Sien was glo toe Oudtshoorniete vroeër vandeesweek wakker skrik en begroet is deur bome, heinings en traliewerk wat getooi is in gehekelde en gebreide skeppings! Dié Karoo-dorp se vere is reggeskud vir die 25ste KKNK wat môre begin en duur tot 27 Maart.

Die reWOLusie is ’n fees vir die oog – kleurvolle serpe is om bome gedrapeer en daar is slagspreuke en versierings soos harte en sterre, alles gebrei of gehekel. En dié see van kleur het oornag gestalte gekry te danke aan die “woltannies” wat Oudtshoorn se strate na sononder ingevaar het met lere, toue, go en natuurlik meters en meters brei- en hekelwerk.

’n Plaaslike kunstenaar Madeleine Miles het dié konsep uitgedink. Sy sê die idee was om die gemeenskap by die KKNK te betrek. “Dit is belangrik vir Kunste Onbeperk dat Oudtshoorniete besef dat hulle ‘n bydrae kan lewer en deel kan wees van die fees. Dit is ons mense se fees en ek dink sommige inwoners het dit tot ’n mate vergeet. Ek self is verslaaf aan hekel en het gedink die “yarnbomb” konsep kan uitstekend werk”, sê Miles.

Die Oudtshoorn Besigheidskamer en Kunste Onbeperk het 1 600 bolle wol geskenk met plaaslike besighede wat ook skenkings gemaak het. Party “woltannies” het selfs in hulle eie voorraad ingedelf. “Daar is gewikkel met al daardie wol – laatmiddag het die “woltannies” soos my kinders hulle gedoop het, kom wol haal en daar was gereeld versoeke vir nog voorraad. Dit was vir my so lekker om te sien hoe die “woltannies” gewoeker het en hulle het gereeld vir my foto’s aangestuur om te wys hoe hulle handewerk vorder,” voeg Miles by.  

Een van die “woltannies” Erna Boshoff, is ’n inwoner van Witbank wat gereeld by haar kinders in Oudtshoorn kom kuier en die KKNK bywoon. Sy en ’n paar vriendinne het dadelik die brei- en hekelpenne opgeneem nadat hulle van die reWOLusie gehoor het en nodeloos om te sê was daar aansienlik minder spasie in Boshoff se baggasie wat na Oudtshoorn gereis het vir die fees.  

Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk sê die reWOLusie is ’n belewenis. “Dit is werklik ‘n riem onder die hart om die passie en ywer waarmee almal ingespring het te beleef. Dit was wonderlik om te sien hoe die inwoners met oorgawe deelgeneem het en met reWOLusie deel geword het van die fees. Dit is een van die inisiatiewe en projekte wat Oudtshoorniete instaat stel om ook betrokke te raak en die KKNK as hulle fees te eien”, sê Theart.

Daar is steeds kaartjies en verblyf beskikbaar vir diegene wat die reWOLusie en KKNK25 in persoon wil beleef. KKNK25 se volledige feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies vir produksies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home aangeskaf word. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600, of verblyf@kknk.co.za gedoen word.