Programaansoeke
Die 30ste KKNK word vanaf 28 Maart tot 4 April 2026 in die hartjie van die Klein Karoo op Oudtshoorn aangebied!
Alle kunstenaars, kreatiewe skeppers en denkers word uitgenooi om innoverende en kreatiewe aansoeke in te dien vir oorweging.
Ons moedig ook produksievoorstelle aan wat geoormerk kan word vir feeste verder in die toekoms. Dit bied geleentheid vir langtermyn beplanning. Stuur hierdie voorstelle aan Hugo Theart by hugo@kunste.org.za.
DIE KKNK SE FEESGANGERS
is divers en veeltalig • is meestal Afrikaans-magtig • kom van alle uithoeke van die land (en ook ander lande) • se spreektaal is meestal Afrikaans, Engels en isiXhosa, maar hulle gaan kyk produksies wat enige taal insluit • sluit alle ouderdomsgroepe van kleuters tot bejaardes in • hou van gehalteteater • hou daarvan om uitgedaag te word • hou van intieme optredes, maar ook van skouspelagtige konserte • is nuuskierig en weetgierig • is mense wat glo in goeie en positiewe burgerskap • staan vroeg op en kuier tot laat • het ’n sterk mening en weet waarvan hulle hou • kom gewoonlik in ’n groep wat familie en vriende insluit
DIEN JOU VOORSTEL SÓ IN
Dien jou voorstel elektroniese by hierdie vorm in, voor die sluitingsdatum van
Maandag 14 Julie 2025 om middernag.
DIE PROSES
Alle voorstelle word deur ’n onafhanklike aanbevelingspaneel geëvalueer, in samewerking met die artistieke direkteur, in oorleg met die evalueringskriteria wat hier ingesluit word. Voorlopige en finale keuring word daarna deur die KKNK-kantoor uitgestuur.
KRITERIA- EN KEURINGSRIGLYNE
Daar is verskeie aspekte wat oorweeg word in die samestelling van die finale program.
Elemente wat uitstaan en voorkeur geniet, is onder meer:
- Innovasie
- Debuutwerke
- Nuutgeskrewe tekste of musiek
- Eg Suid-Afrikaanse stories
- Veeltalige produksies
- Produksies in enige van die amptelike landstale
- Nie-verbale produksies
- Konseptuele werk
- Interessante kombinasies van kunstenaars
- Bemarkbaarheid
Die KKNK ontvang elke jaar uitstaande voorstelle, maar kan ongelukkig nie alle voorstelle aanvaar nie. Praktiese aspekte wat hier ’n rol speel is:
- Geskikte venues vir aanbiedings (hier word kapasiteit en potensiële kaartjieverkope ook oorweeg).
- Tegniese behoeftes van aanbiedings.
- Skaal van aanbiedings.
- Die balans van die algehele KKNK-program om alle genres en teikenmarkte te dien.
- Finansiële implikasies van ’n produksie.
Spesifieke kriteria wat gebruik word:
- Artistieke waarde
- Kommersiële potensiaal
- Relevantheid
- Wye sosiale impak
AMATEUR-PRODUKSIES
As ’n nasionale kunstefees skep die KKNK professionele platforms wat uitnemende en professionele werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars aanbied. Professionele kunstenaars is individue wat hul hoof-inkomste uit die kunstebedryf verdien. ’n Platform word verder vir amateur-optredes of nie-professionele kunstenaars geskep, om die nasionale kollig op hulle talente en werk te fokus. Hier val die fokus op individue vanuit Oudtshoorn en omgewing, deur die skep van geleenthede vir individue uit ons streek. Vir dié rede is ’n grootskaalse gemeenskapsprojek in 2021 van stapel gestuur, waar individue uit Oudtshoorn en omgewing as deel van Karoo Kaarte die geleentheid het om tydens die fees aan verskeie aspekte van die program deel te neem, waaronder teaterproduksies, kunsuitstallings en -installasies, werksessies, multidissiplinêre aanbiedings, publikasies en ander kreatiewe platforms soos ’n app. Karoo Kaarte maak dit vir die KKNK moontlik om ’n breedvoerige en volhoubare platform vir amateur-optredes te skep, waartydens blootstelling aan gevestigde teater- en kunsteskeppers ingesluit word. Gevolglik word bykomende amateur-produksies en/of nie-professionele aanbiedinge nie oorweeg nie, maar voorstelle wat onder die vaandel van Karoo Kaarte ter bevordering van die plaaslike kunstebedryf aangebied word, word wel oorweeg.
