Koningin Lear, ’n eietydse herverbeelding van Shakespeare se King Lear, neem die voortou met 10 benoemings in sewe kategorieë vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kanna-pryse in 2019.

Die 25ste verjaardagfees wat Woensdag, 27 Maart op Oudtshoorn ten einde geloop het, het oudergewoonte die lys van Kanna-benoemdes na die fees bekendgemaak. Die Kannas word jaarliks toegeken vir uitnemende werk wat by dié fees te sien was.

Naas die Vlaamse skrywer Tom Lanoye se epiese Koningin Lear, wat onder meer skerp kommentaar lewer op die magsug in die hedendaagse sakewêreld, het ander debuutproduksies van die fees ook talle benoemings gekry: Athol Fugard se Statements After an Arrest under the Immorality Act het vyf benoemings ontvang en die familieproduksie Jakkals en Wolf Onbeperk het drie benoemings ontvang. 

Akteurs in twee solo-vertonings is ook benoem, waaronder Carlo Daniels as beste akteur vir sy spel in Klippies van die grond en Craig Morris vir sy spel in Johnny Boskak voel ’n bietjie…. Die derde nominasie in dié kategorie is Marlo Minnaar vir sy spel in Statements After an Arrest under the Immorality Act. 

Vir beste aktrise is Antoinette Kellermann in Koningin Lear, Liezl de Kock in Statements After an Arrest under the Immorality Act en Tinarie van Wyk Loots in Katvoet vir hul spel benoem. 

Op die musiekfront is My Miriam Makeba Story with Sima Mashazi, The Lady Day Big Band presents The South African Songbook en Woorde op Akkoorde vir die Kanna vir beste musiekproduksie benoem.

Rudi van der Merwe se outobiografiese dokumentêre teaterstuk, Lovers, Dogs and Rainbows, is saam met Koningin Lear en Statements After an Arrest under the Immorality Act as beste debuutwerk benoem.

Uit die visuele kunsaanbod is Binary Opposites saam met Harmonia: Sacred Geometry, the pattern of existence en Imagining Tomorrow vir die beste bydrae tot visuele kuns benoem. 

Volgens Mareli Stolp, sameroeper van die Kannapaneel, was KKNK25 ’n uitsonderlike, enorme en uitstekende fees. “Wat veral opvallend was, was die omvattendheid van die feesaanbiedinge in alle genres – kuns, musiek en teater. Temas so divers soos magswaan, grondbesit, seksuele geweld, dwelmverslawing en apartheid-era ongeregtigheid is aangespreek, maar daar was natuurlik ook meer as genoeg vir lekker lag – in hysbakke, agtertuine en kroeë. En tussendeur is daar voete gestamp op musiek van Koos Kombuis tot Miriam Makeba. Die KKNK kan met trots terugkyk op 25 jaar van uitnemendheid en die fees se gehalte en kwaliteit maak mens opgewonde oor dié fees se toekoms,” sê Stolp. 

Vanjaar se Kannapaneel was Stolp, Diane de Beer, Rafiek Mammom, Tracey Saunders, Wayne Muller, Alby Michaels, Lizabé Lambrechts en Gary Naidoo. 

Die wenners van die Kannas word op Maandag, 15 April by ’n spesiale geleentheid in Kaapstad aangekondig. ’n Kanna vir beste tegniese prestasie en bydrae tot die fees word tydens die funksie oorhandig. 

Die volledige lys van benoemdes is:

Beste teateraanbieding:
Bloed en Bodem
Koningin Lear
Statements After an Arrest under the Immorality Act

Beste debuutwerk: 
Koningin Lear
Lovers, Dogs and Rainbows
Statements After an Arrest under the Immorality Act 

Beste musiekproduksie: 
My Miriam Makeba Story with Sima Mashazi,
The Lady Day Big Band presents The South African Songbook
Woorde op Akkoorde

Beste bydrae tot visuele kuns: 
Binary Opposites, 
Harmonia: Sacred Geometry, the pattern of existence, 
Imagining Tomorrow

Beste regie: 
Amelda Brand (Jakkals en Wolf Onbeperk)
Iman Isaacs en Raezeen Wentworth (Klippies van die grond)
Marthinus Basson (Koningin Lear)

Beste opkomende kunstenaar: 
Devonecia Swartz (Jakkals en Wolf Onbeperk)
Jolyn Philips (Woorde op akkoorde)
Wian Taljaard (Jakkals en Wolf Onbeperk)

Beste teaterontwerp: 
Marthinus Basson (Koningin Lear)
Rudi van der Merwe (Lovers, Dogs and Rainbows)
Wolf Britz (Statements After an Arrest under the Immorality Act)

Beste akteur: 
Carlo Daniels (Klippies van die grond)
Craig Morris (Johnny Boskak voel ’n bietjie…)
Marlo Minnaar (Statements After an Arrest under the Immorality Act)

Beste aktrise: 
Antoinette Kellermann (Koningin Lear)
Liezl de Kock (Statements After an Arrest under the Immorality Act)
Tinarie van Wyk Loots (Katvoet)

Beste manlike byspeler:
André Roothman (Koningin Lear)
Edwin van der Walt (Koningin Lear)
Wilhelm van der Walt (Koningin Lear)

Beste vroulike byspeler: 
Anna-Mart vd Merwe (Koningin Lear)
Marion Holm (Katvoet)
Rolanda Marais (Koningin Lear)