fbpx

Visuele kuns

KKNK2020 Visuele Kunskurator – Dineke van der Walt
KKNK2020 Feeskunstenaar – Barbera Wildenboer

Visuele
kunsgesprekke

Dineke van der Walt, KKNK2020 se visuele kunskurator, tree daagliks om 11:00 in gesprek met die visuele kunstenaars en kurators wat by die fees uitstal. Elke gesprek fokus op ’n relevante tema wat dialoog tussen verskillende uitstallings aanwakker. 
Afrikaans en Engels l Gesin l 60 min. l Gratis
Prince Vintcent-gebou
Daagliks om 11:00

Visuele 
kunsgesprek-temas

Dinsdag, 24 Maart: 
E(art)h Materials: Tracing connections between the earth, art and art materials 
Woensdag, 25 Maart:
Unearthing the sensory experiences of art
Donderdag, 26 Maart:
Inscribed landscapes
Vrydag, 27 Maart: 
Environmentalism: Art, responsibility and belonging 
Saterdag, 28 Maart:
Exploring modes of collaboration and exchange 
Sondag, 29 Maart:
Environmental aesthetics: The human interaction with the natural world

Visuele kunste se tema vir 2020: Plat op die aarde / Down to earth 

Die uitbeelding van landskappe, botaniese onderwerpe en stillewes is ’n deurlopend gewilde tema in kuns. Alhoewel kunstenaars telkens hul onmiddellike omgewings verbeeld, spreek die verskeidenheid van benaderings wat kunstenaars inspan tot uiteenlopende sieninge van die mens se verhouding met die natuurlike wêreld.  

Met die groeiende omgewingsbewustheid wat veral sedert die 1960’s ontwikkel het, lê bewegings soos landkuns veral klem op die bewusmaking van ekologiese kwessies deur middel en met behulp van kuns. Hierdie bewegings se fondamente lê in die besef dat kuns die vermoë het om as hulpmiddel te dien vir die besinning oor, bewusmaking van en gesprekvoering rondom natuurkwessies. Dit lei tot ’n heroorweging van die mens se verhouding met en verantwoordelikheid jeens die natuur. 

Die huidige tydsgees word gekenmerk deur onder meer ’n groter klem op klimaatverandering, globale omgewingskwessies, besoedeling en die verantwoordelike gebruik van natuurlike hulpbronne. Kunstenaars se bydrae tot die gesprek wissel van werke wat op spesifieke aspekte van die natuur fokus om die aandag daarop te vestig tot werke wat die mens se impak op die natuurlike omgewing blootlê en ten toon stel.  

Plat op die aarde / Down to Earth as ’n breë tema vir die visuele kuns vir KKNK2020 en skep die geleentheid vir ’n verskeidenheid van stemme en uitbeeldings wat om die natuur wentel en die kwessie van die mens se verhouding met die natuur aanraak. 

Visuele kuns: Rondleidings

Dineke van der Walt neem feesgangers op ’n rondleiding deur KKNK2020 se uitgebreide kunsuitstallings en vertel meer van die werke en die kunstenaars.

Afrikaans en Engels l Gesin l 60 min. l Gratis | 
Prince Vintcent-gebou
24 Maart 15:00, 27 Maart 15:00, 28 Maart 15:00, 29 Maart 15:00

#CreativeChange
MET Mpumelelo Pro Thusi, Olivier, Vincent Osemwegie, Janko de Beer, Jaco Kruger en Nanette Ranger KURATOR Madeleine Beyers 
GALERY MAD Leadership Foundation

Verander die wêreld met kreatiewe denke met een gedagte op ’n slag. Bly naby aan Moeder Natuur en luister aandagtig en sy sal jou lei. Maak gebruik van wat sy jou bied, en let op na dít waarvan sy nie hou nie. Om verbruik te verminder, te hergebruik en te hersirkuleer moet jou motto in die lewe wees. Help haar om asem te haal. Hou vas aan jou wortels terwyl jy leer hoe om jou vlerke te sprei, en jy sal die weg vind.

