Eerste Afrikaanse Covid-19-digbundel eersdaags beskikbaar

Die eerste Afrikaanse digbundel met die Covid-19-pandemie as tema, Maskers en mure, word op 11 Junie op Oudtshoorn bekendgestel. Die digters Daniel Hugo en Francois de Jongh was die samestellers.

Die uitgewer is Turksvy-publikasies, in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) met ondersteuning van die Wes-Kaapse Regering se Departement van Kultuursake en Sport, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Jannie Mouton-stigting en ABSA.

Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK, sê dit is vir die fees ’n besondere voorreg om by die publikasie van hierdie bundel betrokke te wees. “Die uitgewers, Hannes Visser en Marlene Malan, kan voorwaar trots wees op die interessante versameling stemme wat werklik die tydsgees vasvang. Dit is vir ons as fees en ook vir baie van ons borge en donateurs baie belangrik om projekte soos dié te ondersteun, veral wanneer dit ’n bydrae lewer tot ons taal en kultuur en ook tot ’n geskiedkundige nalatenskap.”

Maskers en mure is ’n bloemlesing gedigte wat spesifiek saamgestel is om hierdie tydperk in die wêreldgeskiedenis vas te vang. Gepubliseerde én onbekende digters kon werk voorlê. Meer as 500 bydraes is van ongepubliseerde digters ontvang, asook sowat 80 deur gevestigde digters, onder wie Frazer Barry, Hans du Plessis, Diana Ferrus, Jaco Jacobs, Ronelda S. Kamfer, Koos Kombuis, Maretha Maartens, Bibi Slippers, Johan Jack Smith en Nathan Trantraal. Uiteindelik is die werk van 142 digters in Maskers en mure opgeneem.

Volgens Daniel Hugo was die reaksie oorweldigend. “Nadat die eerste versoek om bydraes aangekondig is, het dit daagliks ’n volgehoue stroom inskrywings van oor die hele land geword. Mense van alle ouderdomme en beroepe het ingeskryf. Dit was duidelik dat almal die afgelope jaar van inperking op hul eie, unieke manier ervaar het,” sê hy.

“Niemand kyk deur presies dieselfde oë na die pandemie en die maande van afsondering nie. Elkeen het dit op hul eie manier probeer verwerk – met óf ontsteltenis, óf optimisme, óf berusting, óf humor. Ek glo die skryf van gedigte is ook ’n manier om te verstaan wat met die wêreld gebeur het. Ons leef almal agter maskers en mure, het min sosiale kontak en daar is ’n streep deur ons daaglikse, doodgewone doen en late getrek. In dié vreemde grendeltyd het ons almal ’n behoefte daaraan om uiting aan emosies te gee. Ons het ook die behoefte om aan ons ervarings van hierdie vreesaanjaende tyd ’n duursame, kreatiewe gestalte te verleen – sodat ons nooit mag vergeet van die stryd waarin die mens en die wêreld die afgelope meer as 12 maande gewikkel is nie.”

Maskers en mure is ’n unieke literêre en historiese dokument. Die bekendstelling sal regstreeks vanaf kknk.co.za uitgesaai word op 11 Junie vanaf 18:45 en die digbundel sal daarna in die KKNK se e-handelwinkel by kknk.co.za beskikbaar wees. Kl!ek- en ATKV-lede ontvang 10% afslag op hul aankope. Besoek die KKNK se webblad vir nog inligting of skakel Daleen Witbooi by 044 203 8600 of e-pos info@kunste.org.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.