KKNK25 • OUDTSHOORN

GESPREKKE

DIE BURGER PRAAT SAAM
DISKOERS-REEKS
MOONTLIK GEMAAK DEUR DIE HET JAN MARAIS NATIONALE FONDS
Elke oggend om 08:30 lei Ivor Price die gewilde gespreksreeks wat handel oor sake van die dag en belangrike landskwessies. Kom gesels saam.

IS ONS MEDIA IN GEVAAR?
MET Pieter du Toit (gespreksleier), Carryn-Ann Nel, Jason Felix en Johann Maarman
Die Suid-Afrikaanse media is in die laaste twee jaar onder die vergrootglas ná ’n reeks gebeure wat die integriteit van veral koerante in gedrang gebring het. Dit sluit in die Sunday Times se erkenning dat hy vals berigte geplaas het oor onder meer die Cato Manor-“moordbende” in  Durban, en die sogenaamde “rogue unit” by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die Edelman-vertroue-indeks vir 2108 het getoon dat openbare vertroue in die media ’n bloedneus gekry het met 61% wat glo dat nuusorganisasies eerder groot gehore wil trek as om eerlik verslag te doen. Hoe lyk die pad vorentoe?
Afrikaans | Gesin | 60 min.
Gratis • Netwerk24 Feeskafee
21 Maart 08:30

EK IS BOER
MET Nick Serfontein, Kosie van Zyl, Ettiene van Wyk, Paul Carshagen en Ivor Price (gespreksleier)
Die woord “boer” het in die smerige gronddebat oor onteiening sonder vergoeding vir baie Suid-Afrikaners ’n vloekwoord geword. Die televisiepersoonlikheid en skrywer Ivor Price is egter daarvan oortuig dat die meeste boere hul deel vir projek Suid-Afrika doen. Hy praat met leiers in die boerderybedryf oor hul bydrae tot die land sowel as oor voedselsekerheid.
Afrikaans | Gesin | 60 min.
Gratis • Netwerk24 Feeskafee
22 Maart 08:30

EIENDOMSREG-DEBAT VLAM OP
MET Jody Hendricks, Thato Moagi, Piet le Roux en prof. Bradley Slade (gespreksleier)
Die kwessies rondom onteiening sonder vergoeding gaan nog net feller toeneem met teenkanting uit verskeie oorde en beoogde hofsake. Op grondvlak wend mense hulle nou tot die buiteland om hul eiendomsreg te beskerm. Eiendomsreg word deur kenners beskou as die hoeksteen van ’n demokrasie. Hoe moet die regering die uitdagende vraagstuk rondom eiendom hanteer sonder om sosiale saamhorigheid te bedreig?
Afrikaans | Gesin |60 min.
Gratis • Netwerk24 Feeskafee
23 Maart 08:30

VOLSTRUISBEDRYF SKUD VERE REG
MET Kabous Meiring (gespreksleier), Piet Kleyn, John Schoeman en Joey Potgieter
Die volstruisbedryf was die afgelope paar jaar onder groot druk, maar is flink besig om nuwe moontlikhede te ondersoek. Hoe lyk die toekoms van die bedryf, en watter impak het dit op die mense van die Klein Karoo? Verskeie kenners besin saam met Kabous Meiring, aanbieder van MegaBoere op kykNET, oor die toekoms van die varsvleis-, vere- en leermark in die volstruisbedryf.
Afrikaans|Gesin|60 min.
Gratis • Netwerk24 Feeskafee
24 Maart 08:30

WAT GAAN 2019 SE VERKIESING OPLEWER?
MET Anita Visser
Suid-Afrikaners trek eersdaags hul kruisies in die sesde demokratiese algemene verkiesing. Met nuwe partye wat tot die stryd toegetree het en woelinge en struwelinge in bestaande partye – en allerlei skandes wat oopgevlek word – verander persentasie-voorspellings letterlik van maand tot maand. Anita Visser, die aanbieder van Monitor op RSG, praat met politieke leiers en kenners oor wat die verkiesing gaan oplewer en die pad vorentoe.
Afrikaans | Gesin | 60 min.
Gratis • Netwerk24 Feeskafee
25 Maart 08:30

