Vyf rolspelers is deur Kunste Onbeperk vereer vir hul bydrae tot die kunste in Suid-Afrika. Die geleentheid het op 16 Januarie 2020 by die Zeitz MOCAA (Museum of Contemporary Art Africa) in die V&A Waterfront plaasgevind. Kunste Onbeperk bied jaarliks die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aan. Vanjaar se fees vind van 23 tot 29 Maart op Oudtshoorn plaas.

Die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem is toegeken aan Figure of 8 Dance Collective. Schalk Joubert, die baskitaarspeler en musikant, het die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys ontvang. Die aktrise Anna-Mart van der Merwe het die Kunste Onbeperk-prys vir Vertolking gekry, Vinette Ebrahim die Kunste Onbeperk Inspirasie-prys en die Kunste Onbeperk-prys vir bydrae tot die KKNK is toegeken aan dr. David Piedt.

Die KKNK se nuwe kunskurator, Dineke van der Walt, het die feeskunstenaar vir 2020, die Kapenaar Barbara Wildenboer, by die geleentheid aangekondig. Barbara werk veral met collage-, papier- en foto-konstruksies. Haar kuns is al reg oor die wêreld uitgestal, van Palestina tot Australië tot Hong Kong tot Oudtshoorn. Die uitstalling sal ’n terugskouing van haar werk wees.

“Kunste Onbeperk se vererings is ’n hoogtepunt elke jaar,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk. “Die vereerdes hierdie jaar is almal individue wat deur die kunste ’n uitsonderlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunstelandskap lewer, en ook in hul persoonlike lewe ’n opbouende en besonderse invloed het op Suid-Afrika. Kunstenaars en die mense wat die kunste bedryf is belangrike rolspelers in nie net die kreatiewe wêreld nie, maar ook as mense wat belangrike impak teweeg kan bring op sosiale vlak. Vanjaar se vereerdes is besonderse ontvangers wat ’n daadwerklike positiewe verskil tot ons samelewing teweeg bring.” 

Anna-Mart van der Merwe het die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking gekry. Sy was nie self by die geleentheid nie as gevolg van werksverpligtinge, maar sy het ’n video-boodskap gestuur: “Julle sal nie weet wat dit vir my beteken nie. Vir ons as akteurs – seker enige kunstenaar – die ou swart hond van vertwyfeling en bevraagtekening draf maar altyd saam met jou en hap-hap so aan jou hakskeen die hele tyd, so hierdie is regtig soos ’n tipe kombers wat ’n mens om jou kan vou, wat krag en inspirasie gee.”

Sy het haar dank uitgespreek aan haar leermeesters en mede-akteurs wat haar deur die loop van haar befaamde loopbaan gelei het, in film, TV en teater, waar sy sê haar “akteurshart se tuiste” lê.

Die regisseur Marthinus Basson het haar commendatio gelewer: “Mense stroom teater toe om haar in lewende lywe te sien… Nooit loop Anna die repetisieruimte in sonder dat sy deeglik voorberei is nie. Woorde onder die knie. Navorsing gedoen. Kop oop. Dit maak van werktyd speeltyd, en ’n volledige gevormde geraamte met ’n brein vol komplekse voue soos ’n origami-meesterstuk, het tyd om spiere, senings en organe te kweek.”

Anna-Mart is vanjaar in die toneelstuk Terminaal 3 by die KKNK te sien met regie deur Basson.

Die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys is aan die musikant en baskitaarspeler Schalk Joubert toegeken. Hy is ook een van Suid-Afrika se voorste verwerkers en komponiste met ’n loopbaan wat oor 25 jaar strek.

Schalk self het sy toespraak gefokus op die platforms wat ander vir hom geskep het om sy kuns te beoefen, en die rol wat sy mede-musici in sy persoonlike en professionele lewe speel. Hy sê musikante is die soort mense wat “R200 000 se toerusting in ’n R20 000-kar laai om te gaan optree by ’n plek waar jy R200 verdien. So waarom doen ’n mens dit? Jy doen dit omdat jy dit nie kan help nie.”

Sy commendatio is gelewer deur dr. Schalk van der Merwe, ook ’n musikant en baskitaarspeler. Hy het ’n aanhaling van Breyten Breytenbach oor Schalk voorgelees: “Dat Schalk die Kruispunt-prys kry vir sy lewenslange, toegewyde, innoverende en onbaatsugtige diens aan musiek en die kunste in Suid-Afrika is – verskoon my as ek die vanselfsprekende herhaal – niks minder as reg nie.”

