fbpx

Bekroonde Afrikaanse rolprent eksklusief op KKNK-platforms te sien

Fliekvlooie kan van 21 September tot 1 Oktober die nuwe, bekroonde Afrikaanse rolprent Stam eksklusief, vir ’n beperkte tydperk op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se digitale platforms kyk.

Stam is verlede Saterdag (19 September) as die beste Suid-Afrikaanse rolprent by die Durbanse Internasionale Rolprentfees aangewys. 

Die rolprent, uit die pen en met regie deur Louw Venter en vervaardig deur die span van Inxeba (The Wound) wat in 2017 met vele toekennings bekroon is, is volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK ’n uitsonderlike Afrikaanse rolprent wat belangrike kwessies aanspreek. “Die rolprent sou landwyd in rolprentteaters vrygestel word, maar as gevolg van die Covid-19-pandemie was dit nie moontlik nie. Dit is vir die KKNK ’n groot voorreg om dit eksklusief aan die publiek beskikbaar te stel.”

Stam word moontlik gemaak met die ondersteuning van M-Net, kykNET, die Suid-Afrikaanse Departement van Handel en Nywerheid (SHN), die Netherlands Film Fund, die Netherlands Film Production Incentive en die Nasionale Rolprent- en Videostigting.

“Dit is vir beide die KKNK en die rolprentmakers belangrik om gesprekke rondom die kwessies wat die rolprent aanraak te inisieer en daarom bied ons ook geleenthede vir gesprekke met die rolprentmakers, akteurs en kenners om verder oor dié onderwerpe te gesels”, vertel Theart. Hy sê die gesprekke wat tussen 28 September en 1 Oktober virtueel plaasvind,  sluit temas in soos: Wat ons nie van geslagsgebaseerde geweld sê niedie trauma van versorging; en die verhouding tussen verslawing en verbondenheid. “Toegang tot en deelname aan hierdie drie gesprekke, is by die kaartjieprys ingesluit”, sluit Theart af.

Vervaardiger Elias Ribeiro, van die produksiemaatskappy Urucu, sê dit is opwindend om iets heeltemal nuut te probeer deur met die KKNK saam te werk vir Stam vir uitreiking in Suid-Afrika. “Ons sien daarna uit dat dié rolprent nou ver en wyd deur gehore in die gemak van hulle eie huise geniet kan word”, meen Ribeiro.

Bekende rolprentresensent Leon van Nierop, beskryf Stam as “’n barshou vir Afrikaanse rolprente”. Stam verweef die lewens van vyf baie uiteenlopende karakters deur die loop van ’n paar ure in die middestad van Kaapstad. “Ons word nou meer as ooit vantevore gedwing om na die betekenis en belangrikheid van menslike verbintenisse te kyk – dié tema vorm die kern van die rolprent,” sê regisseur Venter. “Die pandemie het onomwonde bewys dat daar magte is wat ons aan mekaar verbind, magte wat kragtiger is as wat ons ooit sou kon dink. Ons is almal deel van mekaar se stories. Stam is ’n ontginning van die onsigbare kettings wat ons aan mekaar bind. Verbintenisse en verhoudings wat baie verder as faam, die ekonomie, geslag, ras of sosiale aansien strek.”

Stam se indrukwekkende rolverdeling word gelei deur Inge Beckmann (8, The Dark Tower, TroyFall of a City en Escape Room), Gideon Lombard (Suidooster, Lien se Lankstaanskoene, Black Sails en Twee Grade van Moord), Tarryn Wyngaard (Tess, Noem my Skollie en Arendsvlei) en Niza Jay (Inxeba en Validictory), met Armand Aucamp (Sterlopers, Ballade vir ’n  Enkeling en Wat kook by Andre Aucamp), Nicola Hanekom (Sinbad, Song vir Katryn, Isidingo, Charlie Jade, Fishy Feshuns, Shado’s en Heartlines), Jill Levenberg (Noem my Skollie, Suidooster, Rugby Motors, Final Verdict, Stokvel en A Place Called Home) en Oscar Peterson (VloeksteenDie Byl, Traffic!, Suidooster, Die Boland Moorde, Swartwater, Sara se Geheim en Parlement Parlement) in ondersteunende rolle. 

Volgens Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution – Stam se verspreiders – is die internasionale rolprentbedryf in 2020 in ’n virtuele rigting gestuur en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. “Ons leef in ’n hiper-gekonnekteerde, veranderlike wêreld en ons het van die vertoon van rolprente in flimteaters beweeg na stromingswebwerwe wat aan verbruikers onmiddellike bevrediging bied. Gehore is nou in beheer van wat hulle kyk, hoe hulle dit kyk en wanneer hulle daarna kyk.” 

’n Kaartjie om Stam op die KKNK se digitale platforms te kyk, kos slegs R50 en is beskikbaar by Quicket. Die drie webinaars waar die temas in die fliek bespreek word, bied eksklusief aan kaartjiekopers die geleentheid om deel te neem aan die gesprekke. Die gesprekke word ook gestroom vir die publiek om te kyk. 

Die rolprent is in Afrikaans en Engels, met Engelse onderskrifte beskikbaar. Sien Stam se lokprent en vind meer inligting oor die rolprent by www.kknk.co.za/stam/.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
Email
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google