KKNK 2021 – ‘n Fees van vermaak #Oraloor

Die Covid-19-pandemie het Suid-Afrika dalk nog beet, maar die KKNK vier onverpoosd fees in 2021, met ’n ryk spyskaart van vermaak en projekte #oraloor! Op die kassie, in die palm van jou hand – selfs op die silwerdoek laat die KKNK die kunste gedy. En danksy die volgehoue ondersteuning van Absa as hoofborg, en Media24 as stigterborg, kan die KKNK vanjaar verder voortbou op die onbeperkte moontlikhede van ’n virtuele aanbod.

“Ons het reeds in 2020 met aanlyn aanbiedinge begin en in 2021 sal die aanbod net uitbrei,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Vanjaar hou ons heeljaar fees, met maandelikse programme en ’n verskeidenheid projekte wat iets vir almal bied. Ons het baie planne, met onder meer spesiale veldtogte, gespreksreekse en produksies in alle genres dwarsdeur 2021. Nuwe toneel- en musiekproduksies sal maandeliks beskikbaar gestel word, maar elke produksie sal net vir ’n beperkte tyd gesien kan word. Hoewel ons fokus op ’n virtuele fees sal daar soos die pandemie ons toelaat, ook pop-up-konserte in Oudtshoorn en regoor die land plaasvind. In 2021 vier die KKNK waarlik fees #oraloor!”


Die ikoniese eenvroustuk Die Naaimasjien van Rachelle Greeff is spesiaal vir die KKNK verfilm, en is die eerste vertoning wat kultuurdiere aanlyn kan geniet in die KKNK se virtuele teater by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Quicket; sit terug in die gerief van jou eie huis, en kyk saam! Oor die volgende paar maande sal liefhebbers van die kunste ook toegang hê tot werke soos Willem Anker se Samsa MasjienAsem van Reza de Wet, en die veelbekroonde Koningin Lear met Antoinette Kellerman in die titelrol. In vennootskap met Aardklop bring ons ook die kykNET Fiësta-bekroonde drama Queenie-hulle en Philip Rademeyer se Opdrifsel na jou sitkamer, asook Hannes van Wyk se roerende Sê groete vir ma.

Neil Coppen se verwerking van Shakespeare se Hamlet gee kunsliefhebbers ’n sonderlinge kans om dié projek te sien vorm aanneem: Skakel in vir ’n spesiale voorlesing van dié verwerking om 18:00 op 31 Mei, met ’n sterbelaaide geselskap. En dis gratis, net by kknk.co.za

Soos van ouds is Oudtshoorn die gasheer vir etlike spesiale projekte, waaronder die DICE-projek saam met die Britse Raad in Engeland, skryfkursusse soos die heel eerste Teksmark Oudtshoorn-geleentheid einde Mei, en ’n opwindende nuwe debuut: die heel eerste internasionale Tekstmark (let op die -t- in die middel!) wat vanjaar in samewerking met die Nederlandse ambassade in Suid-Afrika aangepak word. (Die plaaslike Teksmark is geskeduleer vir einde Oktober, weer by die Baxterteater in Kaapstad.)

Die bekroonde plaaslike ReWOLusie-projek en die nasionale Hekel Saam-veldtog is reeds in volle gang, met breiers en hekelaars wat regoor die land aan die toor is met wol. Meer as 1 000 mense het al geregistreer om aan dié projek deel te neem – kry nog inligting op die KKNK se webblad, met ’n nuwe hekelpatroon wat elke Maandag tot einde Julie gedeel word.

In Junie verskyn Maskers en Mure, ’n digbundel met werk wat 142 digters tydens die pandemie geskryf het. En tot Desember bied Marthinus Basson met die KKNK NATi Studio aanlyn regie-meesterklasse aan vir aspirant- en ervare teatermakers.

Vir jongmense is die aanlyn toneelspelkompetisie DRAMAWEB SA in Maart bekend gestel, en na die sukses van verlede jaar se KORTOM-filmprojek kan jong filmmakers solank begin dink aan ’n idee vir hul inskrywing vanjaar in ronde 2.

Die KKNK Virtuele Galery (kry dit ook by kknk.co.za) bring weer met die ondersteuning van Absa kuns na die gemak van jou huis. Vanjaar se uitstalling word weer gekurateer deur Dineke van der Walt, wat verlede jaar vir haar werk met ’n kykNET Fiësta-prys bekroon is. En saam met BIB, ’n nuwe oudio-app, sal die KKNK voorlesings en oudio-dramas van verskeie kontemporêre en klassieke Suid-Afrikaanse en internasionale teaterproduksies “op die planke” bring. En as jy dink Whatsapp is net vir familiereëlings en skoolreünies — dink weer, want die KKNK beplan selfs ’n Whatsapp-drama…

Gespreksreekse sal volop wees: oor aktuele en literêre sake, politiek, kuns en teater. En Absa voer ook ’n paar verrassings in die mou met ’n ruimte vir digitale vermaak en stimulasie uit die boonste rakke. Hou die webblad en sosiale media dop vir besonderhede.

En les bes – met sy wortels in die Klein-Karoo is verskeie pop-up-konserte in Oudtshoorn op die kalender, aangebied met inagneming van alle Covid-19-regulasies. Later in die jaar werk ons saam met Kaapstad-opera om La Bohème na Oudtshoorn te bring, en met die ondersteuning van die Rupert-musiekstigting sal ander klassieke musiekkonserte ook aangebied word as deel van Klein-Karoo Klassique. En spesiaal vir Kersfees kom Coenie de Villiers en Deon Meyer kuier vir ’n Karoo-Kersfees.

Volg die KKNK op sosiale media, en hou die webblad dop vir nog nuus en aankondigings. Registreer ook vir ons nuusbrief sodat jy niks misloop nie.

Die KKNK word ondersteun deur ABSA en Media24, met bykomende steun van Het Jan Marais Nationale Fonds, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), die Departement van Kultuur en Sport: Wes-Kaap, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton-stigting.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.