Kreatiwiteit word by die vyfde Teksmark gevier

’n Rekordgetal tekste word van Woensdag 28 tot Vrydag 30 Oktober as leesteater by Kunste Onbeperk se vyfde Teksmark aangebied. 

“Ons sien daarna uit om in hierdie buitengewone jaar, kreatiwiteit in die teaterbedryf te vier en aan skrywers die geleentheid te bied om uittreksels uit hul opwindende nuwe verhoogtekste ten toon te stel”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk.

Teksmark word moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxterteatersentrum, waar dit in die Golden Arrow Studio, op die hoek van Hoof- en Burgstraat in Kaapstad, aangebied word.  ’n Rekordgetal van 122 inskrywings is vanjaar ontvang. 22 voorstelle word by Teksmark aangebied.

“Met die koronavirus-pandemie wat die wêreld verwoes en die kunste en kunstenaars in nood laat, is ons verheug om Teksmark terug te verwelkom by die Baxter onder vlak 1-beperkings, met alle Covid-19-protokol wat gehandhaaf word. Alhoewel wat die Baxterteater doen en hoe ons dit doen, effens verskil van vorige jare, bly ons verbintenis tot Teksmark en die kweek van jong kunstenaars, skrywers en storievertellers onveranderd”, sê Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxterteatersentrum.

Die titels van die 22 tekste en die skrywers is: !Nau en ander drama deur Jolyn PhillipsAlleensaam deur Wim VorsterAskaria deur Dianne Du Toit AlbertzeBientang deur Riana ScheepersCovid Moons deur Clare StopfordDie sondige sewe deur Niël RademanDroomwerk deur Pieter Odendaalgrot deur Kanya ViljoenIingxoxo zelobola deur Anele KoseLove, Lafras deur Caitlin WiggillPakslae / Hiding deur Jeani Heyns, Chad Baai en Zoë ChettyPelegi deur Tshegofatso MabeleThe Spotlight Tonight deur Ian TuckerThe Valley of the Shadow deur Qondiswa James, Tankiso Mamabolo, Tiisetso Mashifane wa Noni, Malika Ndlovu, Wessel Pretorius en Mike van GraanWhat We Wish For deur Mike van GraanAl dra ’n aap ’n goue ring deur Margo KotzéBut, Baby I Love You deur Andrico GoosenDie Workshop deur Fabian RainersIt’s My Baby deur Xolisa NgubelangaKokon deur Carlo DanielsMannetjie deur Gerhard Visagie en The Infinite Woman deur Misha Krynauw.

Verskeie regisseurs en akteurs is betrokke by die uittreksels wat aangebied word, soos onder andere Antoinette Kellermann, June van Merch, Denise Newman, Abduragman Adams, André Roothman, Rehane Abrahams, Wolf Britz, Marion Holm, Greg Karvellas, Martelize Kolver, Cintaine Schutte, Gary Naidoo, Carel Nel, Charlton George, Stian Bam, Lesego Chauke, Frazer Barry, Qondiswa James, Veronique Jephtas, Stefan Erasmus, Wian Taljaard, Thami Baba, Nhlanhla Mkhwanazi, Tara Notcutt, Tankiso Mamabolo, Carla Smith en vele meer.

Verlede jaar se Teksmark is aan veeltaligheid van die voorstelle gekenmerk, asook aktuele gesprekke tussen die gehoor en geselskappe wat deelgeneem het. Vanjaar word voorstelle inAfrikaans, Engels, isiXhosa en seSotho ingesluit.

Cornelia Faasen, die uitvoerende hoof van NATi is dit eens: “Dit is bykans ondenkbaar dat ons net ’n jaar gelede by Teksmark 2019 vergader het. Die planne en opwindende idees en nuwe skrywers wat daar gevorm het, voel soos ’n leeftyd gelede. As ons hierdie jaar een ding geleer het, is dit dat die wêreld sonder teater en spesifiek lewendige teater, ’n baie vaal en vervelige plek is. ’n Bykans sinnelose plek.”

Kunste Onbeperk nooi belangstellendes uit om hul opinies oor die tekste te kom deel. Vooraf registrasies vir bywoning moet gedoen word en daar is elke dag slegs ’n beperkte aantal sitplekke per sessie beskikbaar, in-lyn met die huidige Covid-19-regulasies. Ander Covid-19-protokol word ook gevolg tydens die aanbied van Teksmark. 

Vir meer inligting en om te registreer besoek www.kknk.co.za/teksmark of skakel 044 203 8600 of stuur ’n e-pos na lizane@kunste.org.za.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
Email