KKNK-Fleur-du-Cap

Kunste Onbeperk Teksmark bekroon met Fleur du Cap vir innovasie

Kunste Onbeperk se Teksmark is Sondag, 18 Maart met die Fleur du Cap-teaterprys vir innovasie bekroon.

“Ons vereer Kunste Onbeperk se Teksmark, vir dié projek se strewe om Suid-Afrika se kontemporêre teater te ontwikkel deur die voorsiening van ’n markplein vir plaaslike dramaturge,” sê Melanie Burke, voorsitter van die Fleur du Cap-teaterpryse se beoordelingspaneel.

“Die Teksmark word geprys vir sy doel om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en ’n geleentheid vir dramaturge te skep om hul idees en tekste aan belangstellendes in die teaterbedryf voor te stel. Verder voorsien dié platform aan die gekose tekste en teaterpraktisyns die nodige mentorskap om hulle werk ten volle te ontwikkel en op die planke te bring. Teksmark het toegesien dat oorspronklike inhoud die lig sien, wat ’n diverse reeks van Suid-Afrikaanse stories verken en nuwe teaterstemme verhef,” vertel Burke verder.

Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, sê dit is ’n groot eer vir die Teksmark. “Dit is vir ons ’n baie belangrike projek. Alhoewel daar in die eerste twee jaar uitstaande tekste uit die projek geïdentifiseer en ontwikkel is – en ook nog word – is daar nog soveel meer wat ons moet vermag,” sê Theart.

“Ons wil met dié projek sorg dat ons sterk mentorskapprogramme vir jong, talentvolle skrywers daarstel en ook langtermyn-doelwitte realiseer om gevestigde skrywers te ondersteun. Alhoewel die Teksmark ’n inisiatief van Kunste Onbeperk is, kan dié projek alleenlik ’n bydrae lewer as die hele bedryf eienaarskap neem en dit as ’n gesamentlike geleentheid benut. Die Teksmark sou beslis nie sonder die ondersteuning van verskeie rolspelers moontlik gewees het nie – veral die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxter Teatersentrum is van onskatbare waarde, asook verskeie feeste en organisasies wat met oorgawe deelneem om tekste by die Teksmark te identifiseer en finansieel in die ontwikkeling daarvan te belê,” brei Theart uit.

Theart sê hy hoop ander rolspelers gaan ook met die volgende Teksmark dié geleentheid aangryp. “Hoe meer instansies hierby betrokke raak, hoe meer voordelig is dit vir die skrywers en uiteindelik die bedryf. Vanjaar se Teksmark word op 3 en 4 September in die Baxter Teatersentrum aangebied,” sluit hy af.

Vyf tekste van die Kunste Onbeperk Teksmark is vanjaar van Donderdag, 29 Maart tot Woensdag, 4 April by die KKNK op Oudtshoorn te sien: Amee Lekas se Die dans van die Watermeid, Marina Albertyn se Melk & vleis, Ingrid Winterbach se Ons is almal freaks hier, Bauke Snyman se Swerfgoeden Du Toit Albertze se Die Meermin-kompleks(deel van die Uitkampteater-program).

Die volledige feesprogram vir die KKNK is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 gemaak word.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.