Oudtshoorn in verskeie genres uitgeblink het: toneel (in Kap Án, Vaselinetjie, Journey to Kannaland en Velskoen Journeys), musiek (Afri-Frans), visuele kuns (1/5), asook verskeie aanbiedinge op die buiteverhoë (die 37 deelnemers aan die KaapRapport Klein Karoo Klanke-konsert, asook 20 kultuurpraktisyns vanuit die Klein Karoo en 31 opkomende kunstenaars vanuit die Groter Oudtshoorn-gebied) en in die nuwe Feesparade.

Desnieteenstaande is dit in sy bedryfsaspekte dat hierdie fees die meeste opspraak verwek het. Dit was veral in die uitrol van 'n nuwe operasionele model waarvolgens die bestuur opnuut – en in sommige gevalle vir die eerste keer – koördinering uitgeoefen het oor die aanbod wat in die verlede onafhanklik aangebied is. Hieronder tel die programmering van die oorwegend buitemuurse musiekverhoë en die gepaardgaande kuiergeleenthede.

Die Direksie was jare lank reeds besorg oor 'n neiging tot die verbrokkeling van die fees tot 'n reeks losstaande geborgde subfeeste waarin die bestuur beperkte insae gehad het t.o.v. die gehalte of diversiteit van programmering, toegangsfooie of die terugploeg van die gepaardgaande opbrengs in die fees se kernbesigheid. Die Direksie het gevolglik 'n ambisieuse nuwe model, wat deur Bestuur ontwikkel is, teen 'n aansienlike finansiële risiko goedgekeur om 'n nuwe feesomgewing te skep waar die meeste van die reeds geslote geborgde verhoë saam met ander aantreklikhede gekonsolideer kon word en waar toegang in die vorm van 'n dagkaartjie by die fees eerder as individueel by die onderskeie borge gekoop kon word.

Die Direksie en bestuur is van mening dat daar ruimte vir verbetering bestaan in die uitleg, inhoud, toegang tot en verdere ontwikkeling van die feesdistrik, en in die besonder die nuwe Rivierbuurt, wat in detail in die komende maande deur die bestuur bekyk sal word. Daar bestaan egter geen twyfel by die Direksie nie dat die nuwe plan geslaag het in sy doelwitte om:

  • 'n Meer geïntegreerde feesaanbod daar te stel;
  • komplementerende programmering tussen musiekverhoë en die binnensmuurse musiekprogram moontlik te maak;
  • die aanbieders van geborgde verhoë as ware medewerkers van die fees te posisioneer; en
  • die finansiële voordele van die buitenshuise komponent van die fees met die fees se kernbesigheid te belyn.

Hierdie artistieke en borgskapbestuursbeginsels was die primêre motivering vir die nuwe terreinuitleg en gepaardgaande dagkaartjie wat aangebied is. Die geïntegreerde bestuur van 'n wye spektrum musiekvermaak by die res van die programbeplanning het dit ten doel gestel om die koste van feesbywoning in sy geheel vir feesbesoekers, Oudtshoorniete ingesluit, goedkoper te maak. Die Direksie het vertroue dat 'n vergelyking met die koste van toegang by soortgelyke aanbiedinge elders in die land van die bevordering van toeganklikheid en bekostigbaarheid onder feesgehore sal getuig.

Die Direksie meen verder dat hierdie doelwitte, asook die Rivierbuurt en gepaardgaande dagkaartjies waarin hulle toegepas word, in die medium tot lang termyn behoue moet bly. Hiermee saam behoort die bestaande inisiatiewe om plaaslike gemeenskapsbetrokkenheid by die fees te bevorder op maniere voortgesit en uitgebrei te word wat die nuwe bedryfsmodel opnuut moontlik gemaak het. Meer hieroor hieronder.

Elke jaar word 'n veelvlakkige besigheidsplan vir die volgende kunstefees oor bykans 'n volle jaar voorberei en 2011 se fees is reeds in wording. In die komende maande gee die bestuur aandag aan die terugvoer wat vanuit verskeie oorde ontvang word vir insluiting by die 2011- konsepfeesplan, asook 'n langtermynstrategie wat deur die Direksie tydens Augustus oorweeg sal word. Die Direksie is van mening dat die breë beleidsraamwerk waarbinne 2010 se fees gelewer is as vertrekpunt moet dien.

