fbpx

BOEKGESPREKKE


Feesgangers kan daagliks gesprekke met skrywers in verskeie genres, oor hul nuutste publikasies by die ATKV-Boeke-oase in die Netwerk24 Feeskafee, bywoon. Kom luister na die kreatiewe denkers en kom meer te wete van hul prosesse.

VENNOTE:
NB-UITGEWERS, LAPA, PENQUIN, NALEDI EN PROTEA BOEKHUIS

Tronkhond
MET China Mouton GESPREKSLEIER Elna van der Merwe 

Die verrassing van 2019! Was daar al so ’n boek in Afrikaans? Dis die storie van ’n bewaarder wat ’n hondemeester geword het in van Suid-Afrika se maksimumsekuriteit-gevangenisse. Soos China Mouton voor in sy boek skryf: “Die helfte van wat hier aangaan, is nog nooit vertel nie.” In hierdie wêreld veg bendes tot die dood toe en bewaarders rug-teen-rug en soms letterlik met die rug teen die muur, waar hulle saam met hul honde die vrede moet herstel. China skryf hoe hy op 16 uit die skool is en op Kroonstad as bewaarder opgelei is, ’n werk wat hy byna 35 jaar gedoen het. Van die aangrypende dele in sy boek is wanneer hy oor sy dapper honde skryf. Kom luister hoe hy vertel van Storm, Carlos, Wolfie, Brutus en hul opvolgers – en van sy interessante idees vir sy tweede boek.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 24 Maart 10:00 | Gratis


Die dinge van ’n kind
MET André Trantraal, Susan Ongansie en Bianca Flanders GESPREKSLEIER Izak de Vries 

Drie opwindende skrywers saam op een verhoog gesels oor hul boeke vir kinders. Die aktrise Bianca Flanders se eerste boek, Prinses Pampoenpit, gaan oor ’n dogtertjie wat nie van haar woeste krulle hou nie. Bianca tree gereeld by geleenthede op waar sy jongmense aanmoedig om lief te wees vir die hare waarmee hulle gebore is. André Trantraal is die skrywer én illustreerder van Keegan en Samier, ’n nuwe reeks vir kinders wat pas verskyn het. Susan Ongansie, ’n onderwyseres van Oudtshoorn, se Kattekwaad is ’n voorleesboek vir kleintjies. Dit help hulle met getalbegrip en ruimtelike oriëntasie. Bring die kinders op 25 Maart Speelbos toe waar dié drie skrywers weer gaan optree.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 24 Maart 12:00 | Gratis


Drie dorpsmense
MET Hannes Visser, André Boezak en Tania Smit GESPREKSLEIER Elna van der Merwe

Kom luister na drie van Oudtshoorn se skeppende inwoners. Hannes Visser is bekend as die redakteur van die plaaslike koerant, Oudtshoorn Courant, maar ook as digter. Sy digbundel, Die jaar toe pa, is verlede jaar deur Naledi uitgegee. André Boezak is ’n predikant en gemeenskapsleier en ook musiekmaker, digter en skrywer. Uit sy pen kom onder meer Staanmaakhuis: verhale & verse en ’n Bek issie ding wat afdraend praat. Hy gesels onder meer oor selfpublikasie. Tania Smit het op Facebook begin skryf oor dinge wat haar raak en toe dit duisende “likes” begin kry, het sy dit in boekvorm as Hekelwoorde van my hart uitgegee.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 24 Maart 14:00 | Gratis


Vywervrou
MET Chanette Paul GESPREKSLEIER Izak de Vries 

As jy lief is om jou van mens en dier te onttrek en jou sit of lê te kry met ’n dubbeldik romantiese boek moet jy kom luister hoe gesels Chanette Paul oor haar nuutste trilogie. Lira, Mirre en Corali woon in Vywerbaai, ’n idilliese stranddorpie êrens aan die Kaapse kus. Die drie heldinne se lewe is egter nie altyd so idillies nie: Lira word ná ’n verhouding van sewe jaar per SMS gelos deur haar ou. Mirre vlug weg van haar man, ’n beroemde TV-huweliksberader, wat in die binnekamer nie huiwer om sy hand te lig vir sy vrou nie. Corali keer ná jare uit Frankryk terug na Vywerbaai, waar sy as kind dikwels heen gekom het. Dié begaafde kunstenaar het alles en almal verloor wat vir haar kosbaar is. Chanette vertel hoe ’n mens dit regkry om jou lesers bietjie van die werklikheid te laat wegkom en om net vir die lekker te lees.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 25 Maart 10:00 | Gratis


