KKNK se Teksmark vir die eerste keer in Oudtshoorn

Jy weet nou al van die KKNK se bekroonde Teksmark wat jaarliks in die Baxter-teater in Kaapstad gebeur, maar vanjaar kom dié projek huis toe, met die heel eerste Teksmark Oudtshoorn wat Saterdag 29 Mei op die KKNK se tuisdorp in die Klein-Karoo plaasvind. En die beste van alles? Inwoners van die omgewing kan gratis kom kyk wat hier op die verhoog gaan gebeur.

Vir die eerste keer kan aspirant-skrywers van Oudtshoorn en omstreke hul voorstelle vir verhoogtekste kom voorlê. Maar dis nie net nuwe stemme nie – ou bekendes soos Ricardo Arendse, draaiboekskrywer en boorling van die dorp, bring ook ’n teks, met die plaaslike ster Marlo Minnaar van SuidoosterSara se geheim en 7de Laan wat Ricardo se teks sal voorlees. Die regie sal deur die akteur en regisseur Lee-Ann van Rooi gedoen word.

Die doel van Teksmark is eenvoudig: Dis ’n soektog na nuwe talent wat by toekomstige feeste hul werk op die planke kan sien lewe kry op KKNK-verhoë.

Die aanbieders van die heel eerste Teksmark Oudtshoorn is die akteur en skrywer Ilse Oppelt van Fishy Fêshuns- en Klein Karoo-faam, en Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK.

Wat kan jy verwag? Sewe uittreksels van splinternuwe tekste (deur Hannes Visser, Jopie Coetzee, Leach van der Westhuizen, Ludwig Siwa, Theo Witbooi, Tiffany Saterdaght en Veruschka Cobus) wat as leesteater aangebied word. En op die koop toe ’n uittreksel van Ricardo se Die halwe huis – ’n spesiale voorsmakie van dié produksie wat in die toekoms by die KKNK opgevoer sal word.

Die sewe skrywers is gekies ná ’n skryfwerkwinkel wat in April deur die bekroonde dramaturg en regisseur Neil Coppen aangebied is, maar enigeen van Oudtshoorn en die Tuinroete kon ’n voorstel instuur.

Teksmark Oudtshoorn begin om 16:00 en Covid-19-protokol sal deurgaans gevolg word. Sitplek in die Burgersentrum word beperk tot 50% van die kapasiteit. Bespreek dus so gou as wat jy kan by Shandré Harris:

  • telefonies by 044 203 8600,
  • stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337, of
  • stuur ’n e-pos na shandre@kunste.org.za.

Die voorlesings word aangebied in samewerking met nagraadse toegepaste teaterstudente van Stellenbosh Universiteit se Dramadepartement onder leiding van Amelda Brand.

Meer oor Teksmark

Teksmark word ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum in Kaapstad, en is ’n instelling op die KKNK se jaarlikse kunstekalender. Dramaturge, akteurs, feesdirekteurs en ander spelers in die bedryf kom jaarliks in die Moederstad byeen om nuwe idees vir toneelstukke te verken en te sien hoe dit ontwikkel word tot volledige produksies. Dié baanbreker-projek is in 2018 vereer met ’n spesiale Fleur du Cap-prys vir vernuwing in die teater.

Sedert Teksmark se ontstaan in 2016 is verskeie verhoogteks-idees ontwikkel tot veelbekroonde teaterproduksies, waaronder Marina Albertyn se Melk en vleis, Bauke Snyman se Swerfgoed, Amee Lekas se Die dans van die Watermeid, Du Toit Albertze se Die Meermin-kompleks en Herschelle Benjamin se In Slawenhuis 39.

Die KKNK word ondersteun deur ABSA en Media24, met bykomende steun van Het Jan Marais Nationale Fonds, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), die Departement van Kultuur en Sport: Wes-Kaap, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie

Mouton-stigting. Die presidensiële stimuluspakket (stroom 2), wat geadministreer word deur die Nasionale Kunsteraad namens die Departement van Sport, Kunste en Kultuur, ondersteun ook die KKNK met hierdie insiatief.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.