KORRUPSIE IN DIE PRIVAAT SEKTOR
MET Ivor Price (gespreksleier), Pieter-Louis Myburgh (skrywer van The Republic of Gupta: A Story of State Capture), James Styan (skrywer van Blackout: The Eskom Crisis en Steinhoff en die Stellenbosse boys),
Daar gaan omtrent nie meer ’n dag verby waarin daar nie oor korrupsie in die staat berig word nie. Maar wat van korrupsie in die privaat sektor? Alles dui daarop dat reuse-bedrae geld ook in mense se sakke in verdwyn. Korrupsie met die toekenning van tenders, diefstal by maatskappye en selfs frontpersone vir swart bemagtiging is aan die orde van die dag.
Afrikaans | Gesin | 60 min.
Gratis • Netwerk24 Feeskafee
26 Maart 08:30

MISDAAD EN DIE ROL VAN BENDES
MET Genl.maj. Jeremy Veary, prof. Anni Hesselink, Sebastian Haricombe en Ivor Swartz (gespreksleier)
Waarom is daar nou soveel geweldsmisdade? Bendes voer ’n skrikbewind in gemeenskappe oor die land heen en het baie inwoners in ’n wurggreep. Terselfdertyd dui navorsing op ’n skrikwekkende toename in bendeverwante moorde en misdade, veral in Kaapstad en Port Elizabeth. Wat is die sosio-ekonomiese oorsake? Kan mense ingryp wat al jare lank deur bendes getraumatiseer word en ’n positiewe verandering teweegbring?
Afrikaans | Gesin | 60 min.
Gratis • Netwerk24 Feeskafee
27 Maart 08:30


TEATERGESPREKKE
KKNK se gewilde teatergespreksreeks vind weer ná afloop van uitgesoekte produksies se vertonings plaas. Dit bied ’n geleentheid aan gehore om met die betrokkenes in gesprek te tree en meer uit te vind oor die prosesse van ’n produksie en die temas wat belig word. Vanjaar se teatergesprekke is onder meer oor Tom Lanoye se epiese toneelstuk Koningin Lear (met regie en ontwerp deur Marthinus Basson, vertaling deur Antjie Krog en Antoinette Kellermann in die titelrol); Ira Blanckenberg se outobiografiese drama Haal asem; Christo Davids se My seuns, geïnspireer deur Arthur Miller se All My Sons; Athol Fugard se klassieke Suid-Afrikaanse toneelstuk Statements After an Arrest Under the Immorality Act en Marina Albertyn se Bloed en bodem (ontwikkel uit Kunste Onbeperk se Teksmark) – ’n eietydse Suid-Afrikaanse verhaal. Daar word ook oor jeugtoneel gesels as deel van ATKV-Tienertoneel se wenstukke wat by die fees aangebied word.


BLOED EN BODEM
24 Maart om 11:30 | Gimsaal
45 min. (ná afloop van die 10:00-vertoning)

HAAL ASEM
24 Maart om 18:00 | ATKV Grieselsaal
45 min. (ná afloop van die 17:00-vertoning)

KONINGIN LEAR
22 Maart om 13:00 | SANW Ouditorium
45 min. (ná afloop van die 10:00-vertoning)

MY SEUNS
25 Maart om 11:30 | Gimsaal
45 min. (ná afloop van die 10:00-vertoning)

STATEMENTS AFTER AN ARREST UNDER THE IMMORALITY ACT
23 Maart om 16:30 | Gimsaal
45 min. (ná afloop van die 15:00-vertoning)

JEUGTONEEL- GESPREK
22 Maart om 15:00 | ATKV Grieselsaal
45 min. (ná afloop van die produksie Vlot ter see se 14:00-vertoning)


VISUELE KUNS: GESPREKKE
Lucia Boer, die KKNK se visuele kunskurator, tree daagliks om 11:00 in gesprek met die visuele kunstenaars wat by die fees uitstal. Elke gesprek fokus op ’n ander kunstenaar en die relevante temas van hul werk word bespreek. ’n Rondleiding sluit die gesprekke af, met ’n spesifieke fokus op die kunstenaar van die dag. Besoek die webtuiste vir opgedateerde inligting oor die fokus-kunstenaars vir elke dag.

