KKNK | NATi STUDIO: Regiekursus

’n Regiekursus vir aspirant- en ervare regisseurs is die nuutste projek wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) van stapel stuur. Dié kursus, wat sal bekendstaan as die KKNK | NATi Studio, sal aangebied word onder die mentorskap van die bekroonde veteraan-regisseur en teaterontwerper Marthinus Basson. Die projek, in vennootskap met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), wil die kunste in Suid-Afrika ’n hupstoot gee te midde van die Covid-19-pandemie. Dit beloof om nuwe geleenthede te ontsluit vir regisseurs wat regstaan vir die dag dat teaters weer oopgestel word vir die publiek, en die land weer die Afrikaanse kunste en kunstefeeste gesellig saam kan vier.

In dié kursus, wat oor 9 maande sal strek, sal deelnemers tekste uit ’n wye spektrum genres en tydvakke behandel en ontleed. Basson sal fokus op interpretasie, regie en ontwerp, konsepontwikkeling, vertolkingsuitdagings vir spelers en hoe regisseurs dit te bowe kan kom.

“Die KKNK en NATi wil dié projek gebruik om deelnemers te stimuleer en te inspireer oor regie, een van die pilare waarop ons kunsvorm rus,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Dit is ’n droomprojek waaruit daar hopelik iets sal groei vir wanneer ons weer kan werk.”

Die kursus, wat uit twee formele groepsessies van tussen drie en vier uur lank per maand bestaan, sal Sondagmiddae aanlyn plaasvind. Kontaksessies sal net gebeur as die impak van die Covid-19-pandemie dit toelaat. Die gekose tekste sal in dié groepsessies gelees en bespreek word, waarna Basson take sal uitdeel ter voorbereiding op die daaropvolgende sessie. Met deeglike terugvoer van Basson sal deelnemers se kritiese vermoëns verskerp, hul kreatiwiteit getoets en verdere kritiese denke aangemoedig word. 

Die eerste sessie vind op Sondag 28 Maart 2021 plaas. Deelnemers word gekeur, en dié wat suksesvol is, moet alle sessies bywoon. Finansiële ondersteuning is beskikbaar.

Basson sal as mentor bygestaan word deur bekende, ervare stel-ontwerpers, skrywers, regisseurs en akteurs.

’n Fees van inspirerende talent wag!

Die KKNK | Nati Studio maak voorsiening vir twee groepe deelnemers:

  1. Twaalf kandidate sal gekeur word as die kerngroep. Hulle moet reeds in die een of ander kapasiteit in die professionele teaterbedryf werk.
  2. Om die reikwydte van dié projek so groot moontlik te maak, word kandidate wat nie deel is van die kerngroep nie, genooi om as waarnemers by die sessies in te skakel. Dit is gemik op jong talent wat nog nie professioneel by die bedryf betrokke is nie en sluit onder meer dramastudente in.


Kriteria vir aansoeke

Die 12 kandidate wat vir die kerngroep in ag geneem sal word, moet reeds professioneel in die teaterbedryf werk, byvoorbeeld as regisseur, akteur, ontwerper, verhoogbestuurder of tegnikus.

Die waarnemersgroep sal gekies word uit kandidate wat reeds ’n belangstelling in regie getoon het, maar nog nie professionele werk gedoen het nie.

Alle kandidate moet ouer as 18 wees, Afrikaans verstaan en moet onderneem om die volledige kursus by te woon.


Hoe om aansoek te doen

Stuur ‘n verkorte CV, ‘n brief wat aandui hoekom jy wil deelneem en hoekom jy dink jy gekeur moet word, asook een verwysingsbrief teen nie later as Vrydag 19 Maart om 12:00 na adrian@kunste.org.za.

Kknk | Klein Karoo Nasionale Kunstefees | Oudtshoorn | Suid-Afrika

Meer oor
Marthinus Basson

Marthinus Basson is een van die mees bekroonde en gerespekteerde regisseurs en teater-ontwerpers in Suid-Afrika. Sy loopbaan strek oor 50 jaar. In dié tyd het hy onder meer by die Ruimte-teater in Kaapstad en by KRUIK gewerk. Hy het in verskeie genres gewerk, van drama tot dans, van opvoedkundige teater en komedie tot opera en industriële teater. Van sy ikoniese produksies sluit in: Heiner Müller se Anatomie Titus/Fall of Rome, die Breyten Breytenbach-trilogie (BokliedDie TrToneelstuk en Johnny Cockroach), premières van die meeste van Reza de Wet se werk (onder meer Mis, Drif en Breathing In), Tom Lanoye se Mamma Medea, Bloed en Rose en Koningin Lear, Peter Verhelst se Aars! en Romeo en Julia, Shakespeare se Macbeth en Antony and Cleopatra, Puccini se Tosca, Verdi se Rigoletto, Kander & Ebb se Cabaret!, Marlene van Niekerk se Die kortstondige raklewe van Anastasia W en Pieter Fourie se Ek, Anna van Wyk. Basson was twee dekades lank verbonde aan die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch as dosent in regie en ontwerp.