Nuwe digbundel in vennootskap met KKNK

 ’n Nuwe Afrikaanse digbundel, met verse oor die Covid-19-pandemie, sal in Mei vanjaar die lig sien. Dié bundel, Maskers en mure, bied aan alle Afrikaanse digters – gevestig en opkomend – die geleentheid om uitdrukking te gee aan die impak van die pandemie op mense en hul lewe. Die samestellers is die digters Daniel Hugo en Francois de Jongh, met die ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport.  Dit word uitgee deur Turksvy Publikasies.

Gevestigde Afrikaanse digters is reeds genooi om voorheen ongepubliseerde gedigte voor te lê. Nou soek die samestellers na nuwe stemme – bydraes van digters wat tot dusver nog nie gepubliseer is nie, en as digter wil debuteer.  

Alle bydraes moet die pandemie as kerntema hê, en kan tot einde Februarie ingestuur word vir keuring. Waar nodig sal bydraes deur Hugo en die Oudtshoornse digter en medestigter van Turksvy Publikasies, Hannes Visser, geskaaf word.

“Digkuns is deur die eeue heen een van die kragtigste kunsvorme om die tydsgees van ’n historiese gebeurtenis vas te vang,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Dit is juis in uitdagende tye wat die kunste en literatuur die magtigste wapen is: om te vermaak, te analiseer, te argiveer en as terapeutiese medium te help met ’n proses van heling.”  

Die viering van digkuns lê die KKNK na aan die hart. “In 2020 sou die nuwe digkunsprojek en -venue, die Santie de Jager Digtersden, die lig sien met ondersteuning van die Jannie Mouton Stigting,” sê Theart, “maar weens die impak van die Covid-19-pandemie is die fees noodgedwonge gekanselleer. Dis daarom vir ons ’n voorreg om deel te wees van ’n digkunsprojek wat die pandemie in ’n publikasie vasvang.”  

Volgens Visser weerspieël woordkuns die emosies, gemoedstoestand en gewaarwordinge van ’n taal se mense in ’n sekere tydvak en onder spesifieke omstandighede. “Hierdie bundel is Afrikaanse digters se verwoording van ’n globale verhaal van vrees, maar ook moed en vertroosting in ’n mensvreemde tyd.”

Marlene Malan, joernalis en medestigter van Turksvy Publikasies, sê Maskers en mure vertel in versvorm die verhaal van ’n jaar van isolasie, alleenheid en eensaamheid; van vrees en verlies. “Maar ook van ’n tyd waarin mense sin probeer maak uit hierdie verskrikking – deur skeppendheid en ondernemingsgees, waarvan dié digbundel ’n weerspieëling is”. 

Hugo sê gedigte is dikwels kragtiger as nuusberigte. “Toe die wêreld ’n honderd jaar gelede deur die Groot Griep getref is, was die koerante vol daarvan. Maar daar is sover ek weet nie ’n enkele Afrikaanse gedig daaroor geskryf nie. Gevolglik het dié aardskuddende gebeurtenis uit die kollektiewe geheue van Afrikaanse lesers verdwyn. Dit mag nie weer met dié pandemie gebeur nie.” 

Belangstellendes kan hul bydraes teen Sondag 28 Februarie 2021 per e-pos aan Daniel Hugo stuur, by danielhugo.skryf@gmail.com

Die KKNK word geborg deur Absa en Media24. Die presidensiële stimiluspakket (stroom 1), geadministreer deur die National Arts Council (NAC) namens die nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DCAS) ondersteun die KKNK in sy huidige werksaamhede. 

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.