Afrikaans en Engels | Gesin | 60 min. | Gratis
PRINCE VINTCENT-GEBOU • DAAGLIKS OM 11:00


VISUELE KUNS: RONDLEIDINGS
Lucia Boer sal feesgangers op ‘n toer deur die uitgebreide KKNK25 Visuele Kunsuitstallings neem en in gesprek tree oor die werke.

Afrikaans en Engels | Gesin | 75 min. | Gratis
PRINCE VINTCENT-GEBOU
22 Maart 15:00, 23 Maart 15:00, 24 Maart 15:00


BOEKGESPREKKE
Feesgangers kan daagliks gesprekke met skrywers in verskeie genres oor hul nuutste publikasies by die ATKV-Boeke-oase bywoon. Kom luister na die kreatiewe denkers en kom meer te wete van hul prosesse. Vennote: NB-uitgewers, LAPA, Penguin, Naledi, Protea Boekhuis, Die Langenhoven Gedenkfonds.


1 RECCE
MET Alexander Strachan en Dawid van Lill (gespreksleier)
1 Recce was die skerpste, veelsydigste en dodelikste spesialiseenheid in die ganse Suid-Afrikaanse Weermag. Dié manne was superfiks, bomenslik taai en het vir niks gestuit nie. Hulle het telkens hul lewens op die spel geplaas in die uitvoering van hoogs geheime operasies agter vyandelike linies. Dekades lank is oor al dié hoogs geheime sendings geswyg. Nou, vir die eerste keer, openbaar die recces se groot generaals (waaronder die legendariese kol. Jan Breytenbach) hoe hulle gestuur is om verskeie politiek sensitiewe operasies uit te voer. Daar word onthul hoe hulle in die doodsnikke van die apartheidsera gestuur is, en op die laaste oomblik verhoed is, om sleutelmense in die ANC uit te skakel. Hulle vertel van 1 Recce se betrokkenheid by die Grensoorlog en die bestaan van ’n hoogs geheime “eskadron” in die destydse Rhodesiese Weermag. Ná jare van mites en geheimhouding gee 1 Recce ’n totaal nuwe blik op die recces en die werk wat hulle onsigbaar agter die skerms gedoen het.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 25 Maart 10:30

ARMAND KOOK
MET Armand Aucamp en Izak de Vries (gespreksleier)
Armand Aucamp is een van die begeerlikste celebs in Suid-Afrika. Aanhangers begeer óf sy lyf óf om soos hy te lyk. Nou deel Armand sy geheim met almal: Hy eet onverwerkte kos en volg die sogenaamde banting- of keto-leefstyl. Met ’n hoëvet-laekoolhidraat-dieet hou hy daardie Adonis-lyf in stand en maak hy sy bewonderaars mal.Naas toneelspel is kosmaak sy groot liefde. Kom kyk hoe Armand met kreatiewe maniere vorendag gekom het om gesonde kos lekker te maak.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 22 Maart 12:00

BLOED EN BODEM
MET Marina Albertyn
Jana besoek haar pa en oom op die familieplaas. Die plaas gaan agteruit en haar pa sit meer op die kroegstoel as die kerkbank. Een nag los hy in sy dronkenskap die hek oop en dit word ’n aand wat niemand sal vergeet nie …’n Verhaal oor plaasaanvalle en die desperate nalatenskap van Afrikanermans wat nooit kon heel nadat hulle aan die “verkeerde” kant van die apartheidstryd geveg het nie. Haar debuut Melk & Vleis verower verskeie toekennings, onder meer die ATKV-toekenning vir mees grensverskuiwende werk en ’n Fiësta vir beste nuutgeskepte Afrikaanse teks. Bloed en Bodem is die tweede teks uit die pen van Marina Albertyn-Struwig.
Afrikaans | Gesin | 60 min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 27 Maart 14:00

