Terugblikuitstalling van alle vorige feeskunstenaars op Oudtshoorn te sien


Vanjaar se KKNK-kunsprogram, word van Donderdag, 21 Maart tot Woensdag, 27 Maart op Oudtshoorn aangebied en is ’n huldeblyk aan en viering van die verlede, asook ’n blik op die hede en toekoms van visuele kuns.

“Die hoogtepunt op die visuele kunsprogram is dieKKNK25-terugblikuitstallingmet werke van die vorige 24 jaar se feeskunstenaars wat ten toon gestel word,”sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk.

Volgens Lucia Boer, visuele kunskurator van die KKNK, is Gordon Froud, self voorheen ’n feeskunstenaar, die kurator van dié uitstalling. “Dié uitstalling is ’n viering van al die feeskunstenaars oor die afgelope 24 jaar en hul bydrae tot die visuele kunste by die fees”,sê Boer. Volgens haar word werke uit privaat- en korporatiewe-versamelings, sowel as van die kunstenaars self, hiervoor saamgevoeg.

Werke van Jan Vermeieren, Hardy Botha, Erik Laubscher, Willie Bester, Wendy Malan, Piet Grobler, Claudette Schreuders, Wim Botha, Lien Botha, Minnette Vári, André Naudé, Judy Woodborne, Lawrence Lemaoana, Hylton Nel, Lukas Thobejane, Michaella Janse van Vuuren, Helena Hugo, Handspring Puppet Company, Diane Victor, Gordon Froud, Louis Jansen van Vuuren, Willem Boshoff, Berni Searle, Hanneke Benadé, Kagiso Pat Mautloa en Johannes Maswanganyi is hier te sien.

Absa, hoofborg van die KKNK, is ook betrokke by twee uitstallings. “MetMaakit Mooiword vyf splinternuwe, funksionele kunswerke geïnstalleer om Oudtshoorn te verfraai, na die eerste vier wat verlede jaar in die dorp opgerig is. Absa bied ook ’n uitstalling in die Prince Vintcent-gebou aan, getiteld Imagining Tomorrow,” vertel Boer.

Volgens Boer skep Absa verskeie platforms en geleenthede vir jong, opkomende visuele kunstenaars, waarvan die belangrikste geleentheid die Absa L’Atelier-kompetisie is. Imagining Tomorrowis ’n gesamentlike uitstalling van Donald Wasswa van Uganda en Onyis Martin van Kenia, albei meriete-wenners van Absa se L’Atelier-kompetisie in 2016. Die toekoms wat hulle uitbeeld, is ’n verbeelde en parallelle werklikheid.

Absa stel ook tydens die fees die Laat Jou Kuns Wen-mentorskapprogram bekend. Die doel hiervan is om geleenthede vir die ontwikkeling van individue in verskeie kunsvorme te skep. Drie opkomende kunstenaars van Oudtshoorn en Toekomsrus, Colin Meyer, Earlyn Cloud, en Zietske Saaiman, skop die program af.

Onder die groepuitstallings tel uitstallings van vorige KKNK-kurators, waaronder Dr. Paul Bayliss (Absa Museumkurator) en Elfriede Dreyer, met Johan Myburg wat kurator van ’n solo-uitstalling is. Groepuitstallings sluit in; Binary Oppositesmet werke van kontemporêre kunstenaars wat in die soeke na die betekenisvolle, feesgangers uitdaag om te reageer en betrokke te raak. Collecting Contemporaryis geïnspireer deur die kunskurator en -direkteur Teresa Lizamore se uitsonderlike blootstelling aan eietydse kuns. Dit is ’n narratiewe bestekopname van die afgelope drie dekades, van Lizamore se unieke reis in die bedryf van kontemporêre kuns.

In Silvais ’n groepuitstalling wat die narratiewe aard van eietydse kuns verken. Die galery word ingespan as ’n narratiewe ruimte, as metafoor vir die samelewings-oerwoud waarin ons almal ons bevind. Uiteenlopende kunsmediums soos sydraad, diervelle, hout, fotografie en verf word ingespan om die storie te vertel. Huldeblyk – Tributebevat werke van sommige van ons land se mees gerespekteerde kunsonderwysers. Almal is dosente en kunstenaars, maar in sommige gevalle het hul kuns agterweë gebly omdat hulle te besig was om hul lewens toe te wy aan hul studente, waarvan verskeie internasionale status bereik het.

Onder die solo-uitstallings tel Froud se Harmonia: Sacred Geometry, the pattern of existence, ’n gedeelte van sy terugblikuitstalling wat onlangs te sien was by die Standard Bank-galery. Dit is ’n verkenning van meetkunde en geometriese stelsels. Kobus Spies se Klein Karoo op doeklê die landskap van die Klein Karoo en sy mense op doek vas. Die oënskynlik moeitelose aanslag vra ’n diepgaande studie van sy werke, waarin hy met kleur en vorms die een juweel na die ander skep.Ligdag, ’n uitstalling van werke deur Willem Pretorius, is ’n versameling skilderye wat onlangs heelwat aandag getrek het met sy landskappe met verwaarloosde swembaddens.

Orb of Perceptiondeur Nicola Taylor is ’n plek-spesifieke installasie wat die bestaan van ’n objektiewe werklikheid ondersoek. Dié kunswerk is die verkenning van ’n begeerte, ’n versugting na die absolute waarheid. Mandy Johnston ondersoek met haar uitstapping Spun,die herhalende aard van patrone, gebeure, temas en argetipes deur middel van beeldhouwerke en ondersteunende werke.

Dié visuele kunsuitstallings kan daagliks van 09:00 tot 17:00 in die Prince Vintcent-gebou gesien word. Toegang tot die uitstallings is gratis. Boer tree daagliks om 11:00 hier in gesprek met visuele kunstenaars wat by die fees uitstal. Elke gesprek fokus op ’n ander kunstenaar en die temas van hul werk word bespreek. Boer neem feesgangers ook op ’n toer deur die uitgebreide uitstallings op 22 Maart om 15:00, 23 Maart om 15:00 en 24 Maart om 15:00. Gesprekke en rondleidings word gratis aangebied.

Dr. Bayliss en Absa se mede-kunskurator, Thabo Seshoka, bied daagliks om 08:30 begeleide kunstoere aan wat hulMaakit Mooi-installasiepersele regoor Oudtshoorn besoek en vir feesgangers buitengewone insigte in die kreatiewe prosesse agter die ontwikkeling en skepping van die kunswerke, gee.

 

Die volledige feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies vir produksies is by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar. Verblyf kan by 044 203 8600, of verblyf@kknk.co.za bespreek word.