Absa KKNK

VOORSITTER SE VERSLAG

Kuns Onbeperk het in die jaar onder oorsig goeie vordering gemaak met die implementering van die nuwe maatskappystrategie. Klein Karoo Klassique, die nisfees vir klassieke musiek, is vir die derde keer in Augustus 2011 aangebied. Die maatskappy se vlagskipprojek, die Absa KKNK, is in 2012 vir die 18de keer aangebied. Kunsgedrewe gemeenskapsprojekte is gekonsolideer in die Fees van Geleenthede.

KLEIN KAROO KLASSIQUE

Die program van Klein Karoo Klassique is goed ontvang, maar ongelukkig was kaartjieverkope nie so goed soos in die vorige jaar nie. Die sluiting van die N9 tussen Oudtshoorn en George, was die groot oorsaak hiervan. Die program het onder meer opvoerings van seldsame vroeë-Barokmusiek deur die Cape Consort, en ’n ontroerende aanbieding van Mozart se Requiem, met die sopraan Friedel Mitas, ’n oud-Oudtshoorniet, as een van die soliste, ingesluit. Die optrede deur die Kaapse Filharmoniese orkes was ’n verdere hoogtepunt op dié program.

Absa KKNK

Die 18de Absa KKNK se programaanbod het daarin geslaag om verskeie strategiese doelwitte op mediumtermyn te bevorder. Dit sluit die behoefte in om ons tradisionele mark te behou en uit te brei, om meer diverse, veral bruin, gehore te lok, om aan skoolgroepe ’n uitstekende ervaring te bied en dus meer jongmense na die fees te trek, asook om, as ’n inklusiewe Afrikaanssprekende fees ook aan nie-Afrikaanssprekendes programme van waarde te kan aanbied.

Die Absa KKNK het vanjaar 37 toneelstukke aangebied, waarvan die fees die pre- en produksiekoste van 10 toneelstukke gedra het. Hierdie fooiproduksies is oorwegend goed ontvang, veral Nicola Hanekom se Babbel en Tertius Kapp se Rooiland. Dié produksies het ook goed gevaar by Computicket, met Die vrou vantevore, Doodsnikke, ’n Seder val in Waterkloof en Teerling as die voorlopers. Die Absa KKNK het lof ontvang vir die opdragstuk, Smelt, wat saamgeval het met die bekroning van Abraham H de Vries vir sy Lewensbydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

Die program het verder ’n totaal van 27 produksies op ’n loketverdelingsbasis aangebied, wat ’n wye spektrum voorkeure van die verskeie marksegmente geakkommodeer het. Van hierdie produksies was Buurtwag, FunnyKaap, Holmakiesie, Kopstukke, Mooi Maria, My vrou se man se vrou, My naam / name is Ellen Pakkies, Speel en Voor ek vergeet die gewildste. Verder het die produksies, Lament in G en Up in Smoke met oorwegend jong en onbekende akteurs in die rolverdeling, die kritici en feesgangers verras.

Die Baanbreek-venue, wat in 2011 Iets Anders geheet het, het veel meer feesgangers gelok as verlede jaar. Die produksies wat in hierdie venue aangebied is, sluit in Body Language, Mafeking Road, Op-en-top, Ouma en Rooiland. Dit is duidelik dat die Absa KKNK sukses behaal om uiteenlopende gehore by die fees te akkommodeer.

Die fees het verder lof ontvang vir die pogings om aan jong kunstenaars ’n platform te skep met Deurbraak, ’n nuwe venue op die fees wat spesifiek daarop gemik is om ’n platform te bied vir opkomende kunstenaars en om ook jonger gehore te lok. Hierdie venue het nie net kabarette en musiekteaterstukke gebied nie, maar ook toneelstukke. Die produksies wat hier te sien was, sluit in: … Af, Trein Smash!, Lagnes, Deurbraak en Vagina Dentata. Dit is veral laasgenoemde produksie wat die kritici en feesgehore gaande gehad het en die Oudtshoorniet Marlo Minnaar wat ook beïndruk het met sy vertolking in … Af. Vir volgende jaar is planne in plek om die net wyer te gooi om opkomende stemme van oral uit die land by Deurbraak ’n kans te gee.

