Dié herverbeelding van Shakespeare se King Lear deur die Vlaamse skrywer Tom Lanoye is deur Antjie Krog vertaal.

Elisabeth Lear (gespeel deur die bekroonde Antoinette Kellerman) het met die verloop van tyd haar klein besigheid opgebou tot ’n internasionale sakeryk. Elisabeth kondig aan dat die besigheid tussen haar drie seuns verdeel sal word en sy eis dat haar seuns onder eed hul liefde en trou aan haar verklaar. Haar jongste, en geliefde seun weier en dit ontketen ’n familietwis van reuse omvang. Dit is ’n verhaal van ’n bejaarde besigheidsvrou wat haar houvas op die werklikheid verloor, wat desperaat probeer om die storm wat om haar losgebars het te hanteer. ’n Epiese verhaal wat skerp kommentaar lewer op ’n hedendaagse besigheidswêreld, waarin integriteit en lojaliteit skaars kommoditeite geword het.

Buiten Kellerman, sluit die swaargewig rolverdeling Anna-Mart van der Merwe en Rolanda Marais in. Kom beleef die verraad, intrige en drama van dié bekende verhaal in ’n moderne gedaante en in Afrikaans!

Die produksie is van 21 tot 26 Maart te siene – kry nou jou kaartjies aanlyn by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Kaartjies is ook by die deur beskikbaar.