“Teksmark word vanjaar vir die vyfde keer aangebied en dit is ’n wonderlike vooruitsig in ’n uitdagende jaar vir die uitvoerende kunste. Hierdie projek het die afgelope halwe dekade ontwikkel van ’n geleentheid vir opwindende nuwe teksidees, tot ’n smeltkroes van teater-gesprekke.”

So sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).  

Teksmark vind vanaf 27 tot 29 Oktober 2020 by die Baxter-teaterkompleks in Kaapstad plaas. Die projek is ’n inisiatief van die KKNK en word moontlik gemaak met ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum.

Die doel van Teksmark, in 2018 vereer met ’n spesiale Fleur du Cap-prys vir innovasie in teater, is om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en aan skrywers ’n geleentheid te bied om hul idees en tekste vir moontlike ontwikkeling bekend te stel. Alle skrywers, hetsy gevestig of opkomend, kan deelneem.

Voorstelle word oorweeg om oor drie dae as leesteater by die Teksmark in Kaapstad aangebied te word, waar skrywers ook oor hul teks-idees gesels. Verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers word genooi en enige van die belanghebbendes kan van hierdie platform gebruik maak om met skrywers te onderhandel oor moontlike belegging in, en verdere ontwikkeling van hul tekste.

Verskeie Teksmark-tekste is ontwikkel tot multibekroonde teaterwerke: Marina Albertyn ontvang die Aardklop-prys vir beste nuweling en die kykNET-Fiësta vir beste nuutgeskrewe teks vir Melk en vleis; Bauke Snyman word met die KKNK Kanna-prys vir beste nuutgeskrewe teks vereer vir Swerfgoed; Amee Lekas en Bauke Snyman is onderskeidelik benoem vir die Fleur du Cap-prys vir beste inheemse teks, Du Toit Albertze is benoem vir die KKNK-prys vir beste nuutgeskrewe teks en Herschelle Benjamin se teks, In Slawenhuis 39 is nomineer vir ’n kykNET-Fiësta vir beste nuutgeskrewe teks.

“Ons is in ’n uitdagende tyd met baie onsekerheid, maar dis juis in tye soos hierdie wanneer die werk van skrywers en die kunste ’n uiters belangrike en waardevolle rol het om te speel”, verduidelik Theart. “Ons glo dat ons in Oktober Teksmark kan aanbied, binne die beperkings wat in daardie stadium in plek is, maar ons is ook gereed om die nodige aanpassings te maak om te verseker dat ons steeds vanjaar vir skrywers die geleentheid bied om te wys waarmee hulle besig is, en so ’n blik te kry van wat in vandag se denkers se koppe maal”, sluit hy af.

Voorstelle moet teen Vrydag, 7 Augustus 2020 om 17:00 per e-pos na teksmark@kunste.org.za gestuur word, en moet aan die volgende voorwaardes voldoen: 

  • Tekste en voorstelle in alle Suid-Afrikaanse tale word oorweeg;
  • Veeltalige produksies word aangemoedig en verwelkom;
  • Slegs tekste wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg en
  • Geen handgeskrewe voorstelle word oorweeg nie. 

Volledige inligting en voorwaardes is beskikbaar by www.kknk.co.za. Vir Teksmark-navrae skakel ons by 044 203 8600, of kontak ons per e-pos by teksmark@kunste.org.za