Multi-bekroonde Samsa-masjien op film verewig

Willem Anker en Jaco Bouwer se Samsa-masjien is “terug op die planke” en teaterliefhebbers kan nou eksklusief dié multi-bekroonde produksie as verfilmde drama geniet as deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se aanlyn fees in 2021. 

Sedert dié produksie in 2012 by die KKNK gedebuteer het, het dit skoonskip gemaak by verskeie toekenningsgeleenthede. Nie net het Samsa-masjien vier KKNK Kanna-pryse (uit ses nominasies) in 2012 ontvang nie, dit was ook die groot wenner by die Fleur du Cap-pryse in 2015. 

Gerben Kamper is bekroon met die Fleur du Cap- en Kanna-pryse as beste akteur en Bouwer met die Fleur du Cap- en Kanna-pryse as beste regisseur, asook die Fleur du Cap vir beste stelontwerp. Pierre-Henri Wicomb het die Fleur du Cap vir beste klankontwerp ontvang, terwyl Anker met die Fleur du Cap vir beste Suid-Afrikaanse teks bekroon is (die teks was ook die ATKV Woordveertjie-wenner vir beste dramateks in 2012). Antoinette Kellermann is bekroon met die Kanna vir beste aktrise en Samsa-masjien ontvang die KKNK se Herrie-prys vir Kopverskuiwende werk.   

Gregor Samsa (Kamper) en sy vrou (Kellermann) woon op hul oudag by hul dogter (Ilana Cilliers) en haar man (Ludwig Binge). Gregor ervaar ’n stelselmatige insek-wording, wat deur sielkundiges, psigiaters en dokters toegeskryf word aan die ouditiewe en taktiele hallusinasies van dementia-lyers. Oral waar hy kyk, sien hy insekte en voel hulle op hom loop. Sy dogter, ’n kopieskrywer, kleur dié verhaal verder in met vertellings aan haar terapeut.

Bouwer is in 2014 met die Kunste Onbeperk-prys vir Vernuwende Denke vereer. Hy beeld Gregor se insekwording meesterlik met behulp van klank, ritme en musiek uit. Samsa-masjien tree in gesprek met Franz Kafka se Die Verwandlung. Die verhaal speel op drie plekke op ’n dubbelverdieping stel af, in ruimtes wat doelbewus gekies is.  

Samsa-masjien is tydens sy eerste speelvak deur die media as “ ’n aanslag op die sintuie” beskryf. “Vreemd is die wêreld en des te meer as jy die gedugte dramaturg Willem Anker en die regisseur Jaco Bouwer saam beleef,” skryf Laetitia Pople in Die Burger. “Alles in Anker se toneelstuk Samsa-masjien werk vervreemdend, dit is ’n totale aanslag op die sinne… Bouwer se visuele voorstelling is trefseker.” 

Diane de Beer in Argus Tonight skryf: “As radikale, baanbreker-teater moet Samsa-masjien eenvoudig gesien word. Hierdie uitspattige en buitengewone produksie is ’n aanslag op die sintuie, terwyl dit jou sienswyse binnedring en verbreed.” Bibbi Slippers stem saam: “Weet maar net dit is nie bloot ’n stuk teater nie – dit is werklik ’n ervaring en ’n aanslag op jou sintuie en jou sanity”.

’n Kaartjie vir die aanlyn weergawe van Samsa-masjien, beskikbaar van Donderdag 8 Julie tot Sondag 1 Augustus, kos R150 met 10% afslag aan ATKV- en Kliek-lede. Kaartjies is by Quicket beskikbaar, by https://qkt.io/Samsa-masjien. Samsa-masjien het ’n ouderdomsbeperking van 18 jaar, weens tonele met seks, naaktheid en sterk taalgebruik. 

Teaterliefhebbers kan ook steeds vir ’n beperkte tyd Die Naaimasjien met Sandra Prinsloo aanlyn geniet.  Kaartjies is ook teen R150 by Quicket beskikbaar, by https://qkt.io/Naaimasjien.

En as jy dit gemis het, die geliefde Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk se eenmanvertoning Sê groete vir Ma is ook binnekort aanlyn te sien as deel van die KKNK se virtuele teaterprogram. Hou die KKNK se sosiale mediaplatforms en webblad dop vir meer inligting. 

Die KKNK word ondersteun deur Absa, Media24 en die Het Jan Marais Nationale Fonds.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.