Absa steeds toegewy aan die KKNK en die visuele kunste

“Alhoewel ons nie hierdie jaar die kunste in persoon kan geniet nie, is dit steeds vir Absa en die span by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) baie belangrik om die kunste direk na entoesiaste te bring in die “nuwe normaal” virtuele wêreld waarvoor ons aangepas het,” sê Dr. Paul Bayliss, senior spesialis-kunskurator van Absa.

“Absa is steeds toegewy om kuns en kultuur in Suid-Afrika te ondersteun, aangesien dit die enigste dissipline is waar kunstenaars die platform het om die verhale van ons mense en ons land te vertel. Absa is vanjaar reeds vir 16 jaar ’n trotse borg van die KKNK,” vertel Bayliss.

Bayliss is die kurator van Emotion (Emosie), een van hierdie jaar se uitstallings as deel van die KKNK Virtuele Galery, ondersteun deur Absa. “Die uitstalling is digitaal gedrewe en bestaan uit fotografiese-, video- en klankkuns deur vorige Absa L’Atelier-deelnemers. Dit sluit die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars in, maar ook dié van kunstenaars uit Zambië, Ghana, Mauritius en Kenia. Gesamentlik en individueel wek dié werke verskeie emosies by die kyker op grond van hul ervarings uit die verlede en hul persepsie van die wêreld rondom hulle. Dit is baie belangrik gegewe die tyd waarin ons tans leef,” sê Baylis

Bayliss beskryf ‘emosie’ as ’n subjektiewe, abstrakte gevoel wat ’n universele taal voorskryf. Ons ervarings en interaksies beïnvloed ’n emosionele toestand, een wat verbind is aan en gemanipuleer word deur ons sintuie. Emosies word gevorm deur ons verlede en verewig deur die samelewing se vermoë om die liggaamlike manifestering te vertaal. Elke emosie is persoonlik, maar die uitdrukking is ’n kultureel-ontwikkelde instink. Ons herken ons eie reaksies in ander en tog ontlok daardie reaksies verskillende emosionele herinnerings by ons elkeen.

Kunstenaars wat hul werk as deel van Emotion (Emosie) ten toon stel, is: Anthea Pokroy, Bernard Brand, Daandrey Steyn, Frederick Bamfo, Ilené Bothma, Kara Schoeman, Kavinash Thomoo, Kgaugelo Rakgwale, Kirsten Eksteen, Lebo Rasenyalo, Marguerite Kirsten, Naitiemu Nyanjom, Paul Shiakallis en Thami Mbenekazi.

Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, was verlede jaar se eerste KKNK Virtuele Galery nie net ’n dawerende sukses nie, maar ook ’n bekroonde inisiatief. “Ons is baie trots om die KKNK Virtuele Galery, ondersteun deur Absa, vir ’n tweede jaar aan kunsliefhebbers te bring.

Die KKNK visuele kunskurator, Dineke van der Walt, het in 2020 die kykNET Fiësta vir Beste Prestasie in Visuele Kuns ontvang en dié inisiatief is in dieselfde jaar genomineer vir Beste Aanlyn Projek,” sê Theart. Hy verduidelik dat die algemene tema vir hierdie jaar se uitstalling Voel • Feel is en dat die aanbod 260 kunswerke deur 83 kunstenaars bevat. “Die uitstalling bevat werklik iets vir almal, met kunswerke te koop vanaf slegs R500. As ’n spesiale bonus kry Absa-kliënte 10% afslag op hul aankope,” sluit hy af.

Absa is ook ’n integrale deel van ander kunsprojekte as deel van die KKNK en in Afrika. Die Absa Maakit Mooi openbare kunsinstallasieprojek is in 2020 vir die derde agtereenvolgende jaar aangebied, al kon die KKNK weens die Covid-19-pandemie nie op Oudtshoorn plaasvind nie. Die projek skep ’n geleentheid vir feesgangers om kuns in verskillende omgewings te ervaar en dien as ’n kunserfenis vir die gemeenskap. Dit is deel van Absa se verbintenis om plaaslike gemeenskappe by die kunste te betrek, en hul inisiatief om geleenthede vir kunstenaars in Afrika te bied om kuns te skep. Materiaal uit die omliggende gebiede word gebruik en die vaardighede en kennis van die plaaslike bevolking word tydens die skeppingsproses ingespan.

As deel van hierdie projek is The Tree of Unity by die Calitzdorp-ingang na Oudtshoorn opgerig. Dit is deur Madeleine Miles gekonseptualiseer en deur kunstenaars Anton Roetz en Callie Koch gebou. Die plaaslike digter, Poem Mooney, het ’n spesiale gedig saamgestel wat by The Tree of Unity geplaas is. Tot dusver het die Absa Maakit Mooi-projek 11 permanente openbare kunswerke op Oudtshoorn, oor die afgelope drie jaar geïnstalleer. Die Oudtshoorn Banketsaal en Fontein is ook as deel van hierdie projek opgeknap.

Behalwe vir die bestuur van Absa se korporatiewe kunsversameling van ongeveer 16 000 kunswerke, die Absa Galery, Money Museum en Absa Argiewe, koördineer Bayliss ook die Absa L’Atelier-kunskompetisie wat aangebied word regoor die 12 Afrika-markte waar Absa teenwoordig is. “Die Absa L’Atelier-kunskompetisie is een van Afrika se mees gesogte kunswedstryde. Dié kompetisie, wat sy 35ste jaar vier, word jaarliks deur Absa aangebied in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging vir die Visuele Kunste (SANAVA). Elke jaar word jong, dinamiese en inspirerende visuele kunstenaars van regoor Afrika die geleentheid gebied om hul talente deur hierdie gesogte kompetisie in die buiteland te ontwikkel. Boonop bied die kompetisie hulle ’n platform om temas en kontemporêre kwessies te ondersoek wat hul potensiaal vir hulle kan ontsluit,” sluit Bayliss af.

As jy lus is vir iets mooi, maar weens die inperking nog meestal by die huis bly, besoek die KKNK Virtuele Galery, ondersteun deur Absa, met verdere ondersteuning van Business and Arts South Africa (BASA), vir ’n verrykende kunservaring. Dit bevat ’n interaktiewe 3D-weergawe wat by https://www.kknk.co.za/afdeling/virtuele-galery/ gesien kan word. Video’s van die galery se openingsaand en die eerste kunsbespreking met al die kurators van hierdie jaar se uitstallings is ook aanlyn beskikbaar.

Die KKNK word ondersteun deur Absa en Media24, met verdere ondersteuning van onder meer die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, die Oudtshoorn Munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton Stigting.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.