Jong vroue-leiers genooi om ervarings te deel, te skakel met die wêreld

Jong swart en bruin vroue van Oudtshoorn kry danksy ’n nuwe projek van die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) ’n unieke kans om te skakel met ander opkomende sterre en leiers in Brittanje. Dié aanlyn projek word aangepak in vennootskap met die Britse Raad in Suid-Afrika.

Die vroue sal deur hierdie opwindende projek belangrike kwessies en invloede in hul onderskeie gemeenskappe ondersoek, oop gesprekke oor die lewe voer en idees verken, gedagtes stimuleer en skakel met die wêreld.

Die ander vennoot in dié projek is Empatheatre as deel van die Britse Raad se Developing Inclusive and Creative Economies-program (DICE) en met die samewerking van die SICK!-fees en die kunsteorganisasie Young Identity, albei in Manchester, Engeland.

“Ons is op soek na selfversekerde, nuuskierige, skeppende en energieke deelnemers,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Ons nooi leiers, denkers, dromers en storievertellers van die KKNK se tuisdorp, Oudtshoorn, om deel te neem aan hierdie aanlyn werkwinkels en gesprekke. Dit vind plaas in April en Mei 2021.”

Drie deelnemers van Oudtshoorn sal gekies word om deel te neem aan die program, wat sal bestaan uit digitale ervarings en werkwinkels wat gefasiliteer sal word deur Britse en Suid-Afrikaanse kreatiewes. Dié mense sal prosesse en metodes inspan wat spruit uit hul eie agtergrond in die teater en performance-poësie.

“Die projek is ’n springplank vir kulturele samewerking op die lang termyn tussen die vennote, met die stemme van jong vroulike leiers as die middelpunt,” sê Theart. Dit sal ’n droom wees wat bewaarheid word indien die drie deelnemers verder betrokke kan raak by ander aktiwiteite en toekomstige projekte van die KKNK.

As jy belangstel, stel jouself bekend in ’n video van 3 tot 4 minute. Jy is vry om jouself op enige manier uit te druk – jy kan byvoorbeeld ’n kort storie oor jou lewe vertel of ’n onvergeetlike ervaring deel. Miskien wil jy vertel van jou belangstellings, vreugdes of frustrasies, of miskien wil jy hardop droom oor jou toekoms. Jy kan jou uitdruk deur humor, drama, dans, sang of ’n kort gedig, dus enige “performance” wat jy verkies. Jy kan na hartelus speel en eksperimenteer.

Voorskrifte vir aansoeke:

  • Ons soek mense wat daarvan hou om ander te ontmoet en met hulle in interaksie te tree en wat nie skaam is om hulle helder en duidelik kreatief uit te druk nie.
  • Die program is vir swart en bruin vroue tussen die ouderdom van 18 en 35.
  • Aansoekers moet in Oudtshoorn woon.
  • Jy moet beskikbaar wees om die agt aanlyn sessies in April en Mei 2021 by te woon. (Spesifieke tye sal nog aangekondig word.)

Doen só aansoek:

  • Stuur jou video via WhatsApp of Telegram na 060 848 8131 of per WeTransfer na shandre@kunste.org.za. Die sluitingsdatum is Vrydag 26 Maart 2021.
  • Jou naam, van, selnommer en e-pos-adres moet ingesluit wees by jou video.

As jy nie binne ’n dag bevestiging kry dat jou video ontvang is nie, of as jy nie jou video kan opneem of stuur nie, bel Shandré Harris by die KKNK-kantoor by 044 203 8600. Jy kan ook met haar ’n afspraak maak dat jou video by die KKNK-kantoor by Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn, opgeneem word.

Suksesvolle kandidate sal ’n geldelike bydrae ontvang om te kan deelneem aan die program. ’n Verwysingsbrief sal aan die einde van die projek aan elke deelnemer gegee word. Kandidate sal toegerus word met die nodige steun en tegnologie om hulle in staat te stel om aan al die sessies en werkwinkels deel te neem.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
Email