BOODSKAPPER VAN DIE GODE
MET Murray La Vita en Izak de Vries (gespreksleier)
Boodskapper van die gode? Vlieg teen die muur? Iets van albei? Murray La Vita is ’n groot man. Hy het ’n imposante haardos soos ’n leeumannetjie se maanhare. Tog is hy ’n sagmoedige reus met ’n sagte stem. Murray neem fyn waar, weeg sy woorde, vra diep vrae en skryf vreesloos oor sake wat hom na aan die hart lê.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 25 Maart 14:00

BOS
MET Jaco Wolmarans en Erns Grundling (gespreksleier)
’n Vriendskap en totale vertrouensband gesmee in Angolese pseudo-operasies. Carlos Veiyera, die veteraan met ’n duister, gewelddadige verlede. Tex Texeira, sy talentvolle protégé. Bloedbroers. En toe is die oorlog verby. Of is dit? Hoekom, ná jare van donker geheime, het Carlos nou die grens oorgesteek as renosterstroper in Mosambiek? Die gevreesde, onaantasbare Kalingono, dood verklaar ná ’n duister operasie … nou moordend terug? Militêre Inligting soek antwoorde. En Tex Texeira is die enigste operateur wat dit naby hom kan waag. As hy die skietdood van sy eie vrou kan verwerk. En die gevoel van ’n lokval wat hy net nie kan afskud nie. Jaco Wolmarans is ’n vryskutvideovervaardiger, fotograaf en kopieskrywer.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 24 Maart 14:00

BRUISTABLETTE VIR DIE LEWE & SELMA EN LOUISE
MET Susan Coetzer en Johann van Lill (gespreksleier)
Selma Barnard se lewe het soos ’n kaartehuis inmekaargetuimel. Eers verloor sy haar man, toe haar kinders, en nou is haar hart gebreek deur ’n “ridder op ’n wit perd”. Hoe kon sy haar so misgis het? En waar was Louise, haar hartsvriendin van 40 jaar? Indië toe, dis waarheen sy sal vlug. Sy sal vrou-alleen op die vliegtuig klim Mumbai toe, en ’n nuwe mens terugkom. In Bruistablette vir die lewe is daar elke dag ’n nuwe bruistablet om in afsondering te geniet, te absorbeer en in jou lewe toe te pas. ’n Reis na meer egtheid en verdieping vir kinders van die Here, sodat ons meer kan bruis en minder kan brul. Kom luister hoe Susan Coetzer oor beide haar boeke gesels.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 26 Maart 14:00

DAAR IS ’N ENGEL IN MY KOSKAS
MET Willie Strauss
Willie Strauss neem jou op ’n nostalgiese reis – deur te kook en te sing. Dinge soos vye en kwepers word verweef met eg Suid-Afrikaanse herinneringe. Wie onthou nie die blikkies kondensmelk waaruit menige kind die lekkerte gesuig het en die wonderlike kondensmelkbeskuit wat Ma gebak het nie? Alles, van sop en brood, hoof- en bygeregte tot poedings, koek en koekies, asook konfyt en blatjang word bespreek.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 25 Maart 12:00

DIE ONWAARSKYNLIKE SPEURDER
MET Mike Nicol, Martin Steyn, Carina Diedericks-Hugo en Izak de Vries (gesprekleier)
In Diedericks-Hugo se debuutspanningsverhaal Karaktermoord, soos in die werke van Mike Nicol en Martin Steyn, is die speurder nou nie juis jou gewone ou of vrou nie. Hoe kies jy die een wat die moord moet oplos, veral as die speurder in verdere romans ook ingespan word?
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 24 Maart 15:30

EBEN DIE ELLENDIGE EENHORING
MET Koos Kombuis
Wie’t gesê kinderboeke is net vir kinders? Met hierdie pretbelaaide geïllustreerde boek draai Koos Kombuis die kinderliteratuur-genre op sy kop. “Eben die Ellendige Eenhoring” is ‘n humoristiese, moderne lelike eendjie-storie met ‘n verskil. Dit sal geniet kan word deur lesers van alle ouderdomme, van agt tot agt-en-tagtig!
Afrikaans | Gesin | 60 min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 23 Maart 10:30

