fbpx
Gespreksleier IVOR PRICE

David Piedt Gespreksreeks

Die kunste bied aan elkeen van ons die geleentheid om na te dink oor wie ons is en waarheen ons op pad is, as individue en ’n gemeenskap. Die KKNK bied vir meer as 25 jaar die geleentheid om deur die kunste ’n platform te skep waar mense mekaar ontmoet en hier–oor met mekaar in gesprek kan tree. 

Die David Piedt-gespreksreeks word vanjaar vir die eerste keer by die KKNK aangebied. Dié reeks is geïnspireer deur dr. David Piedt, ’n boorling van die Klein Karoo en veral bekend vir sy innoverende bydraes tot die KKNK, iets waarvoor hy ook vanjaar deur Kunste Onbeperk vereer is. Minder bekend is Piedt se persoonlike transformasie van ’n verbitterde en uitdagende politieke aktivis wat ’n wrewel koester teen “blanke mense se dinge” na ’n mensch wat vandag vergifnis en versoening in sy eie lewe uitleef en hom beywer vir die bevordering van versoening, verdraagsaamheid en ware nasiebou in die breër sosiale omgewing. Piedt se verbintenis met die kunste, veral deur sy betrokkenheid by die KKNK, is nou verweef met hierdie omkeer en hy glo die kunste, sowel as Afrikaans, het ’n wesenlike rol hierin gespeel.

In aansluiting tot die bekende Amerikaanse skrywer Maya Angelou wat gesê het “the greatest tragedy in life is untold stories”, is die gespreksreeks se doel om in ’n intieme, oop ruimte die geleentheid te skep om waarlik na mekaar se onvertelde stories te luister en so by te dra tot die weef van die Suid-Afrikaanse demokratiese tapisserie. 

Die gespreksreeks skop af met Piedt en sy vrou, Marjorie, wat hul roerende geskiedenis en hul persoonlike lewensreise deel. Dit word opgevolg met verdere gesprekke met plaaslike inwoners van Oudtshoorn en omgewing. Die gesprekke vind plaas teen die agtergrond van die individu en gemeenskapsbelewenis van die politieke stelsel in Suid-Afrika vóór 1994 en die impak daarvan op die individu se huidige keuses en menswees. 

David en Marjorie Piedt se storie

Teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse demokrasie se nuwe beleid, wette en ander pogings om rassisme en ander vorme van diskriminasie te (probeer) verhoed en die ongeregtigheid van die verlede reg te stel, kan die vraag tereg gevra word of dit enigsins sinvol is om die stories van ons persoonlike belewenis van apartheid en die gevolge daarvan met mekaar te deel. Gaan ons waagmoed om ons seer en kwesbaarheid te deel nie dalk eerder bydra tot verdere verdeling en wantroue nie? 

Piedt neem die standpunt in dat dié tipe eerlike gesprekke, waar apartheid en rassisme diepgaande ondersoek word, juis nodig is om ’n groter begrip vir mekaar te ontwikkel en noodsaaklik is vir ware nasiebou.

“Die kwessie van ras, klas en kleur is tot vandag toe nog met ons en steeds het ons geen noemenswaardige pogings (veral ná bevryding) aangewend om die kwessie aan bande te lê nie. Miskien was ons naïef en het gedink dat so ’n eeue oue gevestigde praktyk homself spontaan uit die nuut geskepte samelewing sou weer. Derhalwe moet ons voortdurend strewe om ’n wêreld sonder diskriminasie te skep, maar ons moet besef dat so ’n wêreld nog nie bestaan nie. Hiervoor het ons almal ’n sosiale bewussyn nodig.” – Uittreksel uit ’n skrywe van dr. David Piedt

In hierdie intieme gesprek kan ons luister na die merkwaardige verhaal van dié oudonderwyser en skoolhoof, politieke aktivis en voormalige KKNK-direksievoorsitter wat op ’n eerlike en openlike wyse sy lewensreis deel. Marjorie deel in hierdie gesprek om ’n sensitiewe blik en breër begrip aan haar man se storie te verleen. Wees bereid om uitgedaag te word om te gaan nadink oor wat ons met hierdie nuwe kennis gaan doen.

Afrikaans | 60 min. | Gratis
Absa Kuierkamer
24 Maart 15:00

Die geleefde belewenis van apartheid

Hoe voel dit om aan ’n gedwonge verskuiwing, weg van waar jou mense vir menige generasies gewoon het, onderwerp te word? Hoe het ons as gesin hierdie onregverdigheid hanteer? Dié van ons wat bloot op grond van ons velkleur in ’n bevoorregte posisie gestaan het, was ons bewus daarvan, wat het in ons gedagtes omgegaan en hoe het ons op hierdie bevoorregting gereageer?

Min mense weet dat Oudtshoorn een van die eerste dorpe in Suid-Afrika was waar gedwonge verskuiwings toegepas is. ’n Oop en eerlike gesprek met mense uit ons dorp oor hierdie sensitiewe en moeilike onderwerp.

Afrikaans | 60 min. | Gratis
Absa Kuierkamer
25 Maart 15:00

Saamstaan

Wat doen ’n gemeenskap wie se stories deur die hoofstroommedia gesensor word?

In die era voor 1994 is die media streng beheer en aangewend om die politieke status quo te handhaaf. Oudtshoorn was ’n groot politieke brandpunt tydens die struggle-era, maar die hoofstroommedia het nie hierdie stories gepubliseer nie. Die koerant Saamstaan, wat meestal in die geheim gepubliseer is, het ’n belangrike rol gespeel in die vertel van hierdie alternatiewe stories. Ons is bevoorreg om van die voormalige Saamstaan-redaksie by die gespreksreeks te hê om meer oor die publikasie te vertel.

Afrikaans | 60 min. | Gratis
Absa Kuierkamer
26 Maart 12:00

Vroue-aktiviste uit die Klein Karoo

Hoekom sal ’n vrou wat so baie het om te verloor deur by politieke aktivisme betrokke te raak, besluit om by die struggle aan te sluit? Sekerlik die onbekendste en mins geëerde groep wat uitsonderlike bydraes as politieke aktiviste gelewer het, is die vroue uit die Klein Karoo. Kom vind uit wie hierdie uitsonderlike vroue is en kom luister na hul stories.

Afrikaans | 60 min. | Gratis
Absa Kuierkamer
28 Maart 15:00

Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google