Dit hou die volgende elemente in:

  • Die bevordering van innovering en gehalte op nasionale en selfs internasionale vlak in die program van produksies en uitstallings;
  • beklemtoning van die Klein-Karoo as 'n unieke konteks vir die kunste; en
  • die integrering van die fees se meer informele buitenshuise musiekaanbod en straatkultuur met die beplanning van die res van die program as komplementerende dele van die fees in sy geheel.

Met die uitlewing van kulturele diversiteit as vertrekpunt is die doelwit deurgaans om met Afrikaans op kreatiewe, bemagtigende en insluitende wyses om te gaan. Plaaslike gemeenskappe kan 'n besondere rol hierin speel.

Gegewe die bestuur se bedoelings om beplanning na aanleiding van terugvoer wat reeds ontvang is selfs vroeër as tevore voort te sit, verwelkom die Direksie die feesbestuur se voorneme om spoedig verdere terugvoer en voorstelle vanuit plaaslike geledere in te win wat die fees se doelstellings rondom die bevordering van uitnemendheid én toeganklikheid sal bevorder. Sulke terugvoer sal reeds einde Julie vir die Direksie voorberei word. Na die Direksie se mening het vanjaar se kunstefees ondanks besorgdhede oor uitsluiting vanuit sekere geledere nuwe geleenthede vir betekenisvolle langtermynsamewerking met kuns- en kultuurbelangstellendes in Oudtshoorn geskep.

In die besonder wil ek die geleenthede uitlig wat hieronder uiteengesit word en 'n oproep aan alle dele van die Groter Oudtshoorn-gemeenskap doen om by hierdie geleenthede betrokke te raak.


GELEENTHEDE VIR UITGEBREIDE PLAASLIKE BETROKKENHEID BY 2011 SE FEES

OORSIG VAN 2010 SE ABSA KKNK

GELEENTHEDE VIR UITGEBREIDE PLAASLIKE BETROKKENHEID BY 2011 SE FEES

FEESPROGRAM

EKONOMIESE GELEENTHEDE

KUNSTE-ONTWIKKELING

PLAASLIKE SKAKELING

AFSLUITING

Na Bo

FEESPROGRAM

Ondanks die sukses van 2010 se feesprogram en ook baie positiewe terugvoer vanaf talle plaaslike gehoorlede het die Kunstekomitee van die Direksie hom dit ten doel gestel om die program uit te bou om plaaslike gehore in die feesprogram in die toekoms selfs meer direk aan te spreek. Ons programbestuurder ontvang graag voorstelle rondom programkomponente wat plaaslike gehore graag in die feesprogram sou wou bybring sodat dit proaktief aangespreek kan word terwyl voorstelle vir volgende jaar se feesprogram landwyd ingewin word. Die nuwe bedryfsmodel maak dit opnuut moontlik om die buitenshuise musiekaanbod saam met die produksies in dié verband uit te brei. Die belowende uitrol van die Feesparade tydens die afgelope fees het 'n opwindende nuwe programgleuf geskep wat uitgebou sal word. Terselfdertyd herinner die Direksie alle professionele kunstenaars in en vanuit die Klein-Karoo, waar hulle hul ook al gevestig het, dat die feesbestuur jaarliks 'n oproep om voorstelle aankondig (vanjaar is die sperdatum einde Julie), en dat alle voorstelle graag deur die fees se onafhanklike komitee van kunstekenners, die Kunstekabinet, oorweeg sal word.