HOE SKRYF ONS DIE LAND?
MET Sihle Khumalo, Dana Snyman
Hoe verpak ons die stories van gewone mense? Wat mag jy vertel en wat nie? Snyman, bekende skrywer wat die land plat ry en gewone mense se ongewone stories opteken, gesels saam met Sihle Khumalo oor die langpaaie van ons land. Khumalo se nuutste boek is Rainbow Nation My Zulu Arse.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 22 Maart 14:00

KOSHUIS
MET Dana Snyman, Pieter van Zyl, en Erns Grundling (gespreksleier)
Laat jou terugvoer na die jare van inblynaweke, studentepret, huistoeverlang en troospakkies beskuit onder die enkelbed. Koshuis, saamgestel deur Erns Grundling van Elders-faam, bevat heerlike lekkerleesvertellings – komies, verspot én roerend – oor die koshuislewe (op skool én universiteit, selfs oorsee) deur ’n verskeidenheid bydraers, insluitend reisskrywer Dana Snyman, die Weg!-joernalis en -aanbieder Toast Coetzer, die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout, die Huisgenoot-redakteur Yvonne Beyers, die oudredakteur van Die Burger Bun Booyens, die bekroonde romanskrywers Harry Kalmer en Kerneels Breytenbach en skrywers en joernaliste soos Celesté Fritze, Theunis Strydom, Leroux Schoeman, Marnus Hattingh en Pieter van Zyl. Skink ’n koppie koffie, onthou weer die liedjie wat gespeel het toe jy op jou eerste huisdans gesoen is en laat die jare terugspoel!
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 23 Maart 14:00

OM DIE WAARHEID TE VERMOED: VAN GERT EN JOEY VAN ROOYEN TOT DIE SEUNS VAN BIRD ISLAND
MET Pieter van Zyl, Chris Steyn en Dawid van Lill (gesprekleier)
Hoe pak jy ’n niefiksie-werk aan waarin jy meer vermoedens as bewyse het? Waarheen lei die paar bewyse jou? Dit is van die vrae wat Van Zyl, skrywer van Gert & Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar, en Steyn, medeskrywer van Die seuns van Bird Island, beantwoord.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 23 Maart 12:00

OOR AFRIKAANS GEPRAAT
MET Willa Boezak, Hans du Plessis, Wannie Carstens en Danny Titus
Waar het Afrikaans begin? Wie het eerste Afrikaans gepraat? Was die Kaap regtig Hollands? Hoe het die Khoi en die Portugese met mekaar handel gedryf? Watter rol het slawe gespeel in die ontstaan van Afrikaans? Hoe het die trekkery ons taal beïnvloed? Wat is die invloed van townships op Afrikaans? Van Afrikaans gepraat, ’n boek deur Christo van Rensburg, en Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika (deel 2), ‘n boek deur Wannie Carstens en Edith Raidt, ondersoek hierdie vrae. Dr. Willa Boezak, ’n plaaslike taalaktivis, professore Hans du Plessis en Wannie Carstens, albei taalkundiges, en dr. Danny Titus, kultuurleier en bekende rubriekskrywer, is in gesprek.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 22 Maart 10:30

PIETER-DIRK UYS: WEERKLINK VAN ’N WANKLANK
MET Pieter-Dirk Uys
In die roerende biografiese Pieter-Dirk Uys: Weerklink van ’n wanklank kom die mens agter die Suid-Afrikaanse ikoon vir die eerste keer te voorskyn. Pieter-Dirk Uys se openhartige vertelling sal jou soms in trane hê, net om jou dan weer te laat skaterlag. Hy het al memoires gepubliseer, Elections & Erections (2002) oor vigs en Between the Devil and the Deep (2005) oor sy teaterloopbaan. Maar hy het nog nooit só eerlik oor sy eie familie en sy kinderjare gepraat nie: Sy moeilike, musikaalgedrewe pa; sy briljante, geheimsinnige ma; sy suster, die pianiswonderkind; en Sannie Abader wat die Uys-huishouding by “Sonskyn”, te Homesteadweg 10, Pinelands, regeer het en “Pietertjie” se tweede moeder was. Dan is daar sy Paarlse ouma wat hom neem om by die Verwoerds te gaan kuier, Oma van Duitsland wat strudel bak, sy vriendskap met Sophia Loren, die geboorte van Evita Bezuidenhout, en die vreugdes en hartseer van sy merkwaardige lewe.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 26 Maart 12:00

