Première Teaterfees vanjaar digitaal op die planke

Première, ʼn opwindende teaterfees eie aan Stellenbosch, word vanjaar vir die eerste keer digitaal aangebied. 

Dié fees is ’n geleentheid vir jong, vernuwende teatermakers van die Universiteit Stellenbosch (US) se Dramadepartement om oorspronklike produksies te ontwikkel en op te voer. Meer as 80 studente is as onder andere regisseurs, skrywers, ontwerpers, verhoogbestuurders en akteurs by Première betrokke.  

Vanjaar se digitale uitbreiding van Première, oftewel Première Atelier, word deur die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) met die ondersteuning van die ATKV, NATi en die Toyota US Woordfees aangebied. 

André Gerber, feesorganiseerder, beskryf Première as ’n viering van jong, energieke teatertalent uit Stellenbosch. “Die Universiteit Stellenbosch het jaarliks ‘n groot aantal nuwe talent wat die kunstebedryf betree. Daar is nog altyd ʼn skeppingsgees onder die studente. Hoewel die pandemie ons lewendige optredes tydelik gestaak het, glo ons dat hierdie addisionele stap ons toelaat om die produksies nóg meer te verfyn.”

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê dit is vir hulle ’n voorreg om as trotse vennoot by Première Atelier betrokke te wees. “As fees het ons nou ’n sterk aanlyn fokus en bied ons verskeie projekte op ons platforms aan. Première Atelier word as deel van ons jaarlange virtuele fees op ons webblad en Facebook-blad aangebied.” 

“Die deelnemers is teater se talent van môre en ons bied graag as fees ’n landswye platform waar dié talent gesien kan word. Dit is ’n moeilike tyd met min geleenthede vir die uitvoerende kunste en die aanlyn platform skep vir die talent en fees ’n geleentheid om voort te gaan,” meen Theart. 

Theart sê verder die KKNK was nog altyd ’n fees wat geleenthede vir opkomende talent skep en sê dat jong stemme veral belangrik is. “Dít is inspirerend. Ek sien uit om te kyk en luister na die nuwe stemme en ek is opgewonde om die talent, wat binnekort die bedryf sal betree, te beleef ,” sluit hy af.

Bykans 30 voorstelle vir produksies is in Februarie ontvang en aan ’n paneel van teaterkundiges voorgelê. Twaalf van hierdie voorstelle is uiteindelik gekies om aan die fees deel te neem. Hierdie produksies verteenwoordig ʼn breë spektrum style, tale, onderwerpe en temas en word eers in digitale formaat by die Première Atelier aangebied. Drie produksies word elke aand van Dinsdag, die 10de tot Vrydag 13 Augustus om 18:00 uitgesaai. Ná die uitsendings, kry gehore die geleentheid om na die beoordelaars se repliek te luister en self idees uit te ruil oor hoe die produksies kan ontwikkel voor hul lewendige debuut in 2022.

Theart, prof. Petrus du Preez (medeprofessor aan die US Dramadepartement), Saartjie Botha (hoof van die Toyota US Woordfees) en Mmatumisang Motsisi (junior dosent aan die US Dramadepartement) is die beoordelaars. 

Die beste produksies en spelers word op Saterdag 14 Augustus met verskeie kontantpryse beloon tydens ’n prysuitdeling wat lewendig gestroom sal word om 15:00.

Alle lewendige uitsendings en replieksessies is gratis beskikbaar op die KKNK se webwerf en YouTube-kanaal. Vir meer inligting en die volledige program, besoek die KKNK se webblad by www.kknk.co.za/premiere-atelier/ of www.premierefees.co.za.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.