OORSIG VAN 2010 SE ABSA KKNK

GELEENTHEDE VIR UITGEBREIDE PLAASLIKE BETROKKENHEID BY 2011 SE FEES

FEESPROGRAM

EKONOMIESE GELEENTHEDE

KUNSTE-ONTWIKKELING

PLAASLIKE SKAKELING

AFSLUITING

Na Bo

EKONOMIESE GELEENTHEDE

Soos in die inleidende opmerkings genoem, het die fees se bedryfspan vanjaar die enorme taak aangepak om wat nou as Suid-Afrika se ruimste feesterrein beskou kan word, te ontwerp, op persele uit te lê waar verskeie rolspelers belange het en binne die begroting te implementeer waar daar talle veranderlikes in ag geneem moes word. Hieronder tel munisipale verordeninge wat straathandel, tydelike uitbreidings en onderverhurings van besighede asook die bestuur van drinkgoed by die fees. Hierdie aspekte van feesbeplanning moet noodwendig ver vooruit beplan word. Dus nooi die Direksie alle belangstellendes om hul bedoelings en idees rondom die beskikbaarheidstelling van persele en geriewe asook handeldryf tydens die fees so gou as moontlik met die kantoorpersoneel te deel sodat dit by 2011 se beplanning oorweeg en ingesluit kan word.

Ek beklemtoon graag die Direksie se sterk voorkeur dat alle gemeenskappe van die Groter Oudtshoorn aan die fees deelneem en baat vind by geleenthede wat die feesekonomie bied. Ons moedig plaaslike instansies aan om innoverende voorstelle gesamentlik aan te pak om te verseker dat die breër gemeenskap by die fees bly baatvind of om as borge nuwe aanbiedings tydens die fees te befonds of moontlik te maak. Die Direksie verwelkom enige voorstelle wat hierdie doelwit kan bevorder.

Insgelyks is verskeie pogings oor die jare heen aangewend om feesvenues buite die middedorp, en in die besonder in Bridgton en Bongolethu in te rig. Desondanks goeie bedoelings is die feesbestuur se ervaring dat sulke ondernemings selde onder die onmiddellike tuisgemeenskappe geslaag het. Haalbare voorstelle om hierdie historiese tendens om te draai sal veral verwelkom word.

Soos reeds genoem, is die Direksie van mening dat die bevordering van toeganklikheid voortgesit moet word binne die nuwe besigheidsmodel en terreinuitleg eerder as om die stalletjiekomponent weer van die res van die Rivierbuurt te skei. Die insluiting van volle toegang tot al die fees se musiekverhoë wat saam met toegang tot die Absa Kuns- en Vlooimark verkoop is, skep 'n waardevolle geleentheid om ons kernbesigheid – in dié geval musiekvermaak – met die straatkultuur van die fees te verweef. Die uitdagings wat dit t.o.v. ekonomiese deelname aan die fees stel, is met nuwe helderheid op die bestuur se beplanningsagenda.

Die Direksie is van mening dat ons 'n gulde geleentheid sou verspeel deur bloot terug te keer na die vorige model waarvolgens talle plaaslike feesbesoekers se deelname aan die fees beperk is tot toeskouerstatus by straatstalletjies buite die fees se kernkuns- en vermaakaanbod. Noudat vanjaar se fees suksesvol gelewer is en met die inligting wat nou tot sy beskikking is, is die bestuur in 'n baie beter posisie om volgende jaar se feesdistrik langer vooruit te beplan en te verbeter. Daar bestaan verskeie geleenthede om die uitleg, aanbod, toegangspakkette en gemeenskapsdeelname verder te verfyn. Weer eens word voorstelle in dié verband verwelkom.

Terselfdertyd word daar genoem dat die fees se aanbod nie net tot die Rivierbuurt beperk was nie en dat die bestuur reeds verskeie geleenthede opvolg om waarde toe te voeg tot die dele van die feesdistrik wat heeltemal gratis sal bly.