SANDVELDSTORIESMET Kobus Burger (gespreksleier) en Johny Klein (voorlesing)
Sandveldstories is ’n keur uit Ferdinand Deist se gewilde kontreistories. Die stories, geskryf in tipiese streekstaal, handel oor ’n unieke wêreld en sy mense, sommige groots soos hul omgewing, of klein en dwaas soos mense ook maar is. Ferdinand Deist was ’n gesoute storieman en fyn waarnemer. Sy verhale is humoristies en tydloos, sy karakters kleurryk, en sy vertelwyse is soos ’n bontspul vygies wat in ’n dorre landskap uitbars.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 27 Maart 10:00

SMULKOS
MET Esther Malan
Smulkos is ‘n splinternuwe versameling uit Esther se gewilde Vat Vyf-reeks wat elke week in Huisgenoot verskyn.
Die resepte wissel van geurige idees vir ontbyt, terte & pasteie, straatkos, kaggelkos na vinnige en gesonde slaaie. Alles getoets in die Huisgenoot toetskombuis wat verseker dat dit keer op keer werk.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 27 Maart 12:00

STOF EN STER
MET Pieter Fourie en Daniel Hugo (gespreksleier)
In hierdie bundel verken die digter op ’n deernisvolle manier ’n denkbeeldige gemeenskap met herkenbare karakters. Ontdaan van veroordeling, maar sonder sentimentele verheerliking, teken hy volkseie karakters soos Mooi Maria, Hansie Handjiesvou en Ben Bomskok. Tegelykertyd eienaardig en gewoon, word mense soos Stil Sarel en Hannie Halleluja in veelvuldige skakerings van lig en donker geskets, waar hulle leef in ’n liminale ruimte tussen moderniteit en vergetelheid. Die gedigte verbeeld samehorigheid en verlies in ’n spektrum van komiese en dramatiese emosies. Die leser vind in die karakters se universaliteit sy eie kleurvolle menswees terug.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 21 Maart 15:30

STRAFJAART
MET Theo Kemp en Carina Diedericks-Hugo (gespreksleier)
In Strafjaart word ’n wit, middeljarige man uit sy gemaksone geruk wanneer sy laatlamtannie, Lizette, in Pollsmoor beland. In die wagkamer van die tronk word hy ingetrek by die lewens van ’n vreemde versameling kleurryke karakters, wat ’n totale ommekeer in sy lewe bring – onder andere ’n skipper wat sy gebak aan die tronk verkoop, ’n tronkbewaarder met ’n jazz-stem, en ’n vrou wat wraak sweer op die verkragter van haar aangenome dogter.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 24 Maart 12:00

TOE-VAL-LIG
MET Amore Bekker en Johan van Lill (gespreksleier)
Toe-Val-Lig bevat Amore Bekker se keuse van die beste, soms ongelooflike ware stories van toeval soos uitgesaai op RSG se middagprogram Tjailatyd. Luisteraars van oor die land heen deel hul ervaringe van die vreemde toeval wat ons lewens soms so onverklaarbaar kan beïnvloed. Amore het net minder as 100 van die beste stories uitgsoek vir ’n boek wat jou sal laat lag, laat huil, en laat wonder.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 23 Maart 15:30

TRONKGESPREKKE
Met Willie Esterhuyse en Gerhard van Niekerk; Dawid van Lill (gespreksleier)
Dié boek onthul dat PW Botha reeds in 1984, te midde van die Totale Aanslag, in die geheim opdrag sou gee dat sy minister van justisie, Kobie Coetsee, gesprekke met Nelson Mandela in die tronk voer. Wedersydse respek ontwikkel mettertyd tussen Coetsee en Mandela, en die gevangene begin selfs sy eie vrylatingsproses grootliks bestuur. Alles is hoogsgeheim. Bekende skrywer en akademikus Willie Esterhuyse, vertel met medeskrywer Gerhard van Niekerk die verhaal van Coetsee en Mandela se “voorpunt”-diplomasie, waarsonder die 1994 oorgang nie moontlik sou gewees het nie.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 21 Maart 10:30

