{"id":141250,"date":"2023-03-13T13:22:11","date_gmt":"2023-03-13T13:22:11","guid":{"rendered":"https:\/\/kknk.co.za\/?p=141250"},"modified":"2023-11-10T12:30:43","modified_gmt":"2023-11-10T10:30:43","slug":"dawid-minnaar-van-veldkonserte-tot-die-groot-verhoog","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/kknk-nuus\/dawid-minnaar-van-veldkonserte-tot-die-groot-verhoog\/","title":{"rendered":"Dawid Minnaar: Van veldkonserte tot die groot verhoog"},"content":{"rendered":"<p class=\"wp-block-paragraph\">Sy eerste lewenslig was in Upington, maar sy wortels l\u00ea in die suide van Namibi\u00eb op die plaas Rooikam. Dawid Minnaar noem homself \u2019n woestynkind, \u2019n laatlam wat van kleintyd moes leer waarheen jou verbeelding jou oral kan neem.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">\u201cEk is die jongste van vyf en het as\u2019t ware as enkelkind grootgeword,\u201d s\u00ea hy. \u201cEk het ontvlugting gesoek in \u2019n ryk verbeeldingsw\u00eareld van my eie en dit was alles aan die landskap gekoppel. Ek het diere nagemaak, presies geweet hoe om my vlerke te vou wanneer ek as \u2019n vo\u00ebl kom land. Ek het in die veld rondgeloop en konsert gehou; Neil Diamond in \u2019n amfiteater van klip gesing. Deur akteur te word, het ek bloot \u2019n amptelike stempel op daardie tydverdryf afgedruk. Dit openbaar gemaak deur dit met \u2019n gehoor te deel.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Vir ho\u00ebrskool is hy Paarl toe gestuur waar hy vir vyf jaar \u2019n koshuisganger was en \u2019n leerling aan die Ho\u00ebr Jongenskool, alombekend as Boishaai. \u201cKleintyd was my eie verbeelding of die storie op die radio die naaste wat ek aan drama gekom het. Daar was nie sprake van toneel of eisteddfods nie en dankie tog ons het nie \u2019n TV gehad nie.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">N\u00e1 \u2019n jaar in die weermag is hy Universiteit Stellenbosch toe vir \u2019n BA. \u201cEk het nie regtig geweet wat ek wou doen nie. Dalk geoloog of veearts, maar wiskunde was nie my sterkpunt nie. In my eerste jaar het ek begin deelneem aan sulke klein feeste wat hulle op kampus gehou het. Ek het die volgende jaar oorgeslaan na drama en weer my eerste jaar gedoen. N\u00e1 my graad het ek \u2019n honneurs by UCT gaan doen.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Hy s\u00ea daar was nie \u2019n Damaskus-oomblik toe die besluit geneem is nie. \u201cDis asof dit jou kies en jy is eintlik magteloos teenoor die besluit.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Stadig maar seker het Dawid homself gevestig as een van die grootste akteurs van sy tyd. Eers op die verhoog by Swaruk, daarna Kruik en met \u2019n trek na Johannesburg ook die Markteater en die Handspring Puppet Company. Ewe gemaklik in Afrikaans as Engels, op die verhoog of voor die kamera.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">In 1991 kry hy die rol van Dolf Groenewald in die TV-reeks <em>Konings<\/em>, \u2019n karakter wat hy steeds so nou en dan genoem word. In 2000 sluit hy by die rolverdeling van <em>7de Laan<\/em> aan as die argitek Leon de Lange en in 2007 klim hy in die skoene van dr. Franz Basson in <em>Binnelanders<\/em>. Ook ander dramareekse soos <em>Sara se geheim<\/em>, <em>Legacy<\/em> en <em>Waterfront<\/em> en rolprente soos <em>Die wonderwerker<\/em> en <em>Poppie Nongena<\/em>. Maar steeds is daar die roepstem na die teater met bekroonde produksies soos <em>Ek, Anna van Wyk <\/em>(in 1999 en weer in 2022, beide onder regie van Marthinus Basson), <em>Die toneelstuk<\/em>, <em>Koninkryk van die diere<\/em>, <em>macbeth.slapeloos<\/em> en by vanjaar se KKNK <em>Mirakel<\/em> asook <em>Die moeder<\/em> (onder regie van Christiaan Olwagen en waarvoor Dawid in 2022 die Woordfees-trofee as beste byspeler gewen het).