Schalk bied ’n spesiale vertoning by die KKNK aan: Schalk Joubert: 25 Jaar Met ’n Baskitaar saam met gaskunstenaars soos Anton Goosen, Koos Kombuis, Gert Vlok Nel en Laurinda Hofmeyr. Hy is ook betrokke by ander produksies soos onder meer Neruda: Hartstog.

Die dansgroep Figure of 8 Dance Collective is vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem vir hul innoverende en oorspronklike dansteater wat gehore uitdaag en inspireer. Dié groep, wat in 2014 deur die choreograwe en dansers Shaun Oelf en Grant van Ster gestig is, het die afgelope paar jaar van krag tot krag gegaan met verskeie produksies by plaaslike en internasionale feeste. Hulle het ook naam gemaak met hulle samewerking met die Sweedse kunste-opleidingsentrum Scenkonst Sörmland.

Die radio-omroeper en sameroeper van die Fleur du Cap-teaterpryse, Africa Melane, het hulle commendatio gelewer. Tydens sy toespraak het Melane gesê die enigste woord wat hy kon uitkry nadat hy hulle die eerste keer sien optree het, was “wow!” Hy was vol lof vir die jong kunstenaars, nie net vir hul kunstenaarskap nie, maar ook vir hul menswees. 

Figure of 8 Dance Collective se nuwe dansteaterstuk, Karatara, debuteer by vanjaar se KKNK nadat hulle voorlegging by verlede jaar se Kunste Onbeperk-teksmark geoogmerk is vir ontwikkeling deur verskeie vennote. Dis gebaseer op die Knysna-brande van 2018 en ondersoek die vele fasette wat aan die lig gekom het tydens die tragedie.

Die eerste ontvanger van die Kunste Onbeperk Inspirasie-prys is Vinette Ebrahim. Sy ontvang die toekenning vir haar werk op die verhoog, TV en film, maar ook vir haar liefdadigheidswerk.

Weg van die kameras en verhoog was sy die beskermheer van die Suid-Afrikaanse gemeenskapsteatervereniging, die kreatiewe hoof van Molo Songololo, ’n kinderregte-organisasie. Sy het die organisasie Artists Against Crime in 2007 gestig en is betrokke by verskeie ander projekte wat ’n sosiale impak het.

Haar commendiatios is gelewer deur Henry Mylne, wat jare saam met haar gewerk het as regisseur op 7de Laan, en ook prof. Jacques du Toit. Prof. Du Toit het in sy toespraak gesê: “Ek, soos baie ander, het grootgeword in die Cape Flats skakelhuise van die scheme. Ons was die kinders van fabriekswerkers, rakpakkers, bediendes, huisvrouens, plaaswerkers en trokdrywers, en baie van ons drome was deur omstandighede beperk. Daar is ’n Engelse gesegde wat sê: ‘You cannot be what you cannot see,’ en vanaand gaan dié toekenning aan Vinette wat die ‘being’ en ‘seeing’ vir ons moontlik gemaak het.”

Vinette is te sien in Nicola Hanekom se nuwe plekspesifieke teaterstuk Mirre en Aalwyn, wat by KKNK2020 debuteer. 

Dr. David Piedt is ’n vryheidsvegter, Afrikaanse aktivis, Oudsthoorniet, opvoedkundige spesialis en al vir dekades ’n onverskrokke ondersteuner van die KKNK en het die Kunste Onbeperk-prys vir bydrae tot die KKNK ontvang.

Hy is al sedert die beginjare van die fees ’n steunpilaar en het onder meer ’n belangrike rol gespeel om al die gemeenskappe van Oudtshoorn en omgewing by die fees betrokke te kry.

Sy commendatio is deur sy vriend, die oud-ambassadeur en ook ’n ontvanger van die einste prys, dr. Franklin Sonn, gelewer.

Dr. Piedt het in sy toespraak gesê: “Ons moenie oorweldig word deur die vrese van ’n nuwe samelewing nie. Ons is te talentvol. Ons moet as ’n nuwe geïntegreerde Afrikaanssprekende gemeenskap, ’n vlag hys en vir Suid-Afrika sê wie ons is sodat ons op die lange duur vir die groter geheel ’n baie breër prentjie kan gee. Van mense wat weet waar hulle vandaan kom, van wat hulle gedoen het, en hoe hulle aan hulself ’n belofte gemaak het om dit nie weer te doen nie.”

Die jaar sal die eerste David Piedt-gespreksreeks aangebied word in die Absa-kuierkamer. Die fokus van die gesprekke is op erfenis en herkoms.

Die KKNK vind plaas vanaf 23 tot 29 Maart op Oudsthoorn. Die program is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is te koop by Computicket. Verblyf kan bespreek word by verblyf@kunste.org.za