Die storie agter Karoo Suite 2: Karoonagte
MET Deon Meyer en Coenie de Villiers GESPREKSLEIER Elna van der Merwe 

Drie jaar lank al deel dié twee kunstenaars die verhoog met Karoo-stories en musiek wat daarby pas. Nou kom vertel Deon Meyer en Coenie de Villiers van hul gewilde verhoogstuk se opvolg, Karoo Suite 2: Karoonagte. Deon het ses nuwe verhale oor die Karoo en sy nagte geskryf en Coenie skryf die musiek om die verhale te ondersteun. Coenie verduidelik dit so: “Dis mooi stories deur ’n meesterverteller (en almal op die waarheid gegrond), ondersteun deur musiek en beeldmateriaal deur my en die kitaar-maestro Mauritz Lotz. Dis eintlik ’n liefdesbrief aan die Karoo en sy eindelose sterrehemel.” Hulle kom vertel hoe twee skeppende mense mekaar aanvul en aanspoor om iets unieks tot stand te bring.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 25 Maart 12:00 | Gratis


Blinde gode
MET Dibi Breytenbach GESPREKSLEIER Elna van der Merwe 

In die onstuimige KwaZulu-Natal woon ’n regsgeleerde wat ná werk skryf (ja, sy wil nie sê presies wat sy doen of waar sy woon nie, want wie weet wie dit sal irriteer?). Dibi Breytenbach is besig om te ontpop in ’n misdaadskrywer wat saam met die grotes in Afrikaans praat. Een van die redes hiervoor is moontlik dat sy – anders as die meeste ander skrywers – in die bedryf is en eerstehands te doen kry met moord en doodslag. Sy hoef dus nie navorsing te gaan doen oor renosterstropery en ander boewery nie; dis deel van haar dagtaak om boewe aan die pen te laat ry. Blinde gode is die middelste van haar trilogie, wat Dowe gode en Stom gode insluit, en wat renosterstropery as tema het. Sy gesels oor die fiktiewe wêreld van boosheid en hoe dit haar in die regte lewe raak.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 25 Maart 14:00 | Gratis


1 Recce: Agter vyandelike linies
MET Alexander Strachan GESPREKSLEIER Erns Grundling 

Alexander Strachan se Recce, Die nag behoort aan ons het ’n topverkoper geword. Die opvolg, 1 Recce: Agter vyandelike linies (volume 2), beloof om dieselfde pad te loop. Dit sal nie net spreek tot mans wat self in die sewentigerjare lewensgevaarlike operasies in Angola en die destydse Rhodesië uitgevoer het nie. Enige leser wat belang stel in ware oorlogsverhale – en in hierdie stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis – sal die gesprek tussen Alexander en Erns hoogs interessant vind. Kom luister hoe dapper soldate hul lewe gewaag het in vliegtuie, duikbote en nagdonker riviere.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 25 Maart 15:30 | Gratis


Maklik met Marinda
MET Marinda Engelbrecht GESPREKSLEIER Elna van der Merwe 

As Marinda Engelbrecht tyd gehad het, sou sy ’n loopbaan as komediant kon oorweeg. Of sy haar kosprogram, Maklik met Marinda, op Via aanbied of vroue landwyd toespreek oor kosdinge, konsert hou is deel van haar styl. Plaas sy ’n resep op sosiale media, kry sy binne ’n dag duisende “likes”. Juis omdat soveel vroue haar al gevra het waar hulle haar resepte te lese kan kry, het Via besluit om dit in ’n glanspublikasie uit te gee. Al haar grootste wenners is hierin, onder meer die drie-bestanddele-vrugtekoek, Ma se hoenderpastei en krummelappeltert. Sy kom vertel hoe maak jy om kos op die tafel te kry wat jou mense versadig en gelukkig maak en waarvoor jy nie allerhande volksvreemde bestanddele en metodes nodig het nie.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 26 Maart 10:00 | Gratis