A Land I Name Yesterday
MET Jaco van Schalkwyk, Jenna Burchell en Wayne Matthews GALERY Barnard Galery

Van Schalkwyk, wat bekend is vir sy groot en uiters bedrewe olieverfskilderye van onder meer die “interieur” van woude en oerwoudruigtes, se meesleurende skilderdoeke is tegelykertyd asembenewend en ontstellend. Hierdie sielkundig gelaaide ruimtes, wat in ’n oorwegend monochrome palet weergegee word, dien by hierdie geleentheid as sowel die anker as die agtergrond van Burchell se vernuftige klankbeeld-ingrypings.
Burchell word erken vir haar meesterlike samesmelting van mediums en sensoriese klankpalette. Vir hierdie samewerkingsprojek brei Burchell haar repertorium uit om die “gedagtebeelde” van Van Schalkwyk en Matthews te betrek. Nadat sy hul breingolwe met behulp van ’n EEG-toestel gedokumenteer het, het die kunstenaar klankbeelde geskep van hul ervarings wat nou “spookagtig deur die tentoonstellingsruimte” vloei. Benewens die klankbeelde, werk Burchell met saamgeperste koolstof, ook ’n produk van bome, wat ’n spookagtige installasie van driedimensionele swart bome daarstel.
Matthews se noukeurig vasgehegte collages – rekonstruksies van Duitse houtsneë van die 19e eeu van bome en boslandskappe – skep ’n uitstekende dialoog met Van Schalkwyk se kontemporêre vergesigte. Saam verken hulle ’n soortgelyke taal, hoewel deur kontrasterende idiome. Matthews se werke het ’n historiese klem wat visueel die eienskappe en kenmerke van klassieke kaarte oproep. Met sy verbintenis tot “veranderende beelde” sny die kunstenaar hulle letterlik op en herbou hulle en vul die gerekonstrueerde beelde gevolglik met ’n brose skoonheid.
A Land I Name Yesterday ondersoek liminale ruimtes, veranderende landskappe, konsepte van bewaring en wat as “Kontemporêre Romantiek” beskou kan word. Van Schalkwyk, wat hierdie samewerkingsprojek aangevoor het, gee ’n opsomming van hul gesamentlike doelstellings: “Ons skep ’n nuwe land, ’n nuwe wêreld.”

An Ode to Moloch in Plato’s Cave
MET Dirk Bahmann, Wayne Matthews en Alison Shaw GALERY Labyrinth

Die naderende omgewingskrisis is die afloop van ’n reduksionistiese, meganistiese wêreldbeskouing wat al eeue lank sentraal in die denke van die mens staan. Hierdie paradigma dryf steeds die vernietigende verhouding van die mensdom met die omgewing voort, al is ons op die punt van ekologiese ineenstorting. Hierdie werk probeer om ons kollektiewe skaduwee weer te gee. Want sonder om dit te sien, kan ons dit nie takel nie, en sonder om dit te takel, sal hierdie skaduwee aanhou om ’n buitensporige opoffering te eis, een wat die planeet nie langer kan bekostig nie.

Another kind of Blue
MET onder andere Kate Jo Arthur, Lynda Ballen, Olivia Botha, Heidi Fourie, Roxy Kaczmarek, Sbongiseni Khulu, Maja Maljević, Robyn Penn, Elizaveta Rukavishnikova, Johan Stegmann, David Koloane, Zhi Zulu en Claire Zinn KURATOR Amé Bell GALERY David Krut Projects

Another Kind of Blue is ’n groepuitstalling van werke op papier, beeldhouwerk, skilderkuns en installasie deur kunstenaars wat medewerkers was of betrokke is by David Krut Projects in Johannesburg. As ’n opvolg op die groepuitstalling Kind of Blue (2019), wat ’n ondersoek gedoen het na die kleur blou en sy kaleidoskoop van skakerings en betekenisse, het kunstenaars werke binne dieselfde kleurspektrum vir hierdie tweede weergawe gelewer, en ’n fokus bygevoeg op kuns en die kunstenaar se verbinding met die aarde en sy elemente.
Die klem op blou word hoofsaaklik toegelig deur die elemente water en lug, twee belangrike komponente wat deurslaggewend is vir lewe op aarde. Die visuele tema in hierdie konteks is ’n wegspringplek vir kunstenaars om van te werk, nie net om letterlik groot watermassas of ’n helder, wolklose lug weer te gee nie, maar ook as ’n manier om perspektiewe en gevoelens wat met blou verband hou uit te druk.

