KKNK25 • OUDTSHOORN

VISUELE KUNS

GRATIS

PRINCE VINTCENT-GEBOU

DAAGLIKS 09:00 tot 17:00

KKNK25-terugblikuitstalling

Met Jan Vermeieren, Hardy Botha, Erik Laubscher, Willie Bester, Wendy Malan, Piet Grobler, Claudette Schreuders, Wim Botha, Lien Botha, Minnette Vári, André Naudé, Judy Woodborne, Lawrence Lemaoana, Hylton Nel, Lukas Thobejane, Michaella Janse van Vuuren, Helena Hugo, Handspring Puppet Company, Diane Victor, Gordon Froud, Louis Jansen van Vuuren, Willem Boshoff, Berni Searle, Hanneke Benadé, Kagiso Pat Mautloa en Johannes Maswanganyi.
Dié terugblikuitstalling is ’n viering van al die feeskunstenaars van die afgelope 24 jaar en hul bydrae tot die visuele kunste by die KKNK. Werke uit privaat en korporatiewe versamelings, sowel as van die kunstenaars self word noukeurig saamgevoeg.


Absa maak dit mooi

Met Marguerite Kirsten, Christiaan Kritzinger, Henry Obeng, Carli Bassin
Absa maak dit mooi is ’n openbarekuns-installasieprojek van Absa L’Atelier-kunstenaars en die munisipaliteit van Oudtshoorn. Dit word vanjaar die tweede keer aangebied en vyf nuwe kunswerke gaan oraloor op die dorp geskep word. Dit bied nie net vir feesgangers die geleentheid om kuns in die verskeie omgewings te ervaar nie, maar dien ook as ’n nalatenskap vir die gemeenskap. Dit is deel van Absa se inisiatief om geleenthede vir kunstenaars van Afrika te skep en hulle verbintenis daartoe om gemeenskappe te betrek. Materiaal uit die omgewing word gebruik en die vaardigheid en kundigheid van plaaslike mense word ingespan om deel van die skeppingsproses te wees.


Boundary Opposites

Met Tlotlo Lobelo
Boundary Opposites is ’n uitstalling van werke van kontemporêre kunstenaars wat in die soeke na die betekenisvolle die kyker uitdaag om te reageer en betrokke te raak. Dit word ’n unieke gesprek waarin tyd, ruimte, kleur en materiaal ingespan word wat tradisionele grense, onderwerpe en konsepte uitdaag om ’n eerlike en intellektuele betekenis bloot te lê.


Harmonia: Sacred Geometry, the Pattern of Existence

Met Gordon Froud
‘n Verkenning van meetkunde en geometriese stelsels – soos gevind word in die menslike vorm, die natuur, samestelling, fisika, sowel as in baie gelowe en antieke spirituele stelsels. Aan die hand van omvattende navorsing en deur wyd te lees het Froud werke in verskeie kunsmediums geskep – soos dit voorkom in antieke Islamitiese, Egiptiese of Joods-Christelike tekste en beelde of soos gesien in die geheime sirkels in landerye. Die visueel prikkelende werke nooi die kyker om op sy eie verkenningstog te gaan, om na te dink oor die vrae wat die werke vra en om te wonder hoe dit by sy eie beskouinge en begrip inpas.


Imagining Tomorrow

Met Onyis Martin en Donald Wasswa
Imagining Tomorrow is ’n gesamentlike uitstalling van Donald Wasswa van Uganda en Onyis Martin van Kenia, albei merietewenners in 2016 se Absa L’Atelier-kompetisie. Die toekoms wat hulle uitbeeld, is ’n verbeelde en parallelle werklikheid. Dit is ’n superrealistiese weergawe van die toekoms: Die lewe soos ons dit geken het, het verander – die natuur het ’n metamorfose ondergaan en die mensdom is gedwing om aan te pas. In die proses is alles uitgewis wat vir ons kosbaar is, en dit waarin ons geglo het, is uitgedien. ’n Onbekende wêreld word betree. Die gevoelens van woede, verlies en vrees om in die nuutgeskepte omgewing te oorleef, word uitgedruk.


In silva

Met Mandy Coppes-Martin, Richard “Specs” Ndimande, Tsoku Maela, Gina Waldman, Anastasia Pather, Jaco van Schalkwyk, Allen Laing, Rosemarie Marriott, Maja Maljević, Diane Victor
‘n Groepuitstalling wat die narratiewe aard van eietydse kuns verken. Die galery word ingespan as ’n narratiewe ruimte – die Latynse “in silva”, oftewel “in die woud” – as metafoor vir die samelewingsoerwoud waarin ons almal ons bevind. Dit is ’n ruimte met kruispaaie, padvertakkings en doodloopstrate waar mense kan verdwaal, en jy word gedwing om oor jou eie identiteit en jou perspektief op die wêreld te herbesin. Uiteenlopende kunsmediums soos sydraad, diervelle, hout, fotografie en verf word ingespan om die storie te vertel. Hoewel elke kunswerk ook sy eie verhaal in ’n spesifieke kunsmedium vertel, tree die werke binne die ruimte in gesprek met mekaar. So word die kyker dan betrek om deel te neem, om verbande te trek en die verhaal uit te pluis.


