fbpx

Program vir eerste digitale Klein Karoo Klassique bekend

“Hoewel die 12de Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se winterfees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn, weens die Covid-19-pandemie nie vanjaar soos beplan kon plaasvind nie, is ons steeds baie opgewonde om ons eerste digitale Klein Karoo Klassique-konsertreeks se program aan te kondig.” So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Klein Karoo Klassique, wat geskeduleer was om die afgelope naweek in Oudtshoorn plaas te vind.

“Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) is een van Klassique se oudste vennote en maak ’n integrale deel uit van hierdie jaar se aanlyn fees, wat van Augustus tot September aangebied word. Hierdie konsertreeks is juis so saamgestel om die winter-bekoring waaraan ons feesgangers gewoond is, steeds vir hulle te bied. Om die KFO betrokke te hê is soos om na ons wortels terug te keer”, sê Theart.

Theart verduidelik verder dat die immergewilde Charl du Plessis Trio ook bydra tot vanjaar se aanlyn program, met die Suid-Afrikaanse première van hulle uitvoering soos opgeneem by die Festival Musiekdorf Ernen in Switzerland in 2017. Die uitvoering sluit werke deur Bach, Du Plessis en ander in.

Die KFO se program sluit drie klassieke musiekuitvoerings in: Beethoven se Triple Concerto is ’n weergawe verwerk vir slegs die klavier, viool en tjello; twee Mozart oktette vir blaasinstrumente, K 375 en 388; en Gounod se Petite Symphonie nonet vir blasers.

Klassique was nog altyd na aan die orkes se hart en ons is verheug om weer met die fees saam te werk, hierdie jaar met werke wat spesiaal onder sosiale beperkings-riglyne in Kaapstad opgeneem is”, sê Louis Heyneman, uitvoerende hoof van die KFO.

Die opname van die verwerking van Beethoven se alombekende Triple Concerto vir Klassique, is ’n wêreld première wat deur drie kollegas op drie verskillende kontinente opgeneem, en in Kaapstad geredigeer is. Dit was Peter Martens, hooftjellis van die KFO, se idee om vanuit verskillende kontinente op te neem vir hierdie projek. “Beide pianis Bryan Wallick wat klasgee in Colorado, en violis Frank Stadler, konsertmeester van die Mozarteum Orkes Salzburg het onmiddellik my entoesiasme gedeel en ons het met die opname begin – eers Bryan, toe ek en toe Frank – binne dae van mekaar in drie verskillende stede. Die videograaf, Julian Emdon, het die drie dele op ’n ongelooflike wyse saamgevoeg om die geheel te vorm wat ons gevisualiseer het”, sê Martens.

Wallick sê hy het dit baie geniet om aan hierdie projek te werk. “Dit was iets nuut en heeltemal anders as die aanlyn konserte en video’s wat in hierdie tyd van Covid-19 beskikbaar is. Dit is uitdagend om met kunstenaars op drie verskillende kontinente te werk, tog iets wat ek hoop ’n vervullende voorbeeld sal lewer van wat moontlik is met die innoverende tegnologieë van vandag.”

Die dromer agter die Mozart oktette vir blasers is Simon Ball, KFO se hoof-fagotspeler. Ball meen dat hierdie drie stukke besonders is en dikwels oorgesien word omdat hulle te klein is vir orkesorganisasies, maar ook te groot (te duur) vir kamermusiekgenootskappe. “Met die Mozart oktette se twee hobo’s, twee klarinette, twee fagotte en twee horings, was dit die natuurlike keuse om ons hooffluitspeler, Gabriele von Dürckheim te nader vir die Gounod-uitvoering, waarvan gedeeltes beskou word as ’n aria vir fluit”, sluit hy af.

Die uitvoering deur die Charl du Plessis Trio, een van die mees suksesvolle crossover-ensembles in Suid-Afrika, is opgeneem in die skouspelagtige St. Georg-kerk by die 2017 Festival Musikdorf in Ernen, Switserland. Hulle program bestaan uit J.S. Bach se Concerto for Two Violins, sowel as ’n nuwe skepping deur Du Plessis: ’n suite wat musiek van Bach met jazz-gunstelinge kombineer. Hierdie suite bevat Wachet Auf, ruft uns die Stimme, twee dele van Anna Magdalena NotenbüchleinTake the A Train en Chick Corea se bekende Spain. Die Charl du Plessis Trio bestaan uit Du Plessis (klavier), Werner Spies (bas) en Hugo Radyn (tromme).

Kaartjies vir die eerste digitale Klein Karoo Klassique-konsertreeks sal beskikbaar wees by Quicket, met die eerste konsert wat op Donderdag 27 Augustus 2020 uitgesaai word. Elke konsert is beskikbaar vanaf 18:00 op die Donderdag tot middernag die volgende Maandag, die uitvoerings kan gedurende hierdie tyd meer as een keer gekyk word en kaartjieverkope is nog oop gedurende dié tydperk.

Die volledige program:
27 Augustus: Beethoven Triple Concerto
3 September: Mozart Wind Octets
10 September: Gounod se Petite Symphonie
17 September: Charl du Plessis Trio in Ernen


’n Klassique-pakket vir al vier uitvoerings is beskikbaar teen slegs R300, of kaartjies kan vir individuele uitvoerings gekoop word teen R100 elk vir Beethoven, Mozart en die Charl du Plessis Trio, en R75 vir Gounod. Kaartjies is vanaf 14 Augustus by www.quicket.co.za beskikbaar.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on whatsapp
WhatsApp
Share on email
Email
Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google