Barbara Wildenboer: ’n Retrospektief (feeskunstenaar)
MET Barbara Wildenboer
GALERY Everard Read

Hierdie retrospektiewe uitstalling bied ’n formele en tematiese oorsig van Barbara Wildenboer se laaste tien solouitstallings. 

Wildenboer werk op ’n interdissiplinêre wyse, en gebruik gevonde boeke en rou materiaal vir beeldhouwerke, collage, papier-installasies en digitale animasie. Deur ’n kombinasie van analoë en digitale prosesse skep sy werk wat ondersoek instel in fenomene soos temporaliteit, fraktale geometrie en die interkonneksie tussen alle lewende organismes.  

Wildenboer ontbloot die verwantskap tussen verskeie lewensvorms – vanaf mikroskopies tot massief. Haar hooffokus is op omgewingsestetika. Sy beskou dit as iets wat nie slegs ons natuurlike omgewings behels nie, maar as iets wat ook betrekking het op ons menslike interaksie met die natuurlike wêreld. 

Boekwerke uit Wildenboer se grootskaalse en aaneenlopende projek getiteld Library of the Infinitesimally Small and Unimaginable Large (sedert 2011) vorm deel van die uitstalling en behels die gebruik van die biblioteek as ’n metafoor vir die heelal. Die reeks is geïnspireer deur ’n kortverhaal van die Argentynse skrywer Jorge Luis Borges, getiteld “The Library of Babel”. Deur die boekwerke maak Wildenboer ook verwysing na die verwantskap tussen tegnologie en die natuurlike omgewing en skep sy visuele metafore wat spreek van ’n gevoel van verwondering ten opsigte van die gekompliseerde skoonheid van patrone in die natuur.  

Haar keuse van boeke word nie slegs deur fisieke eienskappe soos tipografiese uitleg, grootte en papiergehalte bepaal nie, maar meer spesifiek deur die inhoud en temas van die boeke. Die boeke, sinne, woorde en letters word omskep in elemente van ’n nuwe visuele teks waarin die ou en nuwe narratief saam bestaan en dit gee aanleiding tot ’n speelse aspek van een verwysing wat binne ’n ander verwysing opgesluit word. 

Deur mediabeelde en inligting uit verskeie bronne saam te voeg, skep Wildenboer alternatiewe werklikhede. Die driedimensionele papierwerke weerspieël hoe die mensdom geraak word deur globalisering, ekonomiese oplewings, politieke korrupsie, oorloë, epidemies en natuurlike rampe. Die collages bied ’n bespiegeling oor die moderne menslike lewe en die kwesbaarheid van die simbiotiese verwantskap tussen die mens en ekologie – ’n verhouding wat gekenmerk word deur verbruiking, vermorsing en ’n gevoel van diskonneksie met die natuurlike wêreld.

Birds of a feather 
MET Lisl Barry

Die inspirasie vir hierdie werke was toe die kunstenaar Lisl Barry by meer as een geleentheid die vlug van plastieksakke hoog in die lug vir voëls aangesien het. Alhoewel hulle bekoorlik mooi in hul dans was, het die besef dat dit eintlik plastieksakke was, dit weer tot haar laat deurdring wat die uitwerking is wat ons mense op ons omgewing het. Dit strek diep en wyd. En hoe onbewus ons skynbaar is oor die rol wat ons daarin speel. Ons is deel van die natuur. Maar ons tree dikwels op asof ons apart daarvan is. Los daarvan is.
Hierdie skilderye is ’n visuele heen-en-weer-spel tussen ’n swerm voëls en ’n swerm plastiek, met die hoop om vrae te vra, oor hoe ons ons individuele rolle sien wat ons in ons leefstylkeuse speel en hoe ons die natuur uit die pad te stamp. 

