Die land se oudste en jongste Afrikaanse kunsvinke sit vanjaar saam om op ‘n feestak!

Ons vier KKNK se 25ste bestaansjaar (en sommer OPTOG! se eerste een ook).  Die land se bestes spring saam in ‘n kombi en is op pad Oudsthoorn toe.  Party vir die eerste keer, party dalk vir die laaste keer!

OPTOG! is die grootste enkele konserttoer deur plaaslike sangers, akteurs en musikante wat tot op hede in Suid-Afrika aangebied is.  Elke OPTOG!-konsert is ‘n unieke ervaring en ‘n viering van ons land se talent, van kuns, kultuur en sommer van alles wat mooi is.  Alles onder een vaandel.  Meer as 40 dorpe en stede regoor die land en Namibië word besoek, en meer as 20 kunstenaars en teaterproduksies is deel van hierdie heeljaar feestelikheid op wiele.

Nataniël het met die naam vorendag gekom en is die gesig van die projek, maar die konsep is ontwikkel deur die bekende pianis, musiekregisseur en vervaardiger, Matthys Maree.

“Oudtshoorn moes eenvoudig op ons roete wees!  Ek het daar groot geword en skool gegaan.  Ek het daar leer klavier speel.  En almal van ons wat by OPTOG! betrokke is, het oor die laaste 25 jaar vir en saam met die KKNK daar konsert gehou!  En ons is bevoorreg om in die KKNK se spesiale feesjaar, drie produksies Oudtshoorn toe te bring buite die normale feestydperk…  sodoende rek ons die fees waarvoor ons almal so lief is, ‘n bietjie langer uit, en maak ons hopelik ‘n bydrae tot KKNK25 se produksie-aanbod!”

Die volgende konserte pryk op beide OPTOG! en KKNK25 se program:

*  28 Februarie 2019 om 19:30 – Nataniël:  Four Loud People – Oudtshoorn Burgersentrum

*  24 Augustus 2019 om 19:30 – Stef Bos:  Jou land is my land – Oudtshoorn Burgersentrum

*  4 September 2019 om 18:30 – Laurika Rauch – Surval Boutique Olive Estate

Kaartjies vir Nataniël is reeds beskikbaar by itickets.co.za, terwyl kaartjies vir Stef Bos en Laurika Rauch later vandeesweek ook daar beskikbaar sal wees.  Besoek gerus ook optog.co.za vir meer inligting.

Kom dus per trein of per trok, in ‘n kombi of met ‘n donkie-kar…  die Klein-Karoo pronk sy vere en jy sit in die voorste ry!