Sushi en Shosholoza
MET Erns Grundling GESPREKSLEIER Elna van der Merwe 

“Hoekom Japan?” vra Erns Grundling in sy nuutste reisboek. “Ek kon seker op ’n makliker of meer bekende bestemming besluit het, soos die Portugese Camino.” (Sy vorige boek, Elders, was oor sy Camino-staptog.) “Ek het egter gevoel dis tyd vir ’n nuwe avontuur, verkieslik na ’n onbekende en eiesoortige plek.” Hy vertel van sy pelgrimstog in dié mistieke land met sy unieke kultuur waar goeie maniere jou ver bring, maar dis ook ’n rugbyreis en hy doen onderhoude met Suid-Afrikaanse rugbymense in Japan soos Jake White en Dan Carter. As gesoute joernalis is Erns natuurlik ’n vlot skrywer, maar in die regte lewe is hy net so ’n heerlike storieverteller. Kom luister na sy staaltjies – veral die nuwes nadat hy gaan kyk het hoe die Bokke hond haaraf maak in die Wêreldbeker.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 26 Maart 12:00 | Gratis


My naam is Prins, ek slaap met die lig aan
MET Christine Barkhuizen-le Roux GESPREKSLEIER Elna van der Merwe 

Ongelukkig is daar te veel sulke stories. Ongelukkig ken ons nie genoeg sulke stories nie, want die mans wat seuns seksueel misbruik, is slim. Hulle het vele maniere om jare lank met hul misdade weg te kom, veral omdat hulle dikwels gerespekteerde mense in hul omgewing is wat nie maklik verdink word nie. Klink dit bekend? In dié geval is dit fiksie, want Christine Barkhuizen-Le Roux het ’n roman geweef rondom hierdie tema. Pa Pietie is “ ’n vrolike oom met ’n wit krulkop” wat op ’n plattelandse dorpie ’n groot rol speel in jong seuns se lewe. Hulle is deur die bank kinders wat vatbaar is vir die toegeneentheid van ’n volwassene, óf omdat hulle ouerloos is óf op ’n ander manier weerloos is. Jare later keer van hulle terug vir ’n reünie en begin die legkaartstukke in mekaar pas. Christine vertel in haar KKNK-gesprek hoekom sy in “bloedhete woede” begin skryf het aan My naam is Prins, ek slaap met die lig aan.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 26 Maart 14:00 | Gratis


Gaan Suid-Afrika oukei wees?
MET Jan-Jan Joubert GESPREKSLEIER Kabous Meiring 

Mense vra graag vir Jan-Jan Joubert vrae, miskien omdat hulle dink as gesoute politieke joernalis beweeg hy in kringe waar sake bespreek word wat ons toekoms raak. Hy probeer 17 van die vrae te beantwoord wat hy die meeste gevra word in sy boek Gaan Suid-Afrika oukei wees? Daar is Eskom-probleme wat blykbaar soos die pes altyd met ons sal wees (dis so onlangs soos 2001 as een van die beste elektrisiteitsvoorsieners ter wêreld beskou), Julius Malema (“Hy is charismaties, interessant, bekkig, intelligent … en in baie kringe die mees gevreesde en verafskude politikus in Suid-Afrika”), het Afrikaans ’n toekoms, ens. “Waarvoor ’n mens in sulke tydperke van pessimisme moet oppas, is negatiwiteit. Negatiwiteit kan jou lamlê en jou vermoë kniehalter om vlugvoetig te dink en geleenthede te benut,” skryf Jan-Jan. Kom luister na inligting uit die binnekringe wat jou rede tot hoop kan gee.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 27 Maart 10:00 | Gratis


Die nuwe Afrikaanse prosaboek
MET Sonja Loots en Christine Barkhuizen-le Roux GESPREKSLEIER Frederik de Jager 