Karoostories 
MET Sarel van Staden en Maryna Cotton

“As kunstenaars en visuele storievertellers word ons geïnspireer en gedryf deur die skeppende gebruik van lig – die spreekwoordelike verfkwas vir ons werk. Die omslagwerk wat ons onlangs vir die internasionale uitgawe van National Geographic gedoen het, asook die samewerking met Coenie de Villiers en Deon Meyer vir Karoo Suite 2: Karoonagte, het ons weer eens die geleentheid gegee om ons visier te rig op die volmaakte skilderdoek: ons geliefde Karoo, die maan en die sterre. Hierdie versameling verken en belig die dikwels skugter vorme, teksture en stories van die oeroue Karoo-landskap.”

Kicking up Dust 
MET Colin Meyer, Earlyn Cloud en Zietske Saaiman GALERY Absa Galery 

Drie kunstenaars van Oudtshoorn, wat verlede jaar deel van Absa se mentorprogram was, bring in Kicking up Dust ’n uitstalling byeen wat ’n emosionele en sensoriese reaksie is op die gevolge en die belewenisse van die droogte in die Klein Karoo. Dit is in wese reeds ’n droë landskap wat deursettingsvermoë en volharding van die landbougemeenskap verg, wat grootliks bydra tot ’n volhoubare ekonomie in die plaaslike omgewing. Elke Oudtshoorniet se lewe is verweef met wat die omgewing bied. Met die lang droogte wat die gebied teister, maak die kunstenaars gebruik van verskeie tekentegnieke en materiaal uit die onmiddellike omgewing om ’n gemeenskaplike reaksie uit te lok. Maar die plaaslike is ook deel van die globale prentjie van hoe klimaatsverandering almal raak.

Nesting 
MET Colin Meyer, Earlyn Cloud en Zietske SaaimanGALERYAbsa Galery 

Seerjarim se installasie is geskep uit die koppe van grasbesems wat uitgestal word as ’n versameling van perdebyneste of openinge wat dui op huise, nessies of blyplekke, terwyl dit ook verwys na die kuns van handgemaakte besems. Hoewel haar werk gewoonlik aspekte van arbeid en huislikheid deur die gebruik van huishoudelike items verken, lewer Nesting ook kommentaar op die konsep van die menslike huis binne die konteks van die groter ekostelsel.

The Possibility of a Title
MET Manyaku Mashilo KURATOR Tammy Langtry 

The Possibility of a Title is ’n reeks intieme, abstrakte tekeninge deur die kunstenaar Manyaku Mashilo. Dit plaas ’n vraag oor die verhouding wat die figure met hul omgewing het – omgewing, tyd en geografie versmelt op die kunstenaarsblad met abstrakte lyne in goud en silwer.
Dit is ’n gevoel, ’n stemming en ’n besef van nostalgie wat die beeld in die kyker se gedagtes vestig. Vir Mashilo verteenwoordig die titels van haar werk werkwoorde, handelinge vir die figure en vorms om te volg en te verwerk. Hulle oefen ’n beweging op die werk uit met ’n lewenslustige verbinding met die voorouers en figure, sowel bekend as onbekend, en die skep van ’n tuiste.
Die lyne en vorme skep ’n voortdurende verhouding met topografiese patrone en konstellasies om die dimensies van tyd en die verhouding tussen ons perspektiewe en ons visie te meet.
Mashilo se werk opper talle vrae oor die toestand van die huis, wat kon voortgeduur het, verlore gegaan het, gebly het of weg is.

