KKNK en Netwerk24 stel nuwe virtuele kortfilm-projek bekend

Netwerk24 en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het pas ’n splinternuwe kortfilm-projek, Kortom, bekendgestel. 

Volgens Henriette Loubser, hoofredakteur van Netwerk24 en Afrikaanse Nuus, is dit vir hulle belangrik om in hierdie uitdagende tye die kunstegemeenskap te ondersteun en kreatiwiteit in Afrikaans aan te moedig. “Feeste soos die KKNK wat gekanselleer moes word weens die Covid-19-pandemie, het die bedryf ’n gevoelige knou toegedien. Kunstefeeste is ’n vertoonvenster van talent en skep ook inkomste vir akteurs, skrywers, regisseurs, vervaardigers en al die ander rolspelers wat ons kunste met hul werk verryk. Kortom gee vir hulle ’n platform om nogeens op nuwe maniere te dink en te doen. Vir ons aanlyn gehoor bied dit opwindende nuwe inhoud”, sê Loubser. 

“Die KKNK is opgewonde om dié nuwe kortfilm-projek saam met Netwerk24 aan te pak. Kortom skep die geleentheid om kreatiwiteit te stimuleer en om ’n inkomste vir betrokkenes te genereer. Kreatiewe denkers kan hierdeur aan hulle idees lewe gee en dit in kortfilms vasvang. Almal word uitgenooi om voor of op 26 Junie 2020 Afrikaanse kortfilm-voorstelle vir dié projek in te dien”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. 


Volgens Theart word ses voorstelle uiteindelik gekies en teen ’n fooi vervaardig. “Dié ses finale kortfilms word dan oor ’n tydperk van ses weke op Netwerk24 gewys”, vertel hy.     

Voorstelle kan aanlyn by www.kknk.co.za/kortom ingedien word en moet ’n volledige draaiboek, loklyn en sinopsis insluit. ’n Lys van professionele betrokkenes (akteurs, regisseur, redigeerder ens.) wat ingestem het om deel van die kortfilm te wees, sou dit gekeur word, kan ook by voorstelle ingesluit wees. 

“Indien skrywers net sommige, of geen, spesifieke professionele betrokkenes bevestig het, kan slegs ’n draaiboek-voorstel ingestuur word. As die voorstel gekeur word, word ’n professionele span vir verfilming saamgestel. Professionele redigeerders en ’n post-produksiespan word vir elke kortfilm wat gekies is, aangewys”, sluit Theart af.  

Alle voorstelle word deur ’n paneel beoordeel op grond van uitvoerbaarheid en oorspronklikheid. Die skrywer en alle betrokkenes ontvang honorariums vir voorstelle wat gekies en verfilm word.

Riglyne vir skrywers van kortfilms vir Kortom, sluit in:  

  • Die kortfilm moet tussen vyf en tien minute lank wees; 
  • Slegs een tot drie akteurs mag betrokke wees; 
  • Kortfilms mag slegs met ’n slimfoon of webkamera geskiet word (geen professionele kameras nie); 
  • Slegs natuurlike lig mag gebruik word (geen professionele filmligte nie); 
  • Slegs natuurlike klank mag gebruik word; 
  • Die inhoud moet familie-vriendelik wees; 
  • Die kortfilm moet in twee dae geskiet kan word en aan alle huidige Covid-19-regulasies voldoen; 
  • Die kortfilm moet hoofsaaklik in Afrikaans wees. Nie-verbale voorstelle word ook aanvaar.

Voorstelle moet teen Vrydag, 26 Junie 2020 om 17:00 ingedien word. Geen laat voorstelle word aanvaar nie. Kortom-navrae kan aan Nini Conradie gerig word by kortom@kunste.org.za.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.