OORSIG VAN 2010 SE ABSA KKNK

GELEENTHEDE VIR UITGEBREIDE PLAASLIKE BETROKKENHEID BY 2011 SE FEES

FEESPROGRAM

EKONOMIESE GELEENTHEDE

KUNSTE-ONTWIKKELING

PLAASLIKE SKAKELING

AFSLUITING

Na Bo

KUNSTE-ONTWIKKELING

Een van die tasbare uitvloeisels van die erns waarmee die Direksie en feesbestuur die daadwerklike deelname van alle gemeenskappe van die Groter Oudtshoorn en die Klein-Karoo aan die kunste wil bevorder, is die interne herstrukturering van die kantoorpersoneel oor die afgelope jaar om 'n afdeling te skep wat deurlopend verskeie kunsgerigte ontwikkelingsprojekte aanbied. Alhoewel die kunstefees vanaf sy aanvang in 1995 deur middel van projekte soos die destydse Voorbrandfees na die breër gemeenskap uitgereik het, stel die Direksie en bestuur hulle dit opnuut ten doel om hierdie aspek van die feeskantoor se werk te verdiep, uit te brei en met die groter doelstellings van die fees asook die behoeftes van die breër gemeenskap te belyn. Dit bied verskeie geleenthede vir plaaslike groepe, organisasies en indiwidue om die hulpbronne en netwerke wat tot die feeskantoor se beskikking is as 'n bate te beskou ter ondersteuning van die bevordering van kreatiewe, verdienstelike projekte en daardeur 'n positiewe gemeenskapslewe.

Die omvang van hierdie portefeulje van projekte is reeds noemenswaardig. Dit sluit in projekte soos die sessies van die Klein-Karoo Kunste-akademie, die Absa KKNK Op Toer, die Feesbeurs en 'n voorgestelde mentorskapprogram asook die klap!-program vir Graad 10- en 11-leerders van regoor die land waaronder 65 behoeftige leerders uit die Edendistrik se feesbesoeke ten volle geborg word. Met die uitrol en uitbreiding van hierdie en soortgelyke projekte is die Direksie en bestuur in 'n posisie om beleid te verfyn; onder andere deur die fees se kunsteontwikkelingswerk met verskeie sosiale verantwoordelikheidsprogramme aan te vul.

In die konteks van hierdie werk is dit noodsaaklik dat die feeskantoor sulke projekte in samewerking met vennote vanuit die breër gemeenskap aanpak. Die Direksie het die bestuur daarmee getaak om 'n oudit van huidige vennootskappe voor te berei en nuwe mediumtermynvennootskappe voor te stel wat op direksievlak volgens die meriete van die tersaaklike besigheidsplanne asook die voorgestelde begunstiging van die breër gemeenskap op kunstegebied gerapporteer sal word.

Die Direksie is van mening dat opregte kunstebegunstiging in ons gemeenskappe bekwame, geloofwaardige en polities onverbonde vennootskappe noodsaak. Die feeskantoor gaan in die komende jare die oordrag van vaardighede en bemagtiging van plaaslike vennote prioriteite maak, waarvan die onlangse uitrol van die eerste jaarlange Leerskap in Kuns- en Kultuurbestuur getuig. Dit word voorts as 'n kernkomponent van feesbeplanning beskou wat met soortgelyke voorafbeplanning as die res van die feesprogram en bedryfsaspekte benader sal word. In die komende maande sal verskeie geleenthede vir samewerking by volgende jaar se kunstefees deur die kanale tot die feeskantoor se beskikking aangekondig word. Bestaande vennootskappe sal herbesoek en geëvalueer word. Aanvanklike voorstelle vir projekte wat die betekenisvolle deelname van die breër gemeenskap by volgende jaar se kunstefees sal bevorder, word teen einde Julie deur die Bestuurder: Kunsteontwikkeling ontvang.


OORSIG VAN 2010 SE ABSA KKNK

GELEENTHEDE VIR UITGEBREIDE PLAASLIKE BETROKKENHEID BY 2011 SE FEES

FEESPROGRAM

EKONOMIESE GELEENTHEDE

KUNSTE-ONTWIKKELING

PLAASLIKE SKAKELING

AFSLUITING

Na Bo

PLAASLIKE SKAKELING

Die gereelde en doeltreffende skakeling tussen verskeie plaaslike belangegroepe en die bestuur en, waar nodig, die Direksie van die Absa KKNK, sal in die komende maande nog verder uitgebou en bevorder word. Met die groei van die fees en die herstrukturering van die feeskantoor oor die afgelope aantal jare vervul die Direksie toenemend 'n strategiese rol wat fokus op die fees se nasionale kunstemandaat en die volhoubare befondsing daarvan. Onder hierdie bestel het die Direksie nie 'n uitvoerende rol nie en is die gepaste kanaal vir voorstelle rondom feesbeplanning via die bestuur, in die besonder die uitvoerende hoof.