Vanishing Act
MET Gawie Joubert, Ian Marley, Keneilwe Mokoena, Ronél de Jager, Kobie Nieuwoudt, Jo Roets, Katrin Coetzer, Adele van Heerden, Cathy Layzell, Maria Lebedeva, JP Hanekom en Jan Tshikhuthula KURATOR Suen Muller

Vanishing Act plaas die fokus op die skoonheid van loof en plantegroei. In die lig van klimaatsverandering is die plantlewe vinnig besig om te verander. Terwyl sekere plantspesies uitsterf, pas ander aan om te oorleef in die al hoe warmer klimaat op aarde. Nie net het dit ’n invloed op ons biodiversiteit nie, dit beteken ook dat landskappe en plantegroeitonele in die toekoms sal verander.
Hierdie uitstalling se oogmerk is om die brose skoonheid van verskillende soorte plantlewe visueel vas te lê, terwyl kommentaar gelewer word op die uitwerking wat klimaatsverandering op ons biodiversiteit het en nog sal hê. Vanishing Act vra dat kykers betrokke te raak by die kunstenaar se indrukke van verskillende vorme van plantlewe en dien as ’n tydkapsule en ’n aandenking wat die plantlewe herdenk soos ons dit vandag ken.

Die volgende uitstallings van Absa is nie by die Prince Vintcent-gebou nie en die werke is ook nie te koop nie. 


1900 to 1949
KURATORS Dr. Paul Bayliss en Tlotlo Lobelo GALERY Absa Gallery
1900 to 1949 is ’n versameling werke uit Absa se korporatiewe versameling wat ’n ongewone visuele narratief van ’n vroeëre Suid-Afrika bied, waarin kunstenaars probeer het om ’n betrokkenheid by en die soeke na die wese en identiteit van Afrika te verbeeld. Dié vroeëre werke getuig van die verbondenheid aan en die invloed van Europa, vergeleke met latere kunswerke wat die eerste tekens toon van ’n proses van losmaking en ’n sielkundige wegbreek van Europese wortels. 1900 to 1949 sluit ’n versameling van werke in van W.H. Coetzer, Francis Eriksson, Allerley Glossop, Adolph Jentsch, Wolf Kibel, Maggie Laubser, Erich Mayer, Pieter Naudé, Frans Oerder, Alfred T. Palmer, J.H. Pierneef, George Robinson, Clément Sénèque, Frank Spears, Irma Stern, Anton van Wouw, Jan Volschenk, Pieter Wenning en Florence Zerffi.
ABSA BURGERSENTRUM

Absa Maakit Mooi

KURATORS Dr. Paul Bayliss, Madeleine Miles en Tlotlo Lobelo 
GALERY Absa Galery

Die derde aanbieding van dié openbarekuns-installasieprojek van Absa, in samewerking met plaaslike kunstenaars en die munisipaliteit van Oudtshoorn, getuig van die sukses daarvan. Dit bied nie net vir feesgangers die geleentheid om kuns in die verskeie omgewings te ervaar nie, maar dien ook as ’n nalatenskap vir die gemeenskap. Dit is deel van Absa se inisiatief om geleenthede vir kunstenaars van Afrika te skep en hul verbintenis daartoe om gemeenskappe te betrek. Materiaal uit die omgewing word gebruik en die vaardigheid en kundigheid van plaaslike mense word ingespan om deel van die skeppingsproses te wees. Vir 2020 se uitstalling, in aansluiting by die oorhoofse kunstema, sal die werke hoofsaaklik gemaak word van herwinde materiaal en dit wat deel is van die plaaslike ekostelsel.


Ingange van Oudtshoorn

20th Century Pioneers
KURATORS
 Dr. Paul Bayliss en Tlotlo Lobelo GALERY Absa Galery

20th Century Pioneers is ’n uitstalling wat saamgestel is uit werke van Absa se korporatiewe versameling, met die fokus op sommige van Suid-Afrika se voorste kunstenaars uit die townships en uit landelike gebiede. Deur hul werk bied die onderskeie kunstenaars vir die kyker ’n blik op hul alledaagse ervaringe.

Absa-tak, Hoogstraat

Privacy Settings
We use cookies to enhance your experience while using our website. If you are using our Services via a browser you can restrict, block or remove cookies through your web browser settings. We also use content and scripts from third parties that may use tracking technologies. You can selectively provide your consent below to allow such third party embeds. For complete information about the cookies we use, data we collect and how we process them, please check our Privacy Policy
Youtube
Consent to display content from Youtube
Vimeo
Consent to display content from Vimeo
Google Maps
Consent to display content from Google