Vyf visuele kunstenaars van Oudtshoorn se werke word in die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se eerste Virtuele Galery uitgestal. 

“Ons is trots op die eindproduk van ons heel eerste volskaalse Virtuele Galery en nog meer trots om soveel werke van kunstenaars uit eie bodem op dié platform vlerke te gee”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Earlyn Cloud, Zietske Saaiman en Colin Meyer, wat verlede jaar deel van Absa se mentorskapprogram was, bring in Kicking Up Dust ’n uitstalling byeen wat ’n emosionele en sensoriese reaksie is op die gevolge en die belewenisse van die droogte in die Klein Karoo. Dit is in wese reeds ’n droë landskap wat deursettingsvermoë en volharding van die landbougemeenskap verg, wat grootliks bydra tot ’n volhoubare ekonomie in die plaaslike omgewing. Elke Oudtshoorniet se lewe is verweef met wat die omgewing bied. Met die lang droogte wat die gebied teister, maak die kunstenaars gebruik van verskeie tekentegnieke en materiaal uit die onmiddellike omgewing om ’n gemeenskaplike reaksie uit te lok. Maar die plaaslike is ook deel van die globale prentjie van hoe klimaatsverandering almal raak.

Cloud vang met ’n reeks sketse die impak van die droogte op die omgewing en die gemeenskap van Oudtshoorn vas. “My werk beklemtoon, met die tentoonstelling van die hande van plaaslike boere, hulle families en werknemers, die belangrike rol wat hande in ons daaglikse lewens speel. Deur die voorstelling van hande word ’n gesamentlike gevoel van hoop, samekoms, saam bid en verdraagsaamheid geskep.”

Saaiman se werke weerspieël die veranderings wat deur die droogte op Oudtshoorn teweeg gebring is, verder as net die fisiese veranderings aan die landskap. Mense se verhoudings met hulle omgewing verander soos wat hulle gedwing word om aan te pas en hulle liggame op verskillende maniere sin uitmaak van die elemente daarin. Die natuurlike balans van wat eens ’n redelike vreedsame naasbestaan was, word versteur. Haar werke skep ’n bewustheid by die kyker wat in ’n omgewingsbewustheid omskep word. 

In Meyer se werke sien hy hoe die omgewing doodgaan. Dit verander van ’n ekosisteem vol lewe en oorvloed, na een van ontbinding en skaarsheid. Van swembaddens wat sluit en waterbeperkings, tot die laer watervlakke van die Raubenheimer-dam – sterf Oudtshoorn stadig van dors. Dié droogte beïnvloed nie slegs mense nie, maar alle lewende wesens, ook plante en diere. Meyer se werke beeld uit hoe die droogte die oorlewing van alle lewende wesens beïnvloed. Die transformasie van lewe na dood word uitgebeeld. Die moontlikheid vir lewe om terug te keer as ons ons hulpbronne bestuur en ons omgewing begin herstel, word ook weerspieël.    

Kicking Up Dust word moontlik gemaak deur die Absa-kunsgalery. Die doel van die galery is meer as net die behoud van Afrika se kunserfenis – hulle is ook toegewyd om die soeklig te fokus op werke van jong Afrikakunstenaars en aan hulle moontlikhede, lewe te gee.  

#CreativeChange is ’n uitstalling wat deur die Make a Difference Leadership Foundation aangebied word. Owen Claassen, oftewel die Karoo se Michelangelo, se beeldhouwerk word hierin gesien. Claassen vertel dat elke beeld wat hy maak, ’n storie vertel. “Alles wat ek maak, is iets wat ek sien. Dit begin by afval-staal, staal wat ek optel. My kuns bring ook verligting in die gemeenskap. Kinders uit die gemeenskap maak die beelde skoon en sorg dat die planke netjies geskuur word. So wys ek ook die kinders watter moontlikhede daar vir hulle in die kunste is” vertel hy. Sy werk het ’n alledaagse klem: ’n pragtige uitbeelding van die Karoo-platteland.  

Lisl Barry se uitstalling, Birds of a Feather, is geïnspireer deur meer as een geleentheid waar sy die vlug van plastieksakke hoog in die lug vir voëls aangesien het. Alhoewel hulle bekoorlik mooi in hul dans was, het die besef dat dit eintlik plastieksakke was, dit weer tot haar laat deurdring wat die uitwerking is wat ons mense op die omgewing het. Dit strek diep en wyd. En hoe onbewus ons skynbaar is oor die rol wat ons daarin speel. Ons is deel van die natuur. Maar ons tree dikwels op asof ons apart daarvan is. Los daarvan is.

Barry het ’n passie vir die omgewing, natuurlike lewe en die mens se verhouding met die natuur. Sy en haar man, ’n natuurbewaarder, en hulle twee jong dogters het vir 23 jaar op ’n afgeleë natuurreservaat in die Klein Karoo (Gamkaberg) gewoon. Hulle het in 2017 na Oudtshoorn verhuis, waar haar studio nou gebaseer is. Hierdie leefstyl van verdiep wees in die natuur het ’n groot invloed op haar werk en die manier waarop sy die wêreld sien. Sy het in 1985 met waterkleure begin verf op die ouderdom van 15 en met olies in 2001.

Haar agtergrond in grafiese ontwerp (voor digitale tegnologie) het die manier waarop sy alledaagse tonele rondom haar sien gevorm, asook hoe alle aspekte binne-in haar komposisies gebruik kan word om emosie te ontsluit. Sy glo dat kuns, in enige vorm, ’n baie belangrike rol speel om ons oë opnuut vir die wêreld om ons te open – om alledaagse voorwerpe of situasies op ’n manier te sien soos ons dit nog nie voorheen ervaar het nie en, spesifiek tot haar eie werk, te reflekteer op ons verhouding as mens teenoor die omgewing, op ’n plaaslike en globale vlak.

Die unieke skoonheid van die Karoo en Karoo-landskappe word in Karoo Stories deur fotograwe Maryna Cotton en Sarel van Staden vasgevang, deur lig op kreatiewe maniere te gebruik. Hierdie uitstalling het gedien as die skilderdoek vir Coenie de Villiers en Deon Meyer se musiekteaterproduksie, Karoo Suite 2: Karoonag.

Al hierdie uitstallings en talle ander kan in die KKNK se Virtuele Galery gesien word, waar werke ook gekoop kan word. Besoek die galery by www.kknk.co.za/virtual-gallery. Die galery is oop vir besoeke tot en met 22 Julie.


Twee Virtuele Kunsgesprekke word aangebied. Vir meer inligting en om te registreer, stuur ’n e-pos na lizane@kunste.org.za:

  • Woensdag, 15 Julie om 18:30: Die aard van medewerking en wisselwerking
  • Woensdag, 22 Julie om 18:30: Die skuif na aanlynuitstallings – Virtuele aanbiedings en kunservarings