Die doel is om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en aan skrywers ’n geleentheid te bied om hul idees en tekste vir moontlike verdere ontwikkeling aan belanghebbendes in die teaterbedryf bekend te stel. Alle skrywers (hetsy gevestig of opkomend) kan deelneem.
Voorstelle word oorweeg om oor drie dae as leesteater by die Teksmark in Kaapstad aangebied te word. Verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers word na die Teksmark tussen 28 en 30 Oktober 2020 genooi.
Tydens die Teksmark kry skrywers die geleentheid om oor hul teksidees te gesels. Die mark is oop vir enige van die belanghebbendes om met skrywers te onderhandel oor moontlike belegging in en verdere ontwikkeling van hul tekste.
Omdat daar beperkte tydgleuwe beskikbaar is, kies ’n paneel ’n aantal tekste. Regisseurs en akteurs word in oorleg met die skrywer aangestel om die uittreksels op te voer.
Noemenswaardige suksesse sedert die eerste Teksmark
Tien tekste is tot volwaardige produksies ontwikkel.
Vier tekste is in ontwikkeling en sal in 2021 debuteer.
Twee skrywers het pryse ontvang vir hul nuutgeskrewe tekste: Marina Albertyn vir Melk & Vleis (Aardklop-prys vir beste nuweling en ’n kykNET-Fiësta vir beste nuutgeskrewe teks) en Bauke Snyman vir Swerfgoed (KKNK Kanna-prys vir beste nuutgeskrewe teks).
Vier skrywers het benoemings vir hul tekste gekry: Amee Lekas vir Die dans van die watermeid (Fleur du Cap-prys vir beste inheemse teks), Du Toit Albertze vir Die meermin-kompleks (KKNK-prys vir beste nuutgeskrewe teks), Bauke Snyman vir Swerfgoed (Fleur du Cap-prys vir beste inheemse teks) en Herschelle Benjamin vir In Slawenhuis 39 (KykNET Fiësta-prys vir beste nuutgeskrewe teks).