Oor die jare is verskeie pogings aangewend om Oudtshoorn op direksievlak te verteenwoordig; onder andere deur middel van die skep van ex officio-posisies vir verteenwoordigers van die Oudtshoorn Munisipaliteit, die Besigheidskamer en selfs 'n onverbonde verteenwoordiger. In die aanloop tot vanjaar se fees het die Oudtshoorn Ekonomiese Forum, die enigste statutêre liggaam wat insette kan lewer t.o.v. Oudtshoorn se plaaslike ekonomiese ontwikkelingsplan, 'n openbare platform gefasiliteer waardeur lede van die breër gemeenskap met die feesbestuur kon skakel. Die Direksie se nominasiekomitee waarin verkose lede van die maatskappy vanuit Oudtshoorn deelneem, skenk in Oktober weer oorweging aan kandidate wat die fees se kunstemandaat op strategiese vlak kan ondersteun. Intussen ondersteun die Direksie die bestuur se voorneme om benewens die bestaande skakelforums op die dorp waaraan lede van die Feesbestuur gereeld deelneem, ook direk met individuele belangegroepe asook individue te skakel, waar nodig.


OORSIG VAN 2010 SE ABSA KKNK

GELEENTHEDE VIR UITGEBREIDE PLAASLIKE BETROKKENHEID BY 2011 SE FEES

FEESPROGRAM

EKONOMIESE GELEENTHEDE

KUNSTE-ONTWIKKELING

PLAASLIKE SKAKELING

AFSLUITING

Na Bo

AFSLUITING

As 'n mens terugkyk na die geskiedenis van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees sedert 1995, is die Direksie van mening dat 2010 se fees as 'n belangrike keerpunt beskou kan word. Sedert die tiende fees in 2004 het verskeie faktore in die breë bedryf daartoe gelei dat die langtermynvolhoubaarheid van die fees onseker geword het. Die bedryfsmodel wat vanjaar ingewy is, het verskeie aspekte van die feesekonomie wat in die verlede onafhanklik van mekaar en nie noodwendig ter ondersteuning van die fees se kerndoel nie, met sy oorhoofse doelstellings belyn. Dit, saam met die gehalte van die programaanbod en die goeie bywoning, verteenwoordig na die Direksie se mening 'n baie positiewe wending t.o.v. die belange van mense van die Groter Oudtshoorn en omgewing in die artistieke asook die operasionele volhoubaarheid van die fees.

Met die hernuwing van die finansiële ondersteuning van ons naamborg is die Absa KKNK in 'n uitstekende posisie om meetbare doelwitte daar te stel t.o.v. die verruiming van die fees, die verdieping van die verhouding tussen mense van sy tuisdorp en streek, en die kernaanbod van die fees. Met soveel wat oor die afgelope sestien jaar bereik is om Oudtshoorn op die Suid-Afrikaanse kunstekalender te plaas, bly dit noodsaaklik om merkbare stappe te neem om gapings tussen die breër Oudtshoorn-gemeenskap se ervaring van die fees en die uitlewing van sy nasionale mandaat te oorbrug waar dit steeds mag bestaan.

Kortweg gestel: Dit is noodsaaklik dat ons nie die geleentheid sal laat verbygaan om die “N” in “KKNK” opnuut te bekyk en toe te eien nie, en om 'n nasionale kunstefees te wees wat nie net in nie maar juis met Oudtshoorn voortgesit en uitgebou word. Hierdie verklaring word in daardie gees uitgereik. Die Direksie en bestuur sit die gesprek graag sonder versuim voort om hierdie doelwitte saam te behaal.

H. RUSSEL BOTMAN
VOORSITTER

Feesborge
Teken In vir ons Nuusbrief
Absa KKNK on Facebook  Twitter
Copyright © 2012  ::  ABSA KKNK  •  Site by:  WebWorX in Oudtshoorn