Jong visuele kunstenaars van Oudtshoorn is vanjaar die gesig van Absa se bemarkingsveldtog by die KKNK. 

Dié bank het vandeesweek hul nuwe bemarkingsveldtog lewe gegee met die installering van die groot buitelug-reklamebord teen die muur van die C.J. Langenhoven Gedenkbiblioteek in Oudtshoorn. 

Absa stel tydens die KKNK hulle Laat Jou Kuns Wen-mentorskapprogram bekend. Die eerste drie deelnemers aan dié program – Colin Meyer, Earlyn Cloud en Zietske Saaiman – is Oudtshoorniete”, vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. Volgens Theart is die doel van die projek om die ontwikkeling van jong opkomende talent ’n hupstoot te gee. Hulle mentor is Madeleine Miles, Oudtshoorn-kunstenaar, installasie-ontwerper en kreatiewe konsultant.

Miles sê dit is ’n wonderlike geleentheid wat Absa oor die volgende jaar aan dié drie kunstenaars bied. “Sulke geleenthede kom nie aldag oor ’n mens se pad nie. Ons gaan hul grense verskuif en hulle blootstel aan nuwe vaardighede en tegnieke”, vertel sy. Vir haar is dit veral belangrik om te fokus op kreatiewe en kritiese denke, hoe om met nuwe konsepte vorendag te kom en probleme op te los. “Ons wil hulle help om te groei as kunstenaars en nie net op die praktiese aspekte van skep fokus nie”, voeg Miles by.  

Die jong kunstenaars gaan ook geleer word hoe om ’n begroting te bestuur, hoe om hul eie finansies te hanteer en wins te maak. Bystand met tydsbeplanning, die opstel van ’n opdragdokument en hoe om een te skryf gaan ook aan die kunstenaars verskaf word. “Die program dek elke aspek van kunstenaar-wees en daarom dink ek dit gaan uiters waardevol wees”, sê Miles. 

Miles sê die onlangse reklameveldtog vir die projek was ’n groot hoogtepunt vir die jong kunstenaars. “Absa het ons vir twee dae na Johannesburg gevlieg waar ons in ’n studio foto’s en videos vir die veldtog geneem het. Dit was die eerste keer dat van die kunstenaars Johannesburg besoek het en gevlieg het. Dit was fassinerend om die proses deur hul oë te ervaar. Ek dink om te sien hoeveel werk ’n reklameveldtog vereis in terme van die fotografie, stilering en die stel natuurlik was vir hulle ’n belewenis”, sê Miles.

Die KKNK word van Donderdag, 21 Maart tot Woensdag, 27 Maart vir die 25ste keer op Oudtshoorn aangebied. Die volledige feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies vir produksies is by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 of verblyf@kknk.co.za gedoen word.