fbpx

Klassieke musiekfeeste span kragte saam vir digitale konsertreeks

Die Klassique Baroque-fees vind vanjaar vir die eerste keer plaas en is ’n samewerking van twee van Suid-Afrika se klassieke musiekfeeste: Klein Karoo Klassique, wat jaarliks in Oudtshoorn plaasvind, en die Kaapstad Barokfees, wat jaarliks in Kaapstad aangebied word.

Hierdie feeste kon weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 plaasvind nie, maar span nou kragte saam om vier eksklusiewe musiekkonserte aan te bied. Die konserte is spesiaal vir dié aanlynfees, met die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting, opgeneem. Ian Burgess-Simpson Pianos het ’n Fazioli-klavier gratis vir die konserte beskikbaar gestel.

“Ons is oorweldig deur die ongelooflike belangstelling en digitale bywoning van Klein Karoo Klassique se eerste aanlyn konsertreeks in September, en sien daarna uit om gehore in Oktober met vier splinternuwe, uitstaande klassieke musiekkonserte te bederf”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat jaarliks ook Klein Karoo Klassique aanbied. 

Die eerste van hierdie konserte debuteer op Donderdag 1 Oktober. Daarna word ’n nuwe uitvoering elke Donderdag vrygestel. Uitvoerings is vanaf 18:00 op die onderskeie Donderdae, tot Saterdag 31 Oktober om middernag beskikbaar om te kyk.

Erik Dippenaar, artistieke direkteur van die Kaapstad Barokfees, vertel dat hulle die samewerking met Klassique geniet, omdat beide feeste ’n sterk fokus op kamermusiek het. “Hierdie reeks konserte strek oor ’n veelsydige repertoire wat wissel van die eerste helfte van die 17de, tot die mid-20ste eeue,” vertel Dippenaar. “Ek was gelukkig dat ek van my gunsteling-Suid-Afrikaanse musikante kon kies om mee saam te werk in die samestelling van dié program. Elke musikant is uitgesoek vir hulle kenmerkende eienskappe en sterkpunte en die eindresultaat is ’n opmerklik-unieke kamermusiek-ervaring.”

Lynelle Kenned (sopraan), Ralitza Macheva (barokviool), Refiloe Olifant (barokviool) en Erik Dippenaar (klavesimbel) begin die program met Misshapen Pearls, ’n opwindende program wat op die sterk kontraste in Barokmusiek fokus, asook die improvisasie-aspek van musiek uit hierdie tydperk, wat intrinsiek deel van die estetika daarvan vorm.

Met Haydn in London voer lede van Camerata Tinta Barocca [Liesl Stoltz (dwarsfluit), Refiloe Olifant (eerste viool), Bonolo Kgaile (tweede viool), Lynn Rudolph (altviool), Cheryl de Havilland (tjello), Mariechen Meyer (kontrabas) en Erik Dippenaar (klavesimbel)] Joseph Haydn se geliefde Surprise Symphony uit, soos verwerk vir kamermusiek-ensemble deur Johann Peter Salomon. Die program word aangevul deur CPE Bach se Hamburger Sonate vir dwarsfluit en continuo, wat die eerste keer in 1786 gepubliseer is.

Janel Speelman (sopraan) en Esthea Kruger (klavier) bied in 1840 ’n program van lieder en musiek vir solo-klavier deur Robert Schumann aan. Al die lieder in hierdie program dateer uit 1840, Schumann se sogenaamde Liederjahr, ook die jaar waarin hy met Clara Wieck getrou het. Dit sluit werke uit die liedsiklus Myrthen Op. 25 en Liederkreis Op. 39 in. Kruger voer ook die Sonate no. 2 in G-mineur Op. 22 uit. Die tweede beweging van dié werk is gebaseer op Im Herbste, een van die lieder in hierdie program.

Die hoogaangeskrewe Zomari Duo [Bridget Rennie-Salonen (dwarsfluit) en James Grace (kitaar)] sluit die Klassique Baroque-fees af met Histoire du Tango, ’n uiteenlopende uitvoering van opwindende musiek vir dwarsfluit en kitaar uit Suid-Amerika. Die program gebruik die ikoniese werk van Astor Piazzolla, L’histoire du tango, as vertrekpunt. Dit bevat ook werke van die Brasiliaanse komponis, Celso Machado en die Argentyn, Máximo Diego Pujol.

Kaartjies vir hierdie vier uitvoerings is tot 31 Oktober beskikbaar en kos slegs R100 per uitvoering by Quicket. ’n Beperkte aantal pakkette vir al vier uitvoerings is teen slegs R300 beskikbaar. 

Besoek https://www.kknk.co.za/klassique-baroque/ vir meer inligting oor dié aanlyn klassieke musiekkonsertreeks.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
Email
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google