Klein Karoo op doek

Met Kobus Spies
As ’n genre-skilder van die Klein Karoo en ’n boorling van die omgewing mag Kobus Spies dié landskap en sy mense op doek vaslê. Die oënskynlik moeitelose aanslag vra ’n diepgaande studie van sy werke waarin hy met kleur en vorms die een juweel na die ander skep. Met ’n paar kwashale het hy die vermoë om skaduwees teen die Swartberge of ’n fietsryer op ’n grondpaadjie vas te lê asof tyd stilgestaan het. Die ontwerp (plasing van groot en klein teksture en vorms) dra by tot sy besondere aanslag. Vergeet van die huidige droogte en droom saam met hom, ervaar sy passie en liefde vir die streek. Die Klein Karoo sal weer so lyk.


’n Uitstalling van werke deur Willem Pretorius

Ligdag is ’n versameling skilderye deur Willem Pretorius, die skilder van Rosendal in die Vrystaat, wat onlangs heelwat aandag getrek het met sy landskappe met verwaarloosde swembaddens. In Ligdag is Pretorius se aanvoeling vir en waarneming van daglig op die landskap die samebindende faktor – van die nuanses van ligdag en die felheid van die lig van die middaguur tot die koelte van die laatmiddag. Dié verkenning van natuurlike lig – een van die onderliggende estetiese elemente in Pretorius se landskappe – kry gestalte in kleinerige olieverfwerke. Die versameling is byeengebring deur Johan Myburg.

Collecting Contemporary

Met Hanneke Benadé, Cobus Haupt, Colbert Mashile, Lionel Smit, Chris Diedericks, Keith Dietrich, Nel Erasmus, Robert Hamblin, Ronél de Jager, Walter Oltmann, Jaco Sieberhagen, Willem Boshoff, Frikkie Eksteen, Pat Mautloa, Wilma Cruise, Karin Preller, Louis Olivier, Zolile Phetshane, Mbongeni Buthelezi, Lehlogonolo Mashaba, Hannelie Coetzee, Peter Mammes, Banele Khoza, Mandy Johnston, Mandy Coppes-Martin, Manyatsa Monyamane, Nhlanhla Nhlapo, Ruhan Janse van Vuuren, Richard Smith, Benon Lutaaya, Judy Woodborne, Johann van der Schijff, Chrisél van der Merwe, Jan Tshikhuthula, Lindo Zwane, Patrick Seruwu Diane Victor, Justin Dingwall, Candice Kramer, Tsoku Maela, Collen Maswanganyi, Uwe Pfaff, Marco Cianfanelli, Marcus Neustetter, Dirk Bahmann, Stefanus Rademeyer, Heidi Fourie, Alex Trapani, Gina Waldman, Murray Turpin, Gordon Froud, Usha Seejarim, Nkhensani Rihlampfu, Cow Mash, Richard Ndimande, Jackie McInnes en Jaco van Schalkwyk

Collecting Contemporary is geïnspireer deur die kunskurator en -direkteur Teresa Lizamore se uitsonderlike blootstelling aan eietydse kuns. Dit kan gesien word as ’n narratiewe bestekopname van die afgelope drie dekades, van Lizamore se unieke reis in die bedryf van kontemporêre kuns. Gedurende die afgelope 35 jaar het Lizamore ’n gevestigde loopbaan in die bedryf opgebou: as galery-eienaar, kunskonsultant en kurator.

Gedurende haar tyd by Sasol (1982 tot 2009) het sy die Sasol-kunsversameling tot meer as 2 000 werke opgebou. Dié versameling word beskou as een van die beste versamelings van Suid-Afrikaanse kontemporêre kuns.

Buiten vir haar bydrae tot die Sasol-kunsversameling het sy terselfdertyd ook as kunskurator by Rand Merchant Bank – sedert 1989 – betrokke geraak. Sy is steeds in diens van RMB, waar sy hul kunsversameling van sowat 1 800 werke bestuur.

In 2000 het Lizamore begin met haar reis as ’n kommersiële kontemporêre kurator – ’n reis wat sy geniet – en in die proses het sy veral bekendheid verwerf as ’n mentor en iemand wat nuwe talent koester en ontwikkel.

Weens haar interaksie met kunstenaars deur die jare, wat nou in die kunswêreld gevestig is, het sy die geleentheid om met dié uitstalling dié kunstenaars se bydrae te vier, sowel as jonger, ontluikende kunstenaars wat deur Lizamore bekendheid verwerf het.