In dié byna baksteendik boek is 149 kortverhale deur 58 skrywers. Sonja Loots, wat saam met Steward van Wyk die samesteller van die boek was, sê in ’n onderhoud hulle was self verbaas toe die boek so dik word, maar dis omdat hulle heeltemal meegevoer geraak het met hul taak. Hier is bekende verhale en minder bekendes wat verkeerdelik vergete geraak het. Hier is ook splinternuwes deur gevestigde skrywers asook deur ’n paar nuwelinge. Van die klassiekes is Jan Rabie, T.T. Cloete, E. Kotze, Riana Scheepers, Breyten Breytenbach en Rachelle Greeff. Ander gewilde skrywers is onder meer Dana Snyman, Diana Ferrus, Kirby van der Merwe en Marlene van Niekerk. Daar is ook bydraes deur bekende rubriekskrywers soos Nathan Trantraal, Herman Lategan en Nataniël. So ’n verkorte lys name doen die boek egter ’n onguns aan, want hier is deur die bank uitstekende verhale wat soos ’n bybel maar altyd op ’n mens se bedkassie kan lê. Loots vertel hoe sy en Van Wyk gemaak het om hierdie skatkis bymekaar te maak. Christine lees voor uit haar verhaal.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 27 Maart 12:00 | Gratis


In my vel
MET Azille Coetzee GESPREKSLEIER Sonja Loots 

Azille Coetzee gaan Nederland toe om verder te studeer. Sy behaal op 30 ’n doktorsgraad in die filosofie met geen plan om terug te keer Suid-Afrika toe nie, want sy het haar hart op die land en een van sy inwoners verloor. Sy wonder waarom sy 27 jaar in Afrika “rondgeploeter” het en wonder ook oor haar identiteit. “Nie eens in my Afrikaansheid self vind ek ’n maklike antwoord op my identiteit nie. En wat is ons kultuur? Is dit al die boeretradisies (daardie two-tone-hemde?) en die godsdiens? Is dit die boerekos?” skryf sy. Dan besluit sy tog om terug te keer omdat sy begin agterkom die geordende, maklike lewe in Nederland is nie vir haar so “vervullend, ryk en betekenisvol soos my Suid-Afrikaanse bestaan nie”. Sy sê in ’n onderhoud: “As wit Afrikaner verstaan ek dat ’n toekoms in hierdie land ongemak en werk van my gaan vereis.” Sy gesels oor haar bevoorregting en die verantwoordelikhede wat sy het teenoor ander.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 27 Maart 14:00 | Gratis


Die biblioteek aan die einde van die wêreld
MET Etienne van Heerden GESPREKSLEIER Frederik de Jager 

Die Afrikaner was net ’n historiese vergissing, sê ’n bejaarde romanskrywer een aand aan tafel by Ian Brand, een van die hoofkarakters, se ouers. “Ons klou nog vas aan nostalgie deur ou voorblaaie van Landbouweekblad uit te stal. Ou uitgawes van tydskrifte in gedenkuitgawes weer uit te gee. Te lees oor kosters en voetestamp en hanslammers, kerkbasaars en ou treinhaltes. “Maar als was net ’n droom. Ons kultuur is soos ’n groot biblioteek wat in ligte laaie staan. ’n Oogknip in die tyd, die wit stam van Afrika.” Sy en haar tafelgenote nader die einde van hul lewe aan die suidpunt, maar Ian en die woedende FeesMustFall-Thuli, wat saam met hom ’n nagraadse kursus by die Universiteit van Kaapstad doen, moet (oor)leef in ’n onsekere era waar alle betekenis geskuif het tot wie weet waar. Daar is fopnuus, die verlies aan privaatheid deur gevorderde tegnologie in China (waar anders?), onsekerheid oor identiteit, – alles wat jou baie, baie ongemaklik oor jou toekoms laat voel. Kom luister hoe ’n meesterstorieverteller met ’n mens se kop kan smokkel.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 27 Maart 15:30 | Gratis


For the Love of the Land
MET Ivor Price en Kobus Louwrens GESPREKSLEIER Kabous Meiring 

Dis nie maklik om ’n boer te wees nie, en in Suid-Afrika staan hierdie voedselverskaffers voor ongelooflike uitdagings. Ivor Price en Kobus Louwrens se boek word “ ’n ode aan ons landbouers” genoem. Ivor het in ’n onderhoud verduidelik dat hulle “die skone diversiteit van landbou wou wys; wat met die mense praat wat elke liewe dag help om voedselsekerheid in Suid-Afrika te help in stand hou. Ons wou hulle absolute toewyding tot die land dokumenteer. Hoe boere plattelandse gemeenskappe aan die lewe hou. Hoe hulle inspring waar die plaaslike regeringstrukture mense in die steek gelaat het. Hoe hulle huise, skole, klinieke en hospitale bou en paaie regmaak.”

