Absa se Maakit Mooi-projek keer in 2019 terug om die aantal funksionele openbare kunswerke wat oor die hele Oudtshoorn geplaas gaan word, te vermeerder en die belangrike rol wat kuns in die alledaagse lewe speel, te beklemtoon.

Vyf nuwe werke, bygedra deur Marguerite Kirsten, die algehele wenner van die 2018 Absa L’Atelier; Carli Bassin, finalis in die 2017 en 2018 Absa L’Atelier; Henry Obeng, toekenningwenner in die 2018 Absa L’Atelier en Christiaan Kritzinger, finalis in die 2014 en 2018 Absa L’Atelier, sal by die vyf werke gevoeg word wat in 2018 in die Karoo-dorpie bekendgestel is.

“Die Maakit Mooi-projek probeer wys dat kuns en skoonheid deel kan wees van die alledaagse lewe deur pragtige kunswerke te skep wat vorm en funksie kombineer,” sê Absa Kunskurator, dr Paul Bayliss. “Ons is ingenome dat sommige van ons Absa L’Atelier-alumni ingewillig het om hul talente aan hierdie verdienstelike projek te verleen.”

Die CJ Langenhoven Biblioteek kry funksionele kunswerke in die vorm van ’n houtbankie en ’n fietsrak by. Nog ’n bankie sal voor die Oudtshoorn Munisipale Gebou geplaas word. Die area oorkant die munisipale gebou sal die tuiste van ’n stel “Gebarebankies” wees. ’n Fietsrak sal buite die Absa-tak in Hoogstraat geplaas word en ’n stel draaiende volstruiseiersitplekke sal by die Toekomsrus Gemeenskapsentrum geïnstalleer word.

Die werk van Marguerite Kirsten, die algehele wenner van die 2018 Absa L’Atelier, hou in wese verband met die aard van die menslike liggaam en uitdrukking, meestal deur installasiewerk. Sy put inspirasie vir haar proses uit haar persoonlike ervaring met ’n sieklike liggaam. Kirsten is voortdurend besig met navorsing oor die liggaam en eksperimenteer met installasiemetodes om ’n ruimte te skep waarin die sieklike liggaam as beeldskoon gesien kan word.

Carli Bassin het haar graad met Beeldhou as hoofvak aan die Michaelis Skool vir Beeldende Kunste by die Universiteit van Kaapstad in 2016 verwerf, voordat sy haar tweede graad, ʼn honneurs in Kreatiewe Handelsmerkkommunikasie, in 2017 by Vega Schools verwerf het. Sy kry haar inspirasie in ander mense se “weggooigoed” en voorwerpe uit die verlede, want sy voel dat elke voorwerp sentimentele waarde het. Haar werk lewer kommentaar oor die tyd, geheue en nostalgie.

Christiaan Kritzinger is ʼn regisseur, kameraman en redigeerder wat in die film- en televisiebedryf werk. Hy is ook ʼn gekwalifiseerde fotograaf met ʼn MTech-graad in Fotografie aan die Nelson Mandela Universiteit, met ʼnfokus op surrealistiese filmkuns. Kritzinger se kunspogings verken meestal die Suid-Afrikaanse landskap. Hy stel belang in hoe gebeure soos droogtes op die grond waargeneem kan word en hoe die land se spreektaal aanpas om uitdroging en verandering te verwoord.

Absa Maakit Mooi

Image 1 of 4

Die Ghanese kunstenaar, Henry Obeng, het in 2016 sy BA Beeldende Kunste-graad aan die Kwame Nkrumah Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (KNUWT) verwerf. Hy werk tans aan navorsing oor handpapiervervaardiging vir fotografie en kyk na die gebruik van plaaslike afvalmateriaal om fotografiepapier van hoë gehalte te vervaardig. Hy het in 2016 (Cornfields in Accra) en 2017 (Orderly Disorderly) by Ghana se Nasionale Wetenskapmuseum as deel van ʼn opname van gevorderde kunsstudente, geagte alumni en vriende van KNUST uitgestal en die toekenning vir Beste uit Ghana verwerf, asook ʼn Tweede Merietetoekenning by die 2018 Absa L’Atelier-kompetisie met sy eerste probeerslag.

Absa Kunskurator, dr Paul Bayliss, en Medekunskurator, Thabo Seshoka, sal daagliks gratis toere na die Maakit Mooi-persele rondom Oudtshoorn begelei. Dit sal insig gee in die kreatiewe proses agter die konseptualisering, ontwerp en vervaardiging van die kunswerke. Die toere vertrek daagliks om 08:30 vanaf die Absa Rooiplein in die Kuierbuurt en sluit toegang tot die Kwêla-gesprekke by dieselfde perseel na afloop van die toer in.