Lizamore was oor die afgelope 35 jaar die kurator van meer as 300 uitstallings van kontemporêre kuns en projekte, en sy het saam met van die mees gesogte Suid-Afrikaanse kunstenaars en intellektuele in die bedryf gewerk.

Collecting Contemporary wys hoe kontemporêre kuns moontlikhede vir herskepping ontsluit.

Deur haar keuse vir dié uitstalling bied Lizamore ’n blik op neigings, idees, genres en style wat kenmerkend is van kontemporêre kuns, soos verbeeld deur ’n wye spektrum van kontemporêre kunstenaars. Die uitgangspunt was om gerekende kunstenaars te kies wie se artistieke uitdrukking by die narratief van die uitstalling inskakel. Die werke sluit in dié van bekende kunstenaars, dié wat in die middel van hul loopbaan is en nuwe kunstenaars in die bedryf.

Die name van die deelnemende kunstenaars kan voorsien word, sowel as foto’s van hul werk.

Met kunsmediums wat wissel van skilder- en tekenkuns tot drukkuns en beeldhouwerk word onderwerpe belig wat die kyker aanmoedig om stil te word en te peins oor ’n wyer lewensbestaan – iets waarvoor ons dikwels nie tyd inruim nie.

Met Suid-Afrika se kreatiewe talent, en nuwe kunstenaars wat gedurig na vore kom, is die doel van die uitstalling om ’n geskiedenis van drie dekades vas te vang en om kykers ’n diepte-blik op Lizamore se reis deur die wêreld van kontemporêre kuns te gee. Collecting Contemporary gee aan die kyker ’n oorsig van kontemporêre kuns oor die afgelope drie dekades en hoe dit ontwikkel en verander het.

Kontemporêre kuns kan kritiese konseptuele boodskappe oordra en vereenvoudig. Met die kontras tussen toe en nou kan die kyker bepaalde narratiewe met mekaar vergelyk.


Om te maak – ’n huldeblyk

n Uitstalling van die werke van sommige van ons land se mees gerespekteerde kunsonderwysers. Almal is sowel dosente en kunstenaars, maar in sommige gevalle het hul kuns agterweë gebly omdat hulle te besig was om hul lewens toe te wy aan hul studente, waarvan verskeie internasionale status bereik het. Hulle het oor die jare heen ’n ongelooflike impak gehad op dié wat hulle onderrig het – deur hul benadering tot kunsmaak, hul tegniek, hul manier om probleme op te los, hul werksetiek, hul wysheid en insig onbaatsugtig te deel. Hulle het die lewens van hul studente gevorm en gerig, die manier waarop hulle na die wêreld kyk, daaroor dink en dit verander, en het hulle dikwels op ’n nuwe lewensweg geplaas.


Orb of Perception

Met Nicola Taylor
Orb of Perception is ’n plekspesifieke installasie wat die bestaan van ’n objektiewe werklikheid ondersoek. Almal kyk deur ’n subjektiewe bril, maar wat sal gebeur as ’n mens dit kon afhaal? Verbeel jou dit vir ’n oomblik … Dié kunswerk is die verkenning van ’n begeerte, ’n versugting na die absolute waarheid. Is objektiewe waarneming moontlik? Is dit moontlik om die subjektiewe saam te voeg? Sal ons dan die waarheid vind? Sal daar enigsins iets oorbly? Ons DNA en elke oomblik van ons lewe van geboorte af tot waar ons nou is, is die somtotaal van wie ons is, en elkeen is uniek. Die diversiteit word gevier, maar die skadukant is ook teenwoordig. Hoe sal die wêreld lyk sonder ons subjektiewe beskouings? Dalk bly net die eensoortigheid oor wat ons almal aan mekaar verbind. Maak jou oë toe en verdwyn. Is daar ’n goddelike lig wat ons almal verenig?


Spun

Met Mandy Johnston
Deur middel van beeldhouwerke en ondersteunende werke ondersoek Johnston die herhalende aard van patrone, gebeure, temas en argetipes, wat in die proses van die herbesoek meer kompleks word en groter waarde kry. “Ek stel belang in die kontekstuele waardes, definisies en simboliek wat aan iets geheg word. Dat dinge dikwels gedefinieer word deur die antitese, dat die waarde bepaal word deur die bedreiging van die afwesige. Pyn en vrees word gekoppel aan die afwesige. Die afwesigheid van iets wat eens ’n ruimte gevul het, letterlik en figuurlik, skep ’n nuwe, oop en kwesbare ruimte wat geabsorbeer, gebruik, geïgnoreer, bespreek kan word. My werk verwys meestal na ’n spesifieke geskiedkundige en kulturele konteks.”

Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google