Hemelruim bring splinternuwe musiekkonsert na Oudtshoorn 

Hemelruim, ’n splinternuwe opelug-musiekkonsert, word Saterdagaand 10 Oktober op Oudtshoorn aangebied. 

Facebook
WhatsApp
Twitter
Email

Spoegwolf, Tasché en Oudtshoorn se eie Noemwoord deel die verhoog vir ’n woestyn-disko onder die Klein Karoo-sterre. Hierdie konsert is ’n nuwe toevoeging tot die Klein Karoo se gebeurteniskalender en beloof om ’n onvergeetlike aand te wees. 

10 Oktober is ’n bedrywige dag in die Klein Karoo, met besoekers van ver en wyd wat in die oggend aan De Rust se Optimum Meiringspoort-halfmaraton deelneem. Na ’n rustige middag van herstel, is Hemelruim die ideale geleentheid om die dag se aktiwiteite op ’n hoë noot af te sluit: Hardloop in die oggend, kom sing en dans in die aand. 

Hemelruim vind plaas by die Oudtshoorn Sportgronde (REC). Hekke maak om 17:00 oop, met die musiek wat vanaf 18:00 begin. Soos die son begin sak begin die woestyn-disko met die klanke van uiteenlopende musiek.

Spoegwolf, een van Suid-Afrika se gewildste Afrikaanse rockgroepe, bring hul kenmerkende energie en treffers na die verhoog. Saam met Tasché se unieke stem en kontemporêre klank en Oudtshoorn se eie Noemwoord, wag ’n uitsonderlike aand op die gehoor. 

Kaartjies vir Hemelruim is aanlyn beskikbaar by Computicket, Checkers-, Shoprite- of Usave-winkels en die KKNK se kantoor op Oudtshoorn. Kaartjies wat vooraf gekoop word, is goedkoper as op die dag by die hekke. 

Verversings is tydens die konsert beskikbaar met kroegfasiliteite en verskeie opsies vir eetgoed. Vir meer inligting, besoek hemelruim.co.za, stuur ’n e-pos na sterre@hemelruim.co.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Hemelruim word aangebied deur die KKNK. Volgende jaar se KKNK word van Dinsdag 23 tot Saterdag 27 Maart 2027 op Oudtshoorn aangebied.  

Photos attached: Spoegwolf, Tasché en Noemwoord deel die verhoog vir Hemelruim, wat op Saterdag 10 Oktober vir die eerste keer op Oudtshoorn aangebied word.