<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">\u201cTeater is die kern van jou ambag, die fontein van jou inspirasie. Teater bied jou die kans om te ontwikkel en omdat jy as kunstenaar ontwikkel, ontwikkel jy hopelik ook as mens. Vir my is die uitdaging van enige verhoogproduksie om daar te kom; om die kern van die karakter te kry.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Sy pad met Reza de Wet, die skrywer van <em>Mirakel<\/em> waarin hy vanjaar die rol van Dante du Pr\u00e9 speel, kom reeds van 1986 toe hy onder leiding van Lucille Gillwald in <em>Diepe grond<\/em> was. \u201cDaarna was onder meer <em>Nag, generaal<\/em> in 1988 \u2013 dit was die laaste keer dat ek saam met Sandra (Prinsloo) gespeel het voor ons nou weer in <em>Die moeder<\/em> is \u2013 en <em>In a Different Light<\/em> saam met Terry Norton, Andrew Buckland en Reza self.\u201d In 1992 was Dawid en Anna-Mart van der Merwe die jong paartjie in Stephan Bouwer se produksie van <em>Mirakel<\/em>, met Patrick Mynhardt wat Du Pr\u00e9 gespeel het.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Oor die eerbewys wat hy vanjaar by die KKNK kry vir vertolking, dink hy vir \u2019n oomblik na. \u201cOm te vertolk is my werk. Natuurlik is dit \u2019n eer en \u2019n kompliment, maar ek spot altyd en s\u00ea jy moet net lank genoeg in die voorportaal rondhang voor jy ook \u2019n toekenning gaan kry. Ek wil nie klink of ek dit afmaak nie, maar jy moet dit in konteks sien. Hierdie wat ons doen, moet nooit as \u2019n kompetisie gesien word nie. Jy wen in elk geval nie, die rol wen dit. Jy is net die instrument. Ek sal dus die toekenning met grasie en \u2019n tikkie nederigheid aanvaar,\u201d s\u00ea hy en lag hartlik.<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Later laat weet hy in \u2019n boodskap: \u201cAkteurskap is vir my \u2019n nederige dog eerbare beroep. Onder meer bied dit my ook die geleentheid om momenteel uit te styg bo die vele krake in my karakter en my legio persoonlike tekortkominge. Deur ander werklikhede te betree, deur die ontsyfering van teks en deur gestalte te gee aan ander persona, soos geskep deur die dramaturg, veronderstel ek verteenwoordig dit ook \u2019n soeke na vervulling op \u2019n persoonlike vlak in kontras met die alledaagse lewe waar dit jou dikwels ontwyk of buite jou bereik bly.\u201d<\/p>\n\n\n\n<p class=\"wp-block-paragraph\">Dawid Minnaar. Meester op die verhoog en voor die kamera. Ontleder, leser, ewige student. Vertolker in die ware sin van die woord.<\/p>","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Sy eerste lewenslig was in Upington, maar sy wortels l\u00ea in die suide van Namibi\u00eb op die plaas Rooikam. Dawid Minnaar noem homself \u2019n woestynkind, \u2019n laatlam wat van kleintyd moes leer waarheen jou verbeelding jou oral kan neem.<\/p>","protected":false},"author":1,"featured_media":241108,"comment_status":"closed","ping_status":"closed","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"footnotes":""},"categories":[31],"tags":[],"class_list":["post-141250","post","type-post","status-publish","format-standard","has-post-thumbnail","hentry","category-kknk-nuus"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/141250","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/users\/1"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=141250"}],"version-history":[{"count":1,"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/141250\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":241109,"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/141250\/revisions\/241109"}],"wp:featuredmedia":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/media\/241108"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=141250"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/categories?post=141250"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/www.kknk.co.za\/en\/wp-json\/wp\/v2\/tags?post=141250"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}