Hugo Theart is op Vrydag, 25 Januarie 2019, as artistieke direkteur van Kunste Onbeperk aangestel. Dié aankondiging is tydens die maatskappy se algemene jaarvergadering deur Crispin Sonn, voorsitter van die direksie, gemaak.

“Die direksie wil, met die oog op die toekoms, Kunste Onbeperk as ’n kreatiewe maatskappy lei en het daarom besluit om weg te beweeg van die titel uitvoerende hoof en ’n artistieke direkteur aan te stel. Ons sien uit na die toekoms saam met Hugo en dat sy kreatiwiteit en leiding diemaatskappy in die komende jare sal laat groei”, sê Sonn.

“As direksie het ons groot waardering vir die rol wat Kunste Onbeperk se personeel, met Hugo se leiding, oor die afgelope paar maande gespeel het. Dit verseker dat die maatskappy by sy strategiese plan hou. Hulle het die afgelope tyd met uitsonderlike vermoë die administrasie-lasgedra”, aldus Sonn.

Kunste Onbeperk bied jaarliks die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Klein Karoo Klassique, Teksmark en ander projekte aan.

Theart het in 2015 as kreatiewe hoof by Kunste Onbeperk aangesluit en neem sedert Januarie 2018 as uitvoerende hoof waar. “Ek is dankbaar vir die geleentheid en opgewonde oor wat die maatskappy in die volgende paar jare kan vermag. Kunste Onbeperk en projekte soos die KKNK het ’n belangrike en groot rol om in die kunste te speel en moet deur middel van die kunste, sosiale samehorigheid in ons land bevorder”, meen hy. Theart betree die pos van artistieke direkteur op 1 Februarie 2019.

Volgens Sonn word ’n sterk logistieke en administratiewe onderbou ook gevestig om Theart by testaan. Dryland Event Management, ’n maatskappy gesetel op Oudtshoorn, is as logistiekevennoot aangestel met Bernard le Roux – voorheen bedryfshoof van Kunste Onbeperk – as verteenwoordiger. Linda Marques, wat reeds 18 jaar by die KKNK en Kunste Onbeperk werk, neem die posisie van algemene bestuurder in.

Sonn het verseker dat Kunste Onbeperk, ten spyte van die huidige wêreldwye ekonomiese uitdagings, gesond is en dat daar hard agter die skerms gewerk word om die welstand van die maatskappy vir die volgende dekades te verseker.

Die KKNK vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar van Donderdag 21 Maart tot Woensdag 27 Maart op Oudtshoorn. Die feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies kan by Computicket, House & Home of Shoprite/Checkers gekoop word. Verblyfbesprekings kan deur die verblyfkantoor gedoen word by 044 203 8600.