Vir die 25ste verjaardag van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, van 21 tot 27 Maart in Oudtshoorn, is ’n spesiale program saamgestel wat nie net opwindende nuwe produksies bied nie, maar ook ’n bestekopname is van die bydrae van die fees tot die kunste. Dié program is Maandag, 14 Januarie, by Olivanti Country Manor naby Oudtshoorn, bekendgestel.

Die KKNK het in 1995 sy buiging gemaak as die heel eerste nasionale Afrikaanse kunstefees. Op 25 dien dit steeds Afrikaanse gehore, maar dit is ook geanker in die breër Suid-Afrikaanse kunstegemeenskap, met die bonus dat daar jaarliks ook internasionale betrokkenheid is.

Die vlagskipproduksie is die eietydse drama Koningin Lear. Hoewel dit geskoei is op Shakespeare se King Lear, is dit herverbeel deur die Vlaamse skrywer Tom Lanoye en vertaal deur Antjie Krog. Dit is geplaas in die hede en lewer skerp kommentaar op die besigheidswêreld waarin integriteit en lojaliteit skaars kommoditeite geword het, maar in wese is dit ’n familiedrama. Marthinus Basson is die regisseur en ontwerper, met Antoinette Kellermann in die rol van die magtige sakevrou, en met onder ander Anna-Mart van der Merwe en Rolanda Marais saam met haar op die verhoog.

In 2019 is daar ’n terugblik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis met die première van ’n nuwe produksie, aangebied deur die KKNK en die Fugard-teater, van Athol Fugard se Statements After an Arrest Under the Immorality Act, wat die eerste keer in 1972 opgevoer is. Uit die klassieke stal maak Katvoet ook ’n draai by die KKNK. Onder andere Marius Weyers, Marion Holm, Tinarie van Wyk Loots en Albert Pretorius is te sien in dié verwerking van Nico Scheepers van Tennessee Williams se Cat on a Hot Tin Roof. Amanda Strydom, wat die langpad saam met die KKNK loop – van die heel eerste fees sonder om een enkele jaar mis te loop, vier haar 40ste jaar in die bedryf met haar debuutproduksie Amanda Strydom – Miss Mandy. Lizz Meiring is te sien in die rol van ’n verloopte non, saam met Wynand van Vollenstee, in die komiese drama Non met vakansie, wat by die fees debuteer.

Vir die gesin is daar weer spesiaal ’n nuwe produksie geskep, Jakkals en Wolf Onbeperk, waarin ou bekende stories nuwe lewe kry en met niemand minder nie as Riaan Cruywagen in die rolverdeling.  Dié produksie is in samewerking met die Dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch, in opdrag van Kunste Onbeperk. In die debuutkomedie Fruitloeps, met Dean John Smith en Gantane Kusch, betree die gehoor die wêreld van uitsmyters van ’n nagklub en die aardige mense waarmee hulle te doen kry. Buiten vir ander debute op die fees – komedie sowel as drama – sal etlike pryswennerproduksies ook te sien wees. Dit sluit onder meer in My seuns van Christo Davids (wat ses pryse by Aardklop gewen het, waaronder vir beste produksie en teks), Huishou (Nadia Valvekens, beste aktrise by Aardklop), Marina Albertyn se nuwe drama Bloed en bodem (Albert Pretorius, beste akteur by Aardklop) en die solovertoning Rokkie, waarvoor Charlton George vir sy vertolking van ’n transgenderpersoon by die Suidoosterfees bekroon is.

Jong kultuurdiere het die bonus dat die drie topproduksies van ATKV-Tienertoneel vanjaar deel van die program is. En Uitkampteater sal oudergewoonte iets vir jonk en oud (en almal tussenin) bied. Op die musiekfront word die verjaardagvieringe voortgesit met 25: Oud en nuut in die Outeniqua. Talle KKNK-gunstelinge – onder andere Koos Kombuis, Amanda Strydom en lede van die destydse Cutt Glas soos Anna Davel & Karen Meiring – en jong kunstenaars gaan optree, met ou en nuwe liedjies en ook dié van geliefde kunstenaars wat intussen oorlede is.

