Die Naaimasjien

Ikoniese Die Naaimasjien nou verfilm en jy kan saam kyk

Dit is bederf uit die boonste rakke: ’n bekroonde toneelstuk wat jy in jou eie huis kan geniet! 

Die ikoniese eenvroustuk Die Naaimasjien deur Rachelle Greeff is spesiaal vir die KKNK verfilm, en is die eerste vertoning wat kultuurdiere aanlyn kan geniet as deel van die KKNK se program vir 2021 in sy virtuele teater by kknk.co.za. 

Ná honderde opvoerings dwarsoor die land oor bykans drie jaar, en ’n onvergeetlike speelvak by die Edinburgh-fees in Skotland, kry Die Naaimasjien ’n tweede lewe in jou sitkamer. As jy nog nie die karakter Magdaleen ken nie, moet jy nou jou kaartjies koop.

Sy sit in haar ouetehuiskamer en is besig om elke deeltjie van haar naaimasjien skoon te maak, want Magdaleen het hom verkoop, en die vrou op die foon het gesê sy is drie-uur vanmiddag hier om dit op te laai. Met deernis en humor vat Magdaleen kykers terug na ’n tyd van melkaflewerings, moerkoffie, kouse met nate en wit Valiants. En sy herinner ons aan hoe ’n ma – soos ’n baboesjka-poppie – binne-in elkeen van haar kinders staan.

Hennie van Greunen, wat die regie en ontwerp vir die toneelstuk gedoen het, vertel hoe Sandra Prinsloo Magdaleen geword het: “Ek het omtrent elke Afrikaanse aktrise getoets vir die rol, maar kon net nie die regte een kry nie. Sandra het – tipies professioneel soos sy is – vier bladsye teks voorberei, dit by my huis in Riebeek-Wes vir my kom doen, en ’n halwe bladsy nadat sy begin het, het ons albei geweet: Sy ís Magdaleen.” 

Die Naaimasjien het ’n groot impak op Sandra se reeds suksesvolle akteursloopbaan gehad. “Dit was vir my een van daardie bepalende produksies waar jou loopbaan ‘n nuwe wending neem. Ek is bitter dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om haar te speel. Die impak op gehore was oorweldigend en Rachelle het deur Die Naaimasjien vir senior burgers ’n stem gegee wat nie geïgnoreer kon word nie.”

Greeff sê die skryf van dié bekroonde teks het haar lewe verander. “Ek het besef as jy uit jou hart en jou niere skryf sonder om te probeer slim wees met allerhande foefies, raak jy aan die hart en die niere van mense. Ek wens ek kan voltyds vir die teater skryf. Die heel lekkerste deel daarvan is die feit dat jy nie alleen is nie; ek skryf die teks en dan is daar ’n hele span en as dit mense is soos Sandra en Hennie – hoe gelukkig kan ’n meisie nou wees!”

Die klankbaan wat in Magdaleen se herinneringe woon, spog met die stemtalente van onder meer Stian Bam, Joanie Combrink, Deon Lotz, Viljé Maritz en Pedro Kruger.

Carien Loubser, bekroonde vervaardiger en TV-regisseur van reekse soos Die Republiek van Zoid Afrika en Jan, het die toneelstuk op film verewig. Die film word deur die KKNK aangebied in vennootskap met Brainwave Productions en Wordsmith Theatre Factory.

Die produksie is in Afrikaans, maar ’n opsie is beskikbaar vir ’n weergawe met Engelse onderskrifte. 

Kaartjies is te koop by Quicket. Sit terug in die gerief van jou eie huis, en kyk saam!

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.