VEREVROU
MET Jan van Tonder en Paul Eilers (gespreksleier)
Liora word groot op ’n volstruisplaas in Algerië, naby die Sahara. Sy is omring deur mense wat lief is vir haar. Van kleins af bring sy tyd deur in haar tante se werksplek, ’n magiese omgewing waar volstruisvere omskep word in kostuums vir die rolprentbedryf en die verhoë van Parys. Maar Liora loop haar telkens in grense vas wat sy moet oorsteek. In die oorloggeteisterde Algiers studeer sy medies, maar dan word sy gedwing om inderhaas landuit te vlug, Parys toe. Jare later kom Liora in die Klein Karoo aan om haar oom te besoek. Hier ontmoet sy Candice, ook behep met volstruisvere, ’n priester, ’n kunstenares en ander Kannalanders. Haar lewe word opnuut omgedop, en weer eens lê daar ’n grens voor haar – en sy moet besluit of sy dit sal oorsteek.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 25 Maart 15:30

VERLEDE TOT VERHAAL
MET Jeanette Ferreira, Irma Joubert en Hans du Plessis; Izak de Vries (gespreksleier)
Hoe bring ’n mens die verlede tot verhaal? Wat is die grens tussen die feite van die verlede en die vryheid van die verbeelding? Bekende en gewilde skrywers wat behendige historiese romans skryf, gesels oor hul nuutste werke.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 21 Maart 12:00

WAT IS DIE ROL VAN LANGENHOVEN VANDAG?
Aangeid deur die Langenhoven Gedenkfonds
MET o.a. Jan-Jan Joubert, Willemien Brümmer en Izak de Vries (gespreksleier)
C.J. Langenhoven se bydrae tot en belangrikheid in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis word nie betwis nie. Maar van watter belang is Langenhoven, onder meer die liriekskrywer van “Die  Stem”, in die hedendaagse samelewing?
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 26 Maart 15:30

WIT TERRORISTE: AFRIKANERSABOTEURS IN DIE OSSEWABRANDWAGJARE
MET Albert Blake en Ivor Price (gesprekleier)
Bomplanters, sluipmoordenaars, saboteurs. Almal Afrikaners.
Kragstasies is opgeblaas en politieke moorde uitgevoer. Dié terreurveldtog van militante Afrikaners, wat die land in die 1940’s naby aan die afgrond van anargie gebring het, is vandag grootliks vergete. Daar was spioenasie-intriges, opspraakwekkende hoogverraadsake en gewaagde ontsnappingspogings. Maar om politieke redes is hierdie hoofstuk in ons geskiedenis dekades lank diep begrawe.
In Wit terroriste vlek Albert Blake dit wawyd oop. Hy vertel die dramatiese ware verhale van Afrikaners wat hulle tot terreur gewend het. Onder hulle tel die sanger Steve Hofmeyr se oupa en die latere eerste minister John Vorster, asook die wêreldbekende stoeier Johannes van der Walt. Wat het hulle gedryf? Waarvoor het hulle baklei? Was hulle verraaiers of was hulle ware patriotte?
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 24 Maart 10:30

YOU MAKE ME POSSIBLE: THE LOVE LETTERS OF KARINA M. SZCZUREK & ANDRÉ BRINK
MET Karina Szczurek and Erns Gründling (discussant)
Novelist André Brink married Karina Szczurek when he was 71 and she was 29. They were together for ten years before he died on a plane, beside her, high above Africa in February 2015.Selected and edited by Karina M. Szczurek, the love letters between herself and André included in You Make Me Possible tell in detail the story of how they met in Austria in December 2004, fell in love, and decided to forge a future together. The intense correspondence which followed in the weeks after their fateful encounter recounts their courtship in words, revealing their initially unacknowledged attraction, their fears and longings, and writing a new world of recognition and togetherness into being. The letters chronicle the time between their first meeting and Karina’s decision to relocate to South Africa to be with André in 2005 – a relationship which lasted until his death in 2015.
Afrikaans en Engels | Gesin | 60min.
ATKV-Boeke-oase • Gratis • 22 Maart 15:30

Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google