Die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se bekendstelling is op Sondag 25 November 2018 by die Norval-stigting se kunsmuseum in Tokai, Kaapstad, gehou.

Die tema van die 2019-fees, wat deur die seremoniemeesters Nina Swart en Paul Amas, aangekondig is, is Kultuurdiere.

KKNK Kultuurdier

Absa het tydens die geleentheid hul hernude ondersteuning van die KKNK aangekondig en is as hoofborg bevestig. David Wingfield, bemarkingshoof van die Absa Groep, het in ’n verklaring gesê: “Africanacity is ’n unieke woord wat ons geskep het vir die kenmerkende vermoë van Afrikane om altyd merkwaardige maniere te vind om dinge tot stand te bring. Kunstenaars en kultuurpraktisyns het dit deur die jare reggekry om dinge te laat gebeur wat ’n onuitwisbare impak maak op ons samelewing se psige. Dit is juis daarom dat ons voortgaan om hulle te ondersteun en geleenthede te skep waar hulle kan gedy. Die KKNK bied ’n platform waar al hul talente byeen gebring kan word en met mense uit alle kringe gedeel kan word.”

Kunste Onbeperk, die maatskappy wat onder meer die KKNK aanbied, het by die funksie vier kunstenaars vir hul bydrae tot die kunste vereer. Athol Fugard is vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir sy Lewensbydrae tot die Teater. Die commendatio is deur die teaterlegende Mannie Manim gelewer. Fugard se toneelstuk Statements After an Arrest under the Immorality Act sal in 2019 as medeproduksie saam met die Fugard-teater by die KKNK debuteer.

Amanda Strydom het die Kunste Onbeperk-prys vir haar Lewensbydrae tot Musiek ontvang. Paul Boekkooi het die commendatio gelewer. Sy is die enigste kunstenaar wat by elk van die KKNK se 24 feeste opgetree het. Sy sal in verskeie produksies by KKNK25 optree, asook in haar solovertoning, Amanda Strydom – Miss Mandy.

Lizz Meiring is vereer vir haar bydrae as aktrise, skrywer, regisseur en mentor asook vir haar uitsonderlike werk vir die Teaterbystandsfonds en haar onbaatsugtige ondersteuning van jong talent en ander in die bedryf. Sy het die Kunste Onbeperk-prys vir Diens aan die Kunste ontvang en Pieter-Dirk Uys het die commendatio gelewer. Sy sal te sien wees in haar debuut-solovertoning Non Met Vakansie gedurende KKNK25.

Lynelle Kenned het reeds groot indruk gemaak as aktrise, klassieke sangeres en in blyspele, en het al verskeie pryse verower. Sy ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem as ’n jong kunstenaar wat nog ’n groot impak op die kunstebedryf sal hê. Die Hertzog- pryswenner Tertius Kapp het die commendatio gelewer. Kenned sal ook by verskeie produksies gedurende KKNK25 betrokke wees.

Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, die nie-winsgewende organisasie wat ook die KKNK aanbied, het beklemtoon dat die organisasie se missie is om’n daadwerklike verskil deur- en met die kunste te maak tot samehorigheid in die land. Die organisasie wil op verskeie maniere oor die volgende paar jaar kunstenaars en die kunste landwyd ondersteun. Hy het ook gesê die organisasie sal voort bou op die sukses en nalatenskap wat oor die afgelope 25 jaar gevestig is.

Sy strewe om ook in Oudtshoorn en omgewing, waar die KKNK jaarliks gehou word,’n verskil te maak is deur die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, beaam deur beoogde samewerking tussen die munisipaliteit en Kunste Onbeperk aan te kondig. Dit behels uitgebreide projekte wat kuns, kultuur en entrepreneurskap, veral onder die jeug van die distrik, sal bevorder.

Ander sprekers tydens die bekendstelling was twee voormalige uitvoerende hoofde van die fees, Karen Meiring en Pieter Fourie. Nina Swart het met hulle gesels oor die beginjare van die fees. Wicus Pretorius, redakteur van Tuis en Media24 se verteenwoordiger op die Kunste Onbeperk-direksie, het die stigtersborg verteenwoordig en het die borg se jare lange verbintenis belig. “Dis 25 jaar van feesvier , 25 jaar van vryheid, 25 jaar van ondersteuning aan die kunste en kunstenaars — Media24 is met trots ’n borg van KKNK2019.” Hy het bygevoeg: “Dis ‘business unusual’ vir kunstefeeste in die land. Ons moet nuut dink en al nader aan mekaar werk om die kunste te laat gedy.”

Volgens Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, is daar ’n opwindende program wat op feesgangers wag met vele debuutproduksies en uitstaande kunstenaars.

“Die 25ste jaar is natuurlik ’n nostalgiese viering van ’n kwarteeu van kunste in die Klein Karoo en 25 jaar van demokrasie. Ons ondersoek, herbesoek, stof af, maar ons kyk ook vorentoe en soos gewoonlik sal die fees ervarings uit die boonste rakke vir die almalbied.”

KKNK Logo

Die volledige program word vroeg in Januarie bekend gemaak, maar die aap is uit die mou gelaat met ’n paar hoogtepunte:
Die vlagskip-dramavertoning van die KKNK25-fees is Koningin Lear, Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se herverbeelding van die klassieke Shakespeare-werk. Marthinus Basson is die regisseur, met onder andere Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais en Neels van Jaarsveld in die rolverdeling. Lanoye en Kellermann het tydens die geleentheid in Nederlands en Afrikaans uit Koningin Lear voorgelees. Die produksie word moontlik gemaak deur NATi.

Die jongspan kan uitsien na Jakkals & Wolf Onbeperk – ’n musiekproduksie vir die hele gesin geskryf deur Malan Steyn,met oorspronklike musiek deur Frazer Barry en onder regie van Amelda Brand met die samewerking van die Universiteit van Stellenbosch se dramadepartement. Spesiale gaskunstenaars sal deel wees van die ervaring vir jonk en oud.

Wat visuele kuns betref, is daar nie ’n feeskunstenaar aangewys nie, maar die KKNK se kunskurator, Lucia Boer, het aangekondig dat’n besonderse retrospektiewe uitstalling van die KKNK se feeskunstenaars oor die jare die kern sal vorm van die jaar se aanbod van visuele kuns.

Die Netwerk24-feeskafee, die RSG-verhoog en die KykNET-leefarea sal weer tonne gratis aanbiedings en lewe in die hartjie van die fees bied. Dit sluit die bekende gespreksreekse soos Die Burger Praat Saam-diskoersreeks (saamgestel deur Ivor Price) en die ATKV- boekgesprekke in.

Die Kuierbuurt bied nogmaals volop vermaak vir die hele gesin en weekkaartjies sal reeds vroeg beskikbaar wees. Ses konserte met top-kunstenaars word aangebied op die Huisgenoot-verhoog, daar is elke dag gratis vermaak op die Castle-verhoog en die jongklomp kan by Speelbos baljaar. Die Absa Rooiplein sal weer dwarsdeur die dag feesgangers verwelkom met verskeie gesprekke, bekendes enaktiwiteite.

Die KKNK25-feesprogram is vanaf vroeg Januarie 2019 op die webwerf kknk.co.za beskikbaar en kaartjies kan vanaf 18 Januarie 2019 by Computicket gekoop word.

Feesgangers kan ook by die Kliek!-klub aansluit: Kliek!-klublede ontvang dwarsdeur die jaar verskeie voordele en kan ook voor die amptelike datum kaartjies bespreek. Verblyfbesprekings is reeds oop en kan by 044 203 8600 gemaak word.