Wysheid tot komedie deel van KKNK se Virtuele Absa Kuierkamer

Die program van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se heel eerste Virtuele Absa Kuierkamer gaan kykers van nou tot November met onderwerpe van wysheid tot komedie vermaak.

21Lewenslesse | 21 Life Lessons is ’n voortsetting van die 21-jarige Thembalethu Seyisi, ’n finalejaar-regstudent aan die Universiteit Stellenbosch, se spesiale boek wat hy ter viering van sy 21ste verjaarsdag gepubliseer het. Dié boek is saamgestel uit lewenslesse gemik daarop om jongmense te inspireer en te bemagtig.

“Ek het 21 suksesvolle mense wie ek bewonder genader – van hoë-profiel individue tot persoonlike helde en familielede – en hulle gevra om lewenslesse of insig te deel wat hulle wens hulle op 21 gehad het,” sê Seyisi. Hy het ook besluit om die opbrengs uit dié boek aan twee sake waaroor hy passievol is, te skenk.

Hugo Theart, artistieke direkt eur van die KKNK, sê: “Dié inspirerende projek het die KKNK se aandag getrek en na ’n gesprek met Themba het ons besluit om dit uit te bou en te ondersteun deur inspirerende Suid-Afrikaners te verfilm, waar hulle hul lewenslesse met ander deel,” vertel Theart.

Theart meen dat ons nou, meer as ooit, wysheid en inspirasie nodig het. “Ek hoop dat hierdie reeks, wat gratis aanlyn beskikbaar is, mense in die moeilike tye moed gee en dat dit deur die Suid-Afrikaners wat deel is van die reeks, hoop bring en mense aanspoor om ’n beter samelewing vir almal te skep. Dit is ’n voorreg om met hierdie uitsonderlike Suid-Afrikaners te gesels. Themba is ook ’n inspirasie en definitief een van ons leiers van môre. Ek hoop dat dit sy fondsinsamelingspoging aanhelp,” voeg Theart by. Die fondse van die boekverkope van 21 Life Lessons @21 word onder meer geskenk aan #Action4Inclusion, ’n fonds vir studente aan die Universiteit Stellenbosch om studiegelde te help dek. Die projek word ook ondersteun deur die Suidoosterfees.

Vir die eerste opnames as deel van die Virtuele Absa Kuierkamer, is individue soos Diana Ferrus (skrywer en digter), Sandra Prinsloo (akteur), Marthinus Basson (teaterregisseur), prof. Rachel Jafta (lektor en filantroop), Anna-Mart van der Merwe (akteur), Annelize van der Ryst (akteur), Soli Philander (akteur en aanbieder), Martie Meiring (joernalis) en Frazer Barry (musikant) gevra watter lewensles(se) hulle geleer het, wat hulle met hul jonger self sou wou deel, indien hulle kon.

Verder tot hierdie woorde van wysheid bring die KKNK ook komedie na jou sitkamer as deel van die Virtuele Absa Kuierkamer se program. “Om te lag is noodsaaklik en dit is die beste medisyne vir donker tye. Daarom het ons komediante en storievertellers soos Rob van Vuuren, Conrad Koch, Shimmy Isaacs, Dana Snyman, Kagiso Mokgadi, Marion Holm, Alan Committie en Pietman Geldenhuys gevra om hul kort grappe of stories in Comedy Minutes met KKNK te deel,” vertel Theart.

Nuwe sketse en stories word weekliks gratis op die KKNK sosiale mediaplatforms en die Virtuele Absa Kuierkamer gedeel. Die Virtuele Absa Kuierkamer word oor ’n tydperk van drie maande tot einde November 2021 aangebied met ’n verskeidenheid gratis vermaak wat by www.kknk.co.za ontdek en geniet kan word.

Die KKNK word ondersteun deur ABSA en Media24, met bykomende steun van Het Jan Marais Nationale Fonds, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), die Departement van Kultuur en Sport: Wes-Kaap, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA), die Jannie Mouton-stigting en die L.W. Hiemstra Trust.

Deel op facebook
Facebook
Deel op twitter
Twitter
Deel op linkedin
LinkedIn
Deel op whatsapp
WhatsApp
Deel op email
Email

Gesels saam

Mandjie 0

Teken in

Maak 'n rekening oop

Your personal data will be used to support your experience throughout this website, to manage access to your account, and for other purposes described in our privaatheidsbeleid.

Wagwoord herwinning

Het jy jou wagwoord vergeet? Voer asseblief u gebruikersnaam of e-posadres in. U sal 'n skakel ontvang om 'n nuwe wagwoord per e-pos te skep.