Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die Fugard-teater in samewerking met Eric Abraham, bring Athol Fugard se ikoniese toneelstuk, Statements After an Arrest Under the Immorality Act, na KKNK25.

Die regisseur van dié nuwe produksie is die Fugard-teater se artistieke direkteur, Greg Karvellas. Statements After an Arrest Under the Immorality Act is vanaf 21 tot 26 Maart by KKNK25 te siene.

Die KKNK is vanjaar ‘n kwarteeu oud en dié mylpaal val saam met Suid-Afrika se 25ste viering van demokrasie. Dit is dus heel gepas dat Fugard by vanjaar se fees vir sy lewenswerk vereer word. 

‘n Boorling van Oudtshoorn, die gesoute akteur  Marlo Minnaar (7de Laan, Sara se Geheim, Die Boland Moorde) vertolk die hoofrol van Errol Philander met Liezl de Kock (Piet se Optelgoed, Crazy in Love, Pictures of You, African Gothic) wat Frieda Joubert speel. 

Fugard se stuk wat in 1972 geskryf is, speel af in die apartheidsjare waar verhoudings oor die kleurgrens heen as kriminele oortredings beskou was. Twee verliefdes – ‘n bruin man en ‘n wit vrou –  ontmoet in die geheim in die biblioteek waar sy werk. Hier maak hulle liefde en deel hulle vrese en drome met mekaar. ‘n Buurman vertel die polisie van die verhouding en die owerhede gebruik die informant se agterplaas om steelfoto’s van die paartjie te neem. Die polisie slaan later op hulle toe en die verliefdes word in hegtenis geneem. Die toneelstuk is ‘n boeiende en hartroerende liefdesverhaal oor twee mense wat letterlik en figuurlik hulle diepste wese ontbloot en hunker na vryheid.

Statements After an Arrest Under the Immorality Act is geskryf deur Athol Fugard en die regisseur is Greg Karvellas. Wolf Britz het die stel ontwerp en behartig die beligting terwyl Charl-Johan Lingenfelder en Davi Classen die klank doen. Tracey Saunders van die Kaapse dagblad, die Cape Times skryf oor die relevansie van dié toneelstuk: “It is not often that a play performed 40 years after it was written can find such deep resonance in current society…the script is poetic….and Fugard’s mastery of language is evident throughout.

Daniel Galloway, die besturende direkteur van die Fugard-teater is opgewonde oor die vennootskap met die KKNK: “Om vir die eerste keer deel te wees van die KKNK en die fees se 25ste verjaarsdag te vier is ‘n groot eer. Athol Fugard is ‘n meester as dit kom by die waarneming van die mens se behoefte om mekaar te verstaan en ons gemeenskaplike menslikheid te ontdek. Dié temas is vandag steeds relevant.”  

Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk (die maatskappy wat onder meer die KKNK aanbied) ag die vennootskap en produksie as een van die groot hoogtepunte van vanjaar se kwarteeu-vieringe: “Ons is werklik opgewonde oor dié eerste vennootskapsprojek tussen die KKNK en die Fugard-teater om juis hierdie belangrike werk van een van ons land se meesters te kan aanbied. Dit is ook ‘n groot voorreg om die stuk aan te bied, nie net as ‘n klassieke werk wat ‘n spesifieke tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis vasvang nie, maar om ook te vier hoe ver ons land en sy mense gekom het. En terselfdertyd vier ons die tydloosheid van Fugard se werk wat uiteindelik oor menswees gaan.”

 

Athol Fugard is in 1932 in Middelburg in die Karoo gebore. Bykans 40 toneelstukke het die afgelope 50 jaar uit dié bekroonde regisseur wat soms ook sy lyf akteur gehou het, se pen gevloei. Fugard het deur die jare wonderlike rolle vir alle tipe Suid-Afrikaners geskryf en plaaslike gehore diep geraak. Sy toneelstukke is doodeerlik en ‘n toonbeeld van mede-menslikheid.

Fugard is in 2011 beloon met ‘n gesogte Tony-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die teater. Dié skrywer en regisseur het vier boeke geskryf asook ‘n aantal draaiboeke. Van sy bekendste toneelstukke sluit in Blood Knot, Boesman and Lena, Master Harold and the Boys, The Train Driver, The Blue Iris en The Shadow of the Hummingbird. Van Fugard se werke is vir die silwerdoek verwerk waaronder sy 1980-kortverhaal Tsotsi wat deur die Suid-Afrikaner Gavin Hood gemaak is. Tsotsi is in 2005 by die Amerikaanse filmtoekennings met ‘n Oscar as beste buitelandse film beloon – ‘n eerste vir Suid-Afrika in dié kategorie. Fugard se werke speel af in die apartheidsjare, teen die agtergrond van die land se eerste demokratiese verkiesing, Nelson Mandela se presidentskap en post-apartheid Suid-Afrika. 

Fugard se rits toekennings en eredoktersgrade sluit in die gesaghebbende PraemiumImperiale global-kunstoekenning vir teater/film waarmee hy in 2014 deur die Japanese Kunsvereniging beloon is. Die Suid-Afrikaner wat wêreldwyd bekend is, is steeds regisseur en skryf toneelstukke. Fugard is getroud met die skrywer en akademikus Paula Fourie en hulle hond se naam is Jakkals.

Statements After an Arrest Under the Immorality Act is daagliks tydens KKNK25 van 21 tot 26 Maart om 15:00 by die Gimsaal op die planke.

‘n Ouderdomsperk van 16 jaar geld weens naaktheid. 

Kaartjies kos R135 en is aanlyn by www.computicket.com of Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar. Kaartjies is ook beskikbaar op die KKNK25-App (aflaaibaar in die App store) en by die deur beskikbaar teen R150.