Kobus is ’n voormalige omgewingsjoernalis en sê hy is “baie bewus van kwessies oor voedselsekerheid, so ek het die sektor altyd met belangstelling dopgehou”. Ivor en Kobus is medestigters van FoodForMzansi.co.za. “Ons deel hier die suksesverhale en goeie nuus van die plase en agri-besighede wat Suid-Afrika voed.” Kom vra hulle uit oor wat nie in hul boek staan nie en waarom hulle besluit het om dit in Engels te skryf.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 28 Maart 10:00 | Gratis


In gesprek met Waldimar
MET Waldimar Pelser GESPREKSLEIER Wicus Pretorius 

Waldimar Pelser is ’n onverskrokke joernalis wat nie huiwer om Zuma ’n stommerik te noem en te verwys na die falanks skurke by hom nie. Oor die wanbesteding van geld het hy onder meer op TV gesê: “Zuma en sy vroue lag vir ons van agter die weerkaatsende ruite van Range Rovers en Audi’s.” Na Hlaudi Motsoeneng, gewese SAUK-baas, het hy verwys as ’n malletjie. Hy wou ook weet waarom is dit net studente wat betoog; waarom betoog ons nie almal oor staatshospitale en duisende openbare skole wat agteruitgaan nie?

Pelser is die aanbieder van kykNET Verslag se aktuele TV-program In gesprek. Hy is al drie keer met ’n ATKV-Mediaveertjie as beste aanbieder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram bekroon. In sy boek is die inleidings saamgevat wat hy vir dié program skryf. Kom luister hoe gesels Rapport se redakteur oor sy “100 beste ontledings, inleidings en beledigings”. En kom vra hom gerus of hy in politieke korrektheid glo.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 28 Maart 12:00 | Gratis


Anderman se vrou en Bloedsteen
MET Chris Karsten en Irna van Zyl GESPREKSLEIER Douw Steyn 

“Anderman is nie ʼn tipiese misdaad/speurverhaal waarin ʼn speurder ʼn moord moet oplos sodat reg en geregtigheid geskied nie,” vertel Chris Karsten in ’n onderhoud. “Die hoofkarakter, Wim, is ʼn alledaagse kêrel wat eerder na die ‘waarheid’ soek as na geregtigheid en ontmaskerings. Daarom lei sy speurtog na geestelike onthullings en transformasies, iets soos die metamorfose van eier tot wurm tot papie tot skoenlapper – presies hoe Rachel haar transformeer van die naïewe randeier in Seisoen van sonde tot waar sy nou haar sekslose huwelik begin bevraagteken.” Bloedsteen is Irna van Zyl se derde misdaadroman en dié keer moet die speurders Storm van der Merwe en Andreas Moerdyk die dood van ’n beroemde modeontwerper ondersoek en ’n kosbare rooi diamant opspoor. Die storie begin waar Storm se ma onder ’n trein in Londen inval. Hou dié voorval verband met die dood van die modeontwerper en wat van die verlore diamant?

“Ek is opgewonde oor Bloedsteen, ek probeer iets anders in hierdie boek en beweeg nie net buite landsgrense nie, maar speel ook bietjie met tydsgrense en interessante nuwe karakters soos Whitey van Worcester,” sê Irna.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 28 Maart 14:00 | Gratis


Zola
MET Johan Jack Smith GESPREKSLEIER Irna van Zyl 

Zola vertel die verhaal van ’n rooi taxi wat jong vroue in Johannesburg oplaai, waarna hulle grusaam deur die bestuurder gemartel en vermoor word. Maar dit is ook die storie van die polisielede wat die saak probeer oplos, ongeag persoonlike probleme wat hul lewe vergal. Dit is die verrassende debuut van Johan Jack Smith, die redakteur van Taalgenoot. Hy vertel in ’n onderhoud hoe belangrik lees en navorsing vir hom as skrywer is. “Ek het ook onderhoude gevoer met polisielede (vandag s’n en uit die ou bedeling), asook met ’n gerehabiliteerde dwelmslaaf.”

Kom luister waarom hy nie soos Deon Meyer sy lesers met spanning ontstel nie, maar die bloed-en-derms-genre verkies.

Afrikaans | Gesin | 60min. | ATKV-BOEKE-OASE | 28 Maart 15:30 | Gratis

Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google