Met die doelwit om Klein Karoo Klassique vroegtydig te bemark, is die program vir hierdie fees saam met die klassieke musiekkomponent van die Absa KKNK saamgestel. Die Absa KKNK het vanjaar ’n meer gefokusde klassieke musiekprogram aangebied met 14 Stasies van die Kruis (met die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting), Amore, Friedel Mitas & Canto Amici en Karnaval van die diere & Pieter en die Wolf (ook met die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting), met die UP se Simfonie-orkes en Tobie Cronjé as die verteller. Alhoewel daar vele cross over programme aangebied is, is die volgende vier uitvoerings wat as klassieke musiek getipeer kan word, op ’n loketbasis aangebied: Ave Maria / Halleluja, die twee kore Dumela, Suid-Afrika! en Feesklanke van die Suid-Kaap, asook Shanghai Brunch.

Akoestiese klanke – wat deur die Absa KKNK finansieel moontlik gemaak is – was ’n reeks musiekoptredes wat in Club Al Capone aangebied is, met onder meer Vusi Mahlasela en Karen Zoid, Zolani van Freshlyground, Laudo van Aking en Nick van Mikanic, Karma van Henry Ate en Wendy Oldfield, asook Ousus en Heuwels Fantasties. Hierdie reeks was ’n welkome heenkome vir feesgangers wat in ’n intieme atmosfeer na musiek wou luister. Ons beoog om voort te bou op die suksesse van vanjaar deur die Akoestiese klanke in 2013 uit te brei, sodat dit ’n bekende handelsmerk van die fees kan word.

25 kontemporêre musiekproduksies is op ’n loketverdelingsbasis aangebied, met produksies soos die Christa Steyn-huldigingskonsert 20 Hande, 1 Hart, Coenie de Villiers – Hart van Glas, My broetjie, my Bra en Laurika Rauch – Nuwe Temas wat baie gewild onder feesgangers was.

Wat die buitelug verhoë betref, was Huisgenoot steeds die grootste vennoot in die Rivierbuurt en die Aandverhoog was weer gewild. Die program vir die Top 40-aandverhoog, ook ’n strategiese inisiatief van die feesbestuur, is vanjaar deur Natalia da Rocha saamgestel. Kaktus oppi Vlaktes is vir die eerste keer in jare weer aangebied. Ongeag die slegte weer, was dit ’n goeie begin van hierdie buitelug-musiekkonsert by Jamstreet Amfiteater en ons voorsien dat dit weer ’n instelling by die Absa KKNK in die toekoms kan word. Dit is ’n belangrike projek om jongmense na die fees te lok en hierdie marksegment te vestig.

Na aanleiding van ons inisiatiewe in onlangse jare om dansteater by die Absa KKNK uit te bou, het bestuur besluit om ’n kommersiële produksie op die planke te bring in ’n poging om gehore vir hierdie genre te werf. Dans is dus verklein, met twee hoëprofiel-fooiproduksies, nl. Spectacular! Spectacular! en Vlam. Spectacular! Spectacular! het vol sale getrek – dit was onder die Top 10-verkopers op die feesprogram – en het feesgangers opnuut opgewonde gemaak oor dansteater. Vlam was op sy beurt ’n produksie wat die magiese opwinding van die kunste na armkansige gemeenskappe geneem het, en is voorafgegaan deur werkswinkels en opleiding in die kunste en wat optree-geleenthede vir leerders uit plaaslike skole op ’n groot skaal bewerkstellig het. Daar word reeds beplan vir ’n soortgelyke projek vir 2013, asook ’n produksie wat sal voortbou en verbeter op die sukses van Spectacular! Spectacular!

Straatteater was vanjaar sterker verteenwoordig as verlede jaar met méér as net die feesparade. Dit is veral Jungle Theatre se Metamorfose en Iain Harris se Kruisings – ’n fees van straatmusiek wat uitgestaan het.

Die visuele kunste onder Sandra Hanekom se kuratorskap, het vanjaar die komplimente laat inrol. Die kunsuitstallings wat bygedra het tot die goed gebalanseerde palet van kunservarings, sluit in: die feeskunstenaarsgroep, die Handspring Puppet Company; Brahm van Zyl se straatinstallasie, Oos, Wes, Tuis, Bes, en Hinterland; Die taal van teken onder die kuratorskap van Corlie de Kock; Die wilde ruimte deur Sasha Hatherley; Diek Grobler se Fopspeen-animasiefilms en –uitstalling; Geheue deur Aidon Westcott; Ik ben een Afrikander II onder die kuratorskap van Teresa Lizamore; Elfrieda Dreyer (kurator) se Ontwerpe; Clanelle Burger se Perforation / Seperation; Juria le Roux se roerende Reeksmoord, die solo-uitstalling van Elana-Marie Snyman, ’n Plek genaamd, Veelsgerust; Mathias Chirombo se Sacred Spaces, Studio x van Arnold van Niekerk, die boeiende foto-uitstalling van die Voëlvrytoer – Grahamstad 1989 deur Tim Hopwood en die veelbesproke onderwerp van hidrouliese breking (fracking) wat behendig uitgebeeld is in Vrees en verlies, onder kuratorskap van Katie Barnard du Toit. Amanda Botha se retrospektiewe uitstalling van Kevin Atkinson het goed ingeskakel met die uitstallings in die Prince Vincent-gebou.