INTERNASIONALE PRODUKSIES
Die KKNK verwelkom graag internasionale produksies indien dié produksies aangebied kan word, sonder om fondse wat vir Suid-Afrikaanse kunstenaars geoormerk is, te gebruik.
Die KKNK se program word sorgvuldig saamgestel om ’n deurdagte ervaring vir feesgangers te skep wat divers, opwindend en vernuwend is. As kunstefees is die KKNK toegewyd om ’n fees te wees wat ’n bydrae tot nasiebou en goeie burgerskap lewer en voorstelle van buite Suid-Afrika wat hierdie missie ondersteun word ook in aanmerking geneem.
TEIKENMARK
Die KKNK se teikenmark is diverse feesgangers van oraloor en met die samestelling van die program word moontlikhede vir almal ondersoek.
KONTRAKTIPES
Die KKNK bied drie kontraktipes aan en jy moet in jou voorstel aandui wat jy verkies:
Loketkontrak
Die KKNK deel in die loketinkomste van die aanbieding by die fees, maar dra geen verantwoordelikheid vir die skep van die aanbieding nie. Die meeste produksies word op hierdie basis aangebied. Die KKNK verskaf die venue, tegniese inrigting, voorportaal- en tegniese personeel, hanteer kaartjieverkope saam met die diensverskaffer, loods sterk en gefokusde bemarkingsveldtogte op verskeie platforms wat die produksie sal insluit somtyds of die fees wat ’n indirekte bydrae lewer tot die produksie se bemarking. Die vervaardiger is verantwoordelik vir alle ander onkostes wat insluit, maar nie beperk is tot ontwikkelingskoste, repetisiefooie, reis en verblyf, ens.
Fooikontrak
Die KKNK vervaardig ’n aantal debuutaanbiedings. In hierdie geval dra die KKNK die onkoste van die produksie en aanvaar verantwoordelikheid vir al die speelvakke. In ruil vir sy belegging verwag die KKNK inspraak in die kreatiewe proses en werk ook saam met die vervaardiger om verdere speelvakke te ondersoek.
Ko-produksie (vennootskappe)
Die KKNK werk saam met vennote om ’n produksie te ontwikkel en aan te bied. Die KKNK verwelkom voorstelle wat samewerking tussen verskillende partye aanmoedig en tree graag in gesprek oor dié moontlikhede.
KUNSVORMS EN PROGRAMAFDELINGS
Dit is vir die KKNK belangrik om aan almal die geleentheid te bied om voorstelle in te dien en daarom rig die KKNK ’n ope uitnodiging aan alle kunstenaars, musikante, kreatiewe skeppers en vervaardigers.
Alle voorstelle is welkom, maar die KKNK stel veral in die volgende belang:
Teaterproduksies
- Drama en komedie is ’n kerndeel van die KKNK se program.
- Relevante Suid-Afrikaanse stories wat ook belangrike sosiale, maatskaplike en ekonomiese kwessies takel.
- ’n Verskeidenheid produksies word aanvaar om ’n gesonde balans tussen nis- en gewilde aanbiedings te verseker.
- Plekspesifieke voorstelle wat die landskap van die Klein Karoo inkorporeer, word sterk oorweeg.
- Die KKNK stel in besonder belang in produksies wat spesifiek op familie-, kinder-, jeugvermaak en jong volwassenes fokus.
- Voorkeur word aan nuutgeskrewe Suid-Afrikaanse tekste gegee, maar dit is ook vir die KKNK belangrik om relevante klassieke en kontemporêre werk van hier en elders aan te bied.
- Woordkuns, storievertel, digkuns, dans- en kinderteater vorm deel van die teaterprogram.
Musiekproduksies
- Alle musiekgenres word oorweeg.
- Die KKNK wil belê in innoverende en weldeurdagte musiekproduksies wat uitstaande musikante en/of sangers inkorporeer. Produksies word aangebied in ’n verskeidenheid venues, wat wissel van intieme 100-sitplek- tot opelugvenues met ’n kapasiteit van tot 6 000 mense.
- Die KKNK wil ook belê in musiekteaterproduksies wat politieke, sosiale en maatskaplike kommentaar lewer en stel veral belang in satiriese werk (bv. kabaret).
Straatteater en -kuns
- ’n Uitgebreide program word jaarliks in Baron van Reedestraat (die feeskern) en die feesterrein (’n area met stalletjies, kroeë en musiek) aangebied. Die KKNK moedig alle kunstenaars aan om voorstelle vir straatoptredes (multidissiplinêre skouspelagtige, unieke, plekspesifieke, mobiele aanbiedings of busking) vir KKNK 2026 in te dien. Die KKNK wil ook visuele kunstenaars aanmoedig om voorstelle te stuur vir buitelug-kunsinstallasies of-programme.
