Karen Zoid veil ReWOLusie-komberse vir liefdadigheid op

Vyf komberse van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se ReWOLusie-projek, word volgende week (Maandag 26 en Dinsdag 27 Oktober) deur Karen Zoid opgeveil. 

Zoid het sedert die grendeltyd verskeie suksesvolle veilings aangebied en gaan hierdie week vyf pragtige gehekelde komberse op Facebook opveil. Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, nooi belangstellendes uit om deel van die pret te wees. “Karen Zoid is ’n jarelange vriend van die KKNK en dit is werklik wonderlik dat sy haar platform gebruik om die ReWOLusie-projek te ondersteun en help. Hierdie is jou geleentheid om op ’n handgemaakte kombers te bie. Die veiling se opbrengs word vir liefdadigheidsprojekte gebruik”, sê hy.  

Die vyf komberse is deur vier Oudtshoorniete gehekel. Monica Vorster hekel al vandat sy sewe jaar oud is en sê om te hekel is vir haar een van die lekkerste dinge om te doen. “Ek dink hekel is verslawend.” Haar kombers van 1,4m x 1,5m word opgeveil. Lizbe Strydom vertel dat haar passie vir hekel haar deur ’n moeilike tyd gehelp het. “Ek het hierdie kombers (1,2m x 1,2m) gehekel toe ek my broer verloor het. As dit nie vir my hekelwerk was nie, sou dit vir my nóg moeiliker gewees het.” Yvonne Conradie het haarself in Graad 7 geleer om te hekel en hekel nou al bykans 40 jaar. “Hekel is vir my lekker, dit is vir my ’n stokperdjie en ek geniet dit baie. Ek sien elke dag uit daarna om op te staan en te begin hekel.” Haar kombers is 1m x 1m groot. Twee van Charline Stuurman se komberse word opgeveil. “Hekel is vir my ’n bron van inspirasie. My passie is vasgevang in ’n bol wol en ’n hekelnaald. Dit bring my kreatiewe kant na vore. Ek hou daarvan om deel te wees van gemeenskapsprojekte.” Haar komberse is onderskeidelik 1,85m x 2,4m en 1,15m x 1,9m groot. 

In 2019 is feesgangers met die aanvang van die 25ste KKNK verras met breiwerk wat Oudtshoorn se strate oornag verfraai het – van bome en pilare, tot motors en ander voorwerpe is met kreatiewe hekelwerk mooigemaak as deel van hierdie nuwe dorpsinisiatief, die ReWOLusie. 

Hierdie gemeenskapsprojek is vroeër vanjaar vereer met die Blou Fiësta vir uitsonderlike bydrae. “Die bolle en bolle wol se kunswerke, wat die strate en lamppale en enige plek waar jy gekyk het, versier het, het ’n unieke en homogene identiteit aan die strate van Oudtshoorn gegee tydens die KKNK. Dit het boekdele gespreek oor hoe gemeenskappe kan saamwerk om kuns vir ’n goeie doel te skep”, sê Johan van Lill, sameroeper van die Fiëstapaneel.

Ten spyte daarvan dat die KKNK weens die Covid-19-pandemie nie vanjaar op Oudtshoorn kon plaasvind nie, het hierdie projek Oudtshoorn steeds in 2020 verfraai, maar ook ’n daadwerklike verskil gemaak in die gemeenskap. Oudtshoorniete het saamgekom om komberse te hekel en skenk aan behoeftiges in die Oudtshoorn-omgewing, en projekte is in die nabygeleë plaasgemeenskappe geloods om mense te leer hekel en brei. 

Die projek het tydens vanjaar se winter komberse uitgedeel aan inwoners van Helen Bellinghanhof, Coronation Memorial, Eljada Nasorg, ACVV De Rust en individue waar die nood groot is.Die Oudts­hoorn-hospitaal en Toekomsrus-kliniek het komberse ontvang om aan mammas met nuwe babas uit te deel en daar is verder gehelp om nood by kerke en in die gemeenskap te identifiseer. Komberse is só ook in Dassieweg uitgedeel. 

Van die komberse wat vir die ReWOLusie gehekel en gebrei is, is uitgehou en vir ruilhandel beskikbaar gestel. Inwoners kon twee of drie warm winterkomberse ruil vir ’n uniek gehekelde kombers. Sodoende is daar amper drie keer meer komberse ingesamel. Van hierdie warm komberse is aan die seuns by Huis Triomf en die Oudtshoorn Vaardigheidskool uitgedeel.

Madeleine Miles is aan die stuur van hierdie projek en het lewe gegee aan haar idee met behulp van die KKNK. “Daar is ’n paar dinge waaroor ek passievol is. Hekelwerk is natuurlik een van hulle. Die ander is ons pragtige dorp Oudtshoorn, sy mense en die KKNK. Toe ek aanvanklik die idee gehad het om die gemeenskap te kry om die dorp vir die 2019 KKNK te wol-bom, het ek nooit verwag dat dít die uitkoms sou wees nie.” Miles verduidelik dat die projek aanvanklik daarop gefokus was om kuns uit hekel- en breiwerk te skep, maar dat ReWOLusie vandag sinoniem is met die vreugde van deel wees van ‘n gemeenskap, die vreugde om van mekaar te leer en om iets saam te skep. “Daar is nog so baie wat ons wil en kan doen in ons gemeenskap, en dit met ’n bol wol … wie sou kon dink?” sluit Miles af.

Absa het die vroue wat by die projek betrokke is, se stories te vertel deur ’n beperkte-uitgawe koffietafelboek te skep wat hulle inspirerende stories, werk en patrone ten toon stel. “Absa se vennootskap met Kunste Onbeperk en die gemeenskap, deur die Oudtshoorn ReWOLusie-projek, bemagtig vroue en ontwikkel hulle vaardighede deur hekel- en breiwerk”, vertel David Wingfield, Absa se hoof van bemarking. Hierdie pragtige koffietafelboek kan bestel word by die KKNK. Dit kan landswyd koerier word.

Theart nooi verder enigeen wat wil deel wees van die derde ReWOLusie om hulle te kontak. “Van skenkings van wol, of fondse om wol en penne mee aan te skaf, tot jou eie stukkies brei- en hekelwerk – elkeen kan bydra tot die vreugde”, sê hy.

Kontak Daleen Witbooi by 044 203 8600, of stuur ’n e-pos na info@kunste.org.za en word deel van die 2021 ReWOLusie. Besoek www.facebook.com/rewolusie vir meer inligting.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
Email