Die vyf woordkuns-aanbiedings, wat op ’n loketverdelingsbasis aangebied is, was oor die algemeen gewild en sluit in As jy luister – Sheila Cussons 90 jaar, Anties, tannies en madams, Drie reisigers en Valiant Swart, Hier huil jy net twee keer en Windbrekers en wegbrekers. Die Karoo Krioel, ’n kunsgerigte uitstappie met programme en kortkuns, is vir ’n tweede keer suksesvol aangebied. Die Burger Praat Saam-reeks was ’n hoogtepunt na die vorige jaar se totale afwesigheid. Dit is veral die gesprek met Jonathan Jansen wat baie suksesvol was en ’n oorvol CP Nel Museum se Eetkamer tot gevolg gehad het.

KANNA TOEKENNINGS

Die Kanna Toekennings is by ’n glansgeleentheid by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad op 6 Mei oorhandig. By dié viering van die fees se artistieke hoogtepunte, het die omgewingspesifieke teaterproduksie Babbel, uit die pen van die teatergenie, Nicola Hanekom, as die groot wenner in ses van die tien kategorieë geseëvier. Babbel is die laaste in Hanekom se trilogie, wat oor die afgelope drie jaar twaalf Kannas ingepalm het. Brendon Daniels is met die Windhoek Lager Kanna vir sy spel in Babbel en Rooiland bekroon.

Die orrelis Winand Grundling het die Slurpie Kanna vir die Beste Opkomende Kunstenaar ontvang vir sy uitvoering van 14 Stasies van die Kruis, waarvoor hy ook bekroon is met die kykNET Kanna vir Beste Klassieke Musiekuitvoering. Emo en Loukmaan Adams se My Broetjie, my Bra is as Beste Musiekproduksie bekroon. Emo Adams is deur die Kannapaneel uitgesonder as 'n gevestigde kunstenaar wat in verskeie produksies uitgeblink het. Die Visuele Kunsuitstalling, Vrees en verlies deur Katie Barnard du Toit, is bekroon met die Kanna vir die Beste Visuele Kunsaanbieding.

Die Spesiale Kanna vir Vertolking is toegeken aan teater veteraan, Louis van Niekerk. Vanjaar is daar ook erkenning gegee aan Louis von Zeuner, Adjunk Uitvoerende Hoof van Absa, met ’n Spesiale Kanna vir Diens aan die Kunste. Die Afrikaans Onbeperk-toekenning vir Lewensbydrae het, soos reeds genoem, aan Abraham H. de Vries gegaan, en Ronelda S. Kamfer was die eerste ontvanger van die Afrikaans Onbeperk-toekenning vir ’n Nuwe Stem. Vanjaar se Kanna-beelde, ook in die volksmond bekend as Klein Karoo Oscars, is vanjaar vir die sesde (en laaste keer) deur Marieke Prinsloo-Rowe gemaak.

FEES VAN GELEENTHEDE

Die Fees van Geleenthede het voortgebou op die suksesse van 2010/2011 met geleenthede vir mense uit alle vlakke van die samelewing om die kunste te ervaar. 24 projekte of programme, wat maatskaplike opheffing deur middel van die kunste, optreegeleenthede, verbreding van artistieke deelname, gehoorontwikkeling en uitreikaksies insluit, is aangebied. Hierdie portefeulje van projekte en programme van kunsgedrewe gemeenskapsontwikkeling sal voortaan bekendstaan as Kontreikuns.

