Digbundel vloei uit SA en VK kulturele samewerking

’n Gemeenskap van vroue van Oudtshoorn (Suid-Afrika) en Moston en Salford van Manchester in die Verenigde Koninkryk het vroeër vanjaar ’n vierdelige virtuele reis onderneem met ’n reeks stimulerende werkswinkels en gesprekke waarin hulle geluister, gedeel en uit mekaar se verhale geleer het.

Hierdie projek is moontlik gemaak deur die British Council’s Developing Inclusive and Creative
Economies Programme (DICE). SICK!-fees,
die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Young Identity en Empatheatre het kragte saamgesnoer om die program te skep en te implementeer.

“Die doel van hierdie splinternuwe aanlyn projek is om ’n unieke geleentheid vir jong vroue van Oudtshoorn te skep om op ’n betekenisvolle wyse kontak met eendersdenkende opkomende sterre en leiers in die Verenigde Koninkryk (VK) te maak. Deur dié opwindende onderneming het hierdie vroue belangrike kwessies en invloede in hul onderskeie gemeenskappe ondersoek, eerlike gesprekke oor die lewe gevoer, idees ondersoek, denke gestimuleer en met die wêreld verbind,” verduidelik Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Nege deelnemers is vir hierdie projek gekies: Glenisha Tarentaal (SA), Joan Turner (VK), Olive Oragui (VK), P.A. Bitez (VK), Shandré Harris (SA), Siyasanga Building (SA), Tiffany Saterdaght (SA), Faidat Ope (VK) and Medulla (VK).

“Hierdie kreatiewe deelnemers is uitgenooi om vroeër vanjaar saam te werk,” sê Theart. Die waarde van hul sessies blyk duidelik uit die terugvoer van die plaaslike deelnemers. “Ek het uit hierdie ervaring geleer om ’n baie beter skrywer te wees, want ek het al hierdie boustene en nou het ek die vaardighede om dit in die rigting te stuur waar ek dit wil hê. Dit was so ’n waardevolle les,” sê Saterdaght.

Tarentaal beaam dit en sê: “Om te skryf wat in jou binneste is en nie bang te wees nie, en om alles daar te stel en ’n naam vir jouself te maak, was vir my waardevol.” Harris sê hierdie projek het haar meer selfvertroue gegee. “Ek het die selfvertroue gekry om myself te wees en te doen wat ek moet doen. Ek is regtig dankbaar vir hierdie geleentheid en die hupstoot wat dit my gegee het.” Building vertel dat sy dankbaar is om deel te wees van hierdie projek. “Ek het dit geniet om met verskillende vroue te praat, stories te deel en langs die pad pragtige siele te ontmoet.”

Aanlyn sessies is in April en Mei aangebied, gefasiliteer deur Suid-Afrikaanse Tshego Khutsoane en Shirley & Nicole May uit die Verenigde Koninkryk, met behulp van prosesse en metodes wat geïnspireer is deur hul eie samewerkende teater- en opvoer-agtergronde. Lebogang Mashile, bekende Suid-Afrikaanse digter en Kadijah Ibrahim, gevierde Britse digter was gassprekers en het die groep tydens een van die digitale sessies verder geïnspireer.

Hierdie projek is ’n springplank vir langtermyn kulturele samewerking tussen die projekvennote, met die stemme van jong vroulike leiers as middelpunt. Die algemene tema wat oor die twee kontinente in die besprekings na vore gekom het, is Geërfde Veerkragtigheid.

’n Digbundel met werke wat deur deelnemers geskryf is tydens hierdie samewerkingsprojek, ter viering van die gedeelde en individuele ervarings, sal vanaf 9 Augustus 2021 op kknk.co.za beskikbaar wees. Skakel op Vrouedag (SA) en National Book Lover’s Day (VK) in en ervaar hierdie kragtige boodskappe eerstehands.

Meer oor die vennootskapsorganisasies:
Young Identity (VK)
“Dit was dinamies en ongelooflik om ’n digitale platform te hê om jou werk te deel en mense te leer ken, en ’n nuwe manier om internasionaal te werk, via Zoom. Dit was ’n briljante netwerkgeleentheid wat nuwe verhoudings gesmee het wat ons almal hoop om te ontwikkel en met respek, liefde, genade en vrede van die span te koester.”
www.youngidentity.org

Empatheatre (Suid-Afrika)
“Hierdie versameling gedigte getuig van die verbintenisse, vriendskappe en diepgaande uitruilings en idees wat vir meer as ’n maand in ’n Zoom-kamer gedeel is. Ons is so dankbaar vir beide die deelnemers en fasiliteerders van hierdie proses dat hulle dit so ’n vreugdevolle, ontroerende en belangrike ontmoeting van harte, woorde en gedagtes gemaak het.”
www.empatheatre.com

SICK! Festival (VK)
“Vir SICK! is hierdie projek verteenwoordigend van ’n kumulatiewe oomblik in twee langtermynverhoudings wat ons die afgelope jare met beide die KKNK en Young Identity ontwikkel het. Om hierdie twee gemeenskappe bymekaar te bring en hulle die ruimte en vermoë te gee om die projek in hulle eie rigting te stuur – is vir ons ’n werklik unieke en inspirerende proses en ons is baie opgewonde om te sien waarheen dit kan lei.”
www.sickfestival.com

KKNK (Suid-Afrika)
“Dit is vir die KKNK ’n voorreg om by die Britse Raad se DICE-projek ingesluit te wees. Ons kon ’n digitale platform skep wat vroue uit twee lande verbind het om ’n betekenisvolle, relevante en gefokusde gesprek te voer. Van die begin af het hierdie vroue sonder huiwering met mekaar omgegaan en hul verhale gedeel. Hierdie platform het blywende verhoudings geskep en gebou, en kreatiwiteit is aangemoedig en het geseëvier. ”
www.kknk.co.za

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.