Kunstenaars wat met nuwe produksies aanmeld, sluit in Karen Zoid, Coenie de Villiers, Jo Black en CH2. Woorde op Akkoorde is ’n debuut musiekproduksie wat verskillende sangvorme en rymklets insluit.  Diana Ferrus, Frazer Barry, Churchil Naudé, Jolyn Phillips, Deniel Barry en Hermien de Vos is die kunstenaars. Die opwindende opkomende sangeres Sima Mashazi bring hulde aan die legendariese Miriam Makeba en The Lady Day Big Band met Lana Crowster (The Voice SA, reeks 1), ondersteun deur ’n 20-stuks-orkes (net vroue), gaan die dak lig met musiek uit Suid-Afrikaanse bodem. Kunste onbeperk se Jongstem-Vereerde is te sien in die debuut musiekproduksie 1/1 Lynelle Kenned, waarin sy die vergestalting van vrouwees en menswees verken.

In die Kuierbuurt word daar oudergewoonte op groot skaal musiek gemaak en aandkonserte bied iets vir almal. Musikante gedurende die 6 konserte sluit Karen Zoid, Jo Black, Refentse, Robbie Wessels, Corlea Botha, Craig Lucas, Early B, Bobby van Jaarsveld, Leah, Demi-Lee, Juanita du Plessis, Theuns Jordaan en die Soweto String Quartet in.

Met die internasionale Vlaamse dansgeselskap se Rule of Three keer dans terug na die fees. In ’n reeks tonele word die mens se gefragmenteerde ervaring van die werklikheid, weens ’n oorvloed van stimulusse, deur middel van dans en musiek uitgebeeld.

Die haas onmoontlike is vermag met ’n retrospektiewe uitstalling van die feeskunskunstenaars van die afgelope 24 jaar, met werke uit privaat en korporatiewe versamelings, sowel as bykomende werke. Ander uitstallings sluit in ’n ode aan Oudtshoorn en die Klein Karoo en ’n omvattende blik op eietydse kuns. Vir ’n meer intieme BBP-ervaring moet feesgangers beslis besoek aflê by die Absa Rooiplein. Vir die ATKV se boekgesprekke en kampvuurkonserte en Die Burger se aktuele Praat saam-gesprekke is dit raadsaam om die omvattende program vooraf te bestudeer en tyd daarvoor in te ruim.

Die KKNK is ook sinoniem met sy Klein Karoo-ervarings – wat enigiets insluit van ’n zipline-avontuur vir die waagmoediges en fiets- en drafroetes vir die fikses tot wildritte en uitstappies wat gekombineer word met heerlike versnaperinge en proegeleenthede met wyn, whisky of jenewer.

Die fees loods vanjaar ’n spesiale fees-app wat jy kan aflaai om jou fees te beplan, kaartjies te bespreek, spesiale aanbiedinge te kry en op datum te bly met die jongste feesnuus. Die app kan afgelaai word by die Apple App Store en Google Play as KKNK25. Daar is verskeie spesiale aanbiedinge wat vir ’n beperkte tyd aangebied word om weekkaartjies vir die Kuierbuurt teen afslagpryse te kry. Tot 31 Januarie kan die algemene publiek ’n weekkaartjie teen R225 koop, inwoners van Oudtshoorn kan hul weekkaartjies tot 15 Februarie teen R200 bekom, terwyl mense van 70 en ouer tot 20 Maart R225 vir hul kaartjies sal betaal.

 

Nog ‘n opwindende nuwe ontwikkeling is XXV. Dit is die groep vir almal wat in 1994, soos ons demokrasie, gebore is. Daar is opwindende spesiale aanbiedinge en pryse te wen, en sluit in gratis Kuierbuurt-weekkaartjies en gratis toegang tot Laataand in die Netwerk24-Feeskafee. Aanlyn-registrasie kan vanaf 17 Januarie by kknk.co.za. gedoen word. Alle kultuurdiere migreer na Oudtshoon om die 25ste KKNK van 21 tot 27 Maart te vier. Die volledige program is beskikbaar deur die HIER te kliek. Kaartjies kan van 18 Januarie by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Besprekings kan ook aanlyn by www.computicket.com gemaak word of deur 0861 915 8000 te skakel. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word, of kontak 044 203 8600.