Blitsteater
- ’n Geleentheid vir jong én gevestigde kunstenaars om te eksperimenteer en meer konseptuele teaterervarings na die fees te bring.
- Hoe werk Blitsteater?
- Opvoerings is slegs 20 minute lank. Omdat die projek produksies roteer, is dit belangrik dat die aanbieding die gehoorlede besig hou vir die volle tydsduur (of so na as moontlik daaraan) en nie oor die gegewe tyd speel nie.
- Dit word opgevoer in tente van ongeveer 6m x 10m (of in ander klein tydelike ruimtes).
- 20 tot 30 gehoorlede kan per ruimte geakkommodeer word, afhangend van die produksie se uitleg tussen die gehoor en opvoerruimte. Dis belangrik dat die produksiespan ’n bewustelike keuse maak oor hoe die gehoor na die vertoning moet kyk.
- Die produksies word elke feesdag een of twee keer per dag aangebied, maar met potensiële herhalings.
- Die fees verskaf minimale tegniese inrigting. M.a.w. alhoewel multimedia, interaktiewe of ander interessante tegniese elemente aangemoedig word, is dit hoofsaaklik die produksie se eie verantwoordelikheid om hierdie elemente te reël en uit te voer.
- Alle genres is welkom.
- Familievermaak tot meer uitdagende werk vir volwassenes word oorweeg: gesinsvriendelik, met ouerbegeleiding en inhoud vir geen o.18’s.
Visuele kuns
- Visuele kunsvoorleggings word in ’n aparte proses hanteer, onder leiding van die KKNK se visuele kunskurator. Jy is welkom om jou voorstel of navrae te rig aan J.C. Aucamp by jc@kunste.org.za
Opelug musiekverhoog in die feesterrein of Baron van Reedestraat
Populêre en kontemporêre musiek wat op gesinne gemik is, word hier aangebied. Indien jy op die feesterrein of ander musiekverhoë wil optree, voltooi die vorm en dien die nodige inligting in. Die KKNK verkies dat kunstenaars nie met backtracks optree nie.
Klein Karoo-ervarings
- Indien jy voorstelle het wat as aanvullende ervarings vir feesgangers kan dien, kan jy ook aanlyn aansoek doen. Ervarings wat die Klein Karoo en Oudtshoorn se natuurskoon, geskiedenis en gehalteprodukte inkorporeer, geniet voorkeur.
Leefstylervarings
- Aanvullende, opbouende, genotvolle ervarings, wat onder meer kos, wyn, proeë, werksessies, toere, sport, natuurervarings en mode insluit word ook oorweeg.
Gespreksreekse
Indien jy interessante voorstelle vir gespreksreekse, werksessies of interaktiewe programme het, stuur jou voorstelle aan J.C. Aucamp by jc@kunste.org.za.
Pas jou idee nie by een van dié kategorieë nie?
Indien jy ’n idee het wat nie in een van die bogenoemde kategorieë pas nie, stuur jou aansoek met ’n goeie konsepvoorlegging na ons. Aspekte soos koste-effektiwiteit, innovasie, interaktiewe elemente, betrokkenheid van die plaaslike gemeenskap, toeganklikheid, opleiding en volhoubaarheid word hier aangemoedig.
TEGNIESE OMVANG VAN PRODUKSIE
Die aansoeker moet ’n .pdf oplaai wat ’n verhoogplan, beligting, klank, AV of enige ander spesifieke effekte uiteensit. Alhoewel die KKNK sover moontlik aan die tegniese behoeftes en versoeke van produksies probeer voldoen, maar indien daar uitsonderlike versoeke is, of versoeke wat nie binne die basiese tegniese inrigting val nie, moet dit deur die produksie uitgewys word sodat, indien die produksie vir die KKNK oorweeg word, die tegniese omvang duidelik is en bespreek kan word.
BEPERKING OP OPTREDE(S)
Met die indien van ’n programaansoek vir die KKNK, aanvaar die aansoeker dat daar binne ’n sekere tydperk voor en na die KKNK, by enige ander venue binne ’n sekere radius van Oudtshoorn optredes gedoen mag word nie. Geen uitsonderings word op hierdie beperking toegestaan nie.
Rig jou navrae aan:
Indien jy enige algemene navrae het kontak vir J.C. Aucamp:
Indien jy spesifieke navrae oor dié programriglyne het, of spesifieke voorstelle of idees, kontak vir Hugo Theart:
Lizané Basson, algemene bestuurder, is met kraamverlof tot einde-September 2025.