KKNK Virtuele Galery

KKNK Virtuele Galery ‘n vertoonkas vir plaaslike kuns

Die werk van tien visuele kunstenaars uit die Tuinroete maak deel uit van vanjaar se KKNK Virtuele Galery, ondersteun deur Absa. 

Dié kunsgalery het op 29 Junie vir die tweede agtereenvolgende jaar sy virtuele “deure” oopgemaak vir kunsliefhebbers regoor Suid-Afrika – trouens die hele wêreld! – om uitstaande kuns in die gemak en veiligheid van hul eie huis te geniet.  

Dineke van der Walt, kurator van dié galery, is tydens die 11de kykNET Fiësta-toekenningsaand met die Fiësta vir Beste Prestasie in Visuele Kuns vir verlede jaar se Virtuele Kunsgalery bekroon. Die galery is ook genomineer as een van die Beste Aanlyn Projekte.

Vanjaar se aanbod sluit ses uitstallings in, met 260 kunswerke deur 83 kunstenaars. “Kunsliefhebbers kan uitsien na die werke van verskeie kunstenaars van Oudtshoorn en die Tuinroete: Chris Slabber, Roger Langdon, Hannalie Taute, Jan Willem Wiener, Janet Dixon, Lisl Barry, Ria Holliday, Stephen Rosin, Hermann Niebuhr en Cobus van Bosch,” sê Van der Walt. “Die tema van vanjaar se uitstallings is Voel • Feel – die kunstenaars en kurators moes werke kies wat die fyn nuanses van uiteenlopende emosies ondersoek.” 

Die uitstalling Amplifica: A Medley of Moods in Miniature is by uitstek ’n viering van plaaslike talent. Chris Slabber, ’n gebore Oudtshoorniet, wil met sy uitstalling hê die kyker moet die werk met hul eie verbeelding voltooi. “Dit moet ’n innerlike reis wees, gemanifesteer as ’n emosionele ervaring,” sê hy. Slabber is veral bekend vir sy fotografie en manipulasietegnieke, en fokus graag op die onderbewussyn.

Roger Langdon is op Oudtshoorn gebore en getoë, maar woon tans in Kaapstad waar hy vir die eerste keer in 20 jaar sy kuns beoefen met ’n tekening van sy seun.

Hannalie Taute, ontvanger van die KKNK Kanna-toekenning vir beste visuele kunsproduksie vir haar solo-uitstalling in 2014, woon en werk in Riversdal. “Ek hou daarvan om stories uit te dink, verhale van verbeelding, selfs kortverhale. Ek word geïnspireer deur herinneringe van mense en plekke wat ek in foto’s vind,” sê sy.

In 2003 verhuis Jan Willem Wiener vanaf Nederland na Suid-Afrika, en vestig hom op Oudtshoorn. Met sy kuns wou hy “ekstreem gaan” en so klein as moontlik verf. Die resultaat is twee ronde Indiese-ink-skilderye van 85mm in deursnee op veselpapier. “Om al die detail te sien het ek gedink dit sal boeiend wees om ’n lens te gebruik.”

Janet Dixon is ’n kunstenaar, ma en mediese dokter wat op Oudtshoorn woon en werk, waar sy die aanlyn galery ArtKaroo bestuur. Vir haar bydrae tot Amplifica gebruik Dixon ink. “Dit is ideaal om emosies uit te druk, want dit vloei,” verduidelik sy.

Dan is daar die papierkuns van Lisl Barry, wat 23 jaar lank in ’n afgeleë natuurreservaat in die Klein-Karoo (Gamkaberg) gewoon het saam met haar natuurbewaarder-man en hul twee jong dogters. Hulle verhuis in 2017 na Oudtshoorn waar sy nou ’n ateljee het. “Aangesien die gebrek aan ’n presiese woord om ’n sekere emosie uit te druk die sleutel tot hierdie uitstalling is, is dit gepas om dit deur middel van papier te simboliseer,” sê sy.

Ria Holliday se skets, ook in Amplifica, is gedoen kort nadat die Covid-pandemie uitgebreek het. Holliday woon in Stilbaai, waar sy en haar man al tien jaar afgetree is en sy gereeld uitstal.

Die uitstalling Something Pauses (saamgestel deur Christa Swart van die Glen Carlou Galery) sluit werk in van Stephen Rosin, ’n bekroonde, multidissiplinêre kunstenaar wat met ink, byewas, buskruit, koeëllood, digitale fotografie en ’n verskeidenheid ander ongewone mediums werk. Rosin woon en werk naby Plettenbergbaai.

Hermann Niebuhr is ’n voltydse skilder van De Rust in die Klein-Karoo. Hy dra by tot die uitstalling Paint. Verf. (saamgestel deur Johan Myburg) en het al op groot skaal plaaslik en internasionaal uitgestal. Sy mees onlangse uitstalling, homecoming, is met groot lof in September 2020 by sy galery in De Rust aangebied.

Nog ’n plaaslike kunstenaar in die uitstalling Paint. Verf. is Cobus van Bosch. Van Bosch is in 2013 ’n wenner van ’n KKNK Kanna-toekenning en verf hoofsaaklik olie op doek in figuurlike styl, met die klem op tekstuur en kwaswerk om emosiebelaaide inhoud te skep. Hy woon en werk tans in Prins Albert.

Die KKNK Virtuele Galery, ondersteun deur Absa, sluit ’n opwindende, drie-dimensionele (3D) element in. “Dié 3D-galery is ’n gebruikersvriendelike ervaring waardeur besoekers kan ‘wandel’ en ook na stemopnames deur kunstenaars en kurators kan luister, om sodoende verskeie sintuie te stimuleer,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Uitstallings is vanjaar só saamgestel dat kunswerke uiters bekostigbaar is, met werke vanaf net R500, en boonop kry Absa-kliënte 10% afslag op hul aankope. En danksy dié galery het die deelnemende kunstenaars ’n platform waar hulle hul werk kan ten toon stel en verkoop en sodoende ’n inkomste genereer,” sluit hy af.

Besoek die KKNK Virtuele Galery, ondersteun deur Absa, met verdere ondersteuning deur Business Arts South Africa (BASA) by kknk.co.za en ontdek ’n wonderwêreld van visuele kuns!

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.