Geniet eksklusiewe musiekreeks in Virtuele Absa Kuierkamer

’n Spesiale en eksklusiewe musiekreeks met Zolani Mahola, Jitsvinger en Native Young wag op musiekliefhebbers in die Virtuele Absa Kuierkamer, ’n eerste van sy soort. 

Die immergewilde Absa Kuierkamer trek vanjaar ’n virtuele baadjie aan om deel te vorm van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se aanlyn fees. 

“Hoewel ’n besoek aan Oudtshoorn vir die KKNK nie vanjaar moontlik is nie, gee Absa lewe aan ’n verskeidenheid bakens regoor die dorp met feeservarings en vermaak wat feesgangers sou verwag om tydens die fees op Oudtshoorn te geniet. Die Virtuele Absa Kuierkamer word gratis aangebied en kykers kan dit in die gemak van hulle huise geniet,” vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

“Die KKNK is net so bekend vir sy musiekaanbod as vir die pragtige landskap van die Karoo, spesifiek die Klein-Karoo, waar die fees jaarliks plaas vind. Dit is daarom ’n besonderse voorreg vir die KKNK om deel te wees van Rootspring se uitsonderlike musiekopnames, The Karoo Project, en dit ook eksklusief bekend te stel en aan te bied in die Virtuele Absa Kuierkamer. Dié reeks sluit nie net besonderse musikante in nie, maar spog ook met die beeldskone en magiese Karoo as agtergrond vir die optredes,” sluit Theart af. 

The Karoo Project met Mahola, Jistvinger en Native Young is deur Rootspring Music in die woestynagtige landskappe van die Karoo verfilm na afloop van die eerste inperking. Hierdie unieke ervaring wat in die natuur deur musikante wat gretig is om weer musiek te maak, geskep is, vang die klanke in hul mees rou en gestroopte vorm vas. Pippa Ehrlich, die Oscar-bekroonde regisseur van My Octopus Teacher, was ’n konsultant vir die projek.

Yusuf Ganief, uitvoerende hoof van Rootspring NWO, sê hul hoofdoel is om kunstenaars te ondersteun en hul kreatiewe uitdrukking toe te laat om ’n stem van bewustheid te wees, om die gemoedstoestand van ’n nasie uit te beeld. “The Karoo Project het ontstaan uit die behoefte om maniere te vind om uitdrukking tydens ’n baie uitdagende inperking aan hierdie stem te gee,” verduidelik hy.

Mahola se Thetha Mama is ’n herinnering aan die mensdom om die respek en nederigheid wat ons eens teenoor die natuur – teenoor moederaarde – gehad het, te versterk. Jitsvinger se Doenit is ’n energieke stuk wat direk tot die innerlike kind in elkeen spreek, asook die vermoë om aan te beweeg en te laat gaan. Graveyard deur Native Young (Yannick Meyer & Mohau) is ’n baie persoonlike lied oor die kortstondigheid van die lewe en die mensdom se onvermydelike terugkeer na die bron.. terug na die natuur.

“Die stilte en reflektiewe aard van die Karoo het die diepste hunkering van die kunstenaars na vrede, asook ons wêreldwye behoefte om weer met die natuur – met moederaarde –  verbind te wees, soos Zolani so treffend met Thetha Mama na vore gebring. Ons sien die behoefte raak om alternatiewe maniere te vind om kunstenaars wat swaarkry by te staan, maar ook om kreatiewe uitdrukking te vind wat inspireer en hoop herstel in tye van groot onsekerheid. Ons beoog om met soortgelyke projekte voort te gaan en ons is trots om met die KKNK en Absa geassosieer te word,” sluit Ganief af.  

Zolani Mahola se Thetha Mama is nou in the Virtuele Absa Kuierkamer se “Teater” beskikbaar via die KKNK-webblad. Jitsvinger se Doenit word begin Oktober hier bekendgestel en Native Young se Graveyard aan die begin van November.

The Karoo Project is deur Rootspring, in samewerking met die KKNK, vervaardig en word ondersteun deur Absa en Business Arts South Africa (BASA).

Die Virtuele Absa Kuierkamer word vir drie maande tot November 2021 aangebied en ’n verskeidenheid gratis inhoud kan by www.kknk.co.za verken word. Vir meer inligting, besoek ook die KKNK se sosiale mediaplatforms op Instagram en Facebook.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.