Absa KKNK OP TOER

Absa KKNK op Toer het in samewerking met Agri Klein Karoo, ’n produksie vir plaaswerkers aangebied. 20 optredes van die produksie, Klaas se Plaas, deur die plaaslike Kambro Diggers, is oor ’n tydperk van 3 maande aangebied. Die oorhoofse doel van die produksie was om die invloed van drankmisbruik uit te beeld. Sowat 3,000 plaaswerkers in die volgende gemeenskappe is bereik: Herold, Bo-Kamanassie, Avontuur, Schoemanshoek, Knoll, Uniondale, Calitzdorp, Van Wykskraal, Ladismith, Zoar, Amalienstein, Gamka-Oos, Gamka-Wes, Volmoed, Bakenskraal, Stolsvlakte, Dysselsdorp, Haarlem, Matjiesrivier, Eight Bells en Waboomskraal. Die produksie is positief ervaar deur die plaaswerkers, maar boere het gevoel dat dit beter bygewoon sou kon word indien dit nie tydens oestyd aangebied word nie.

KUNS ONBEPERK

Met die uitbreiding van die maatskappy se rol en werksaamhede, beide op Oudtshoorn én in die breë kunstebedryf, kyk ons terug op ’n jaar waarin die Absa KKNK se sukses ook nuwe kapasiteit en geleenthede skep wat deur die loop van die jaar vrugte afwerp. Die maatskappy betree nou ’n opwindende groeifase wat die bydrae en nalatenskap van die kunstefees verder sal uitbrei.

TEATERINDABA

Dié boekjaar afgesluit met indaba’s vir rolspelers in die teaterbedryf om beter begrip van die huidige nasionale konteks vir ons werk te ontwikkel en om gemene belange gesamentlik te bevorder. Voortspruitend uit die indaba’s word ’n visie vir die Suid-Afrikaanse teaterbedryf op die oomblik ontwikkel.

FINANSIES EN VOLHOUBAARHEID

Vanuit ’n finansiële oogpunt, het die Absa KKNK vanjaar ’n belangrike mylpaal bereik: vir die eerste keer in agt jaar, is meer kaartjies verkoop as die vorige jaar. Selfs met inagneming van die relatief lae verkope van 2011, toe die studentemark die fees weens ongunstige vakansiedatums grootliks misgeloop het, het ons by die loket beter gevaar as in 2010. Verkope van visuele kuns het noemenswaardig gestyg, en ons bedryfsprojekte (stalletjies, verblyfbesprekingsdiens, tydelike restaurante en fees-depot), het ook ’n gesonde opbrengs gelewer. Gesamentlik dra hierdie projekte R4,77 miljoen tot die fees se inkomste by. Dit alles sonder om die gehalte van ons program in te boet, en die voortsetting van ’n uitgebreide Fees van Geleenthede. Die direksie is baie tevrede dat ons, weer eens ondanks die stramme ekonomiese konteks, vir ’n derde agtereenvolgende jaar ’n surplus kon lewer.

Ek moet egter ook ons vennote daarop attent maak dat ons in die huidige boekjaar groot finansiële uitdagings in die oë moet kyk. Mediumtermyn befondsers, waaronder die NLDTF, het vertragings in die hantering van aansoeke en met die ekonomie wat ons kommersiële borge ook knyp is dit waarskynlik dat ons vanjaar van ons reserwes gebruik sal maak moet maak om vir ’n moontlike afname in borgskappe en projekbydraes te kompenseer. Die hoë brandstofpryse stel nie net eise aan die koste van inrigting nie, maar bedreig ook bywoningsgetalle.

Ek doen dus ’n beroep op al die fees se rolspelers, veral diegene op Oudtshoorn, om daadwerklik saam te werk om die Absa KKNK meer bekostigbaar te maak sodat ons kunstenaars, vennote en feesgangers sal aanhou om hierdie projek te ondersteun.

TEN SLOTTE

Baie dankie aan almal wat vanjaar van Kuns Onbeperk se werksaamhede ’n sukses gemaak het: ons borge en donateurs, die media, ons owerhede op plaaslike en provinsiale vlak, almal in ons tuisgemeenskap, my mede-direkteure, ons personeel en ons gehore wat uit Oudtshoorn, die Suid-Kaap en van heinde en verre die Klein Karoo besoek om die kunste hier in dié pragtige landstreek te ondersteun.

Laetitia van Dyk signature

Prof. Laetitia van Dyk
VOORSITTER


BEGUNSTIGING >> << STRUKTUUR
Feesborge
Teken In vir ons Nuusbrief
Absa KKNK on Facebook  Twitter
Copyright © 2013  ::  ABSA KKNK  